24 Mei 2008

Fluit fluit...

Oggend met Tanie Rika gekuier en N2 Kaap toe aangepak. Net na Riviersonderend na Stanford afgedraai om in Hermanus 'n laaste braai by Keith te maak. Wat 'n lekker vakansie en ervaring om 3 weke te breek met alles waaraan ons gewoond is. Gedagtes skoon te kry en die res van jaar verfris te kan ingaan. Dankie aan almal wat ons langs die pad ontmoet het en ons lewe verryk het. Ook ons Hemelse Vader wat ons oor die volle 4400km beskerm en geseën het!

23 Mei 2008

Oppad na George

Die oggend vroeg op om te gaan kyk na wetsuits. By die Billabong, RipCurl, etc fabrieks winkels gaan kyk. Toe by Jeep fabriek 'n broek en reënbroeke gekoop. Vandaar na waves gaan kyk, maar besluit dit is dalk beter om eerder te loop as om polse te sny oor die surfboards wat by die huis lê. Aangeskuif na Kareedouw en 'n koffie gedrink by die "Sweaty Dutchman"! Lekker plekkie, en goeie koffie. Veral sy Dutch Coffee Shake is ongeloooflik! Verder gesuiker verby Jubertina en via die Montagu pas na George. Vinnig by Vicbaai 'n draai gemaak voordat ons by Tannie Rika gaan kuier het. Nog 'n lekker stappie met die honde in die botaniese tuin ingewerk voor 'n heerlike aandete.

22 Mei 2008

via Grahamstad na Jeffereys

Vanoggend deur honde wakker geblaf. Opgestaan, gestort en ge-ontbyt. Fotos geneem van kampplek en gegroet. By die Inligting en Toeriste sentrum vir Tom en Sonja ontmoet en lekker oor wattles gesels. Blykbaar gee wattles stikstof aan die grond af. Na 'n pottery plek, die kerkie en die kleinste biblioteek in Suid Afrika. Verder via Ecca Pas na Grahamstad en in ou Transkei oulike plekkies soos "God is Great - haircuts" gesien. Kari wou nie hê ek moet my hare daar sny nie. Lekker op Grahamstad met Nico, Kari se neef, gekuier en gou by Rhodes Universiteit gaan kyk. Vandaar na Port Elizabeth toe en 'n bietjie langs die kus daar afgery. So net na 5:30 kom ons by Jeffereys Bay binne. Lekker vuurtjie in die munisipale kampeerterrein.... ZZzzz.....

21 Mei 2008

Barkley Oos na Hogsback

Wakker geword met nog 'n koei wat naby verby-asem. Ge-ontbyt en opgeruim. Af na die plaashuis en gegroet met koffie en lekker kuier. Via Barkley-oos, Cala en die Calapas. Whittlesea, Seymor nadat ons by die Nico Malan pas af is. By Seymor skerp links by die Hogsback bordjie. Nie te ver nie en daar is 'n "4x4's en bakkies only" waarskuwing.... maar ons ry mos 'n bakkie... Dit moes egter die teken gewees het, want weereens begin ons met 'n nuut geskraapte pad wat lekker ry. So 16km later loop ons egter ons rieme styf en laat ons grondvry hoogte ons in die steek! Hogsback moes omtrent net bo op die bult gewees het (2-3km volgens GPS). Dus, omdraai en die laaaang pad om darem net voor donker by die "Away with the Fairies" backpackers in Hogsback. Voor donker nog 'n stukkie kon rondloop. Die aand lekker gekuier. Ou van Bettiesbaai se backpackers ontmoet. Lekker Pizza, rooiw(as)yn en 'n warm kaggel, terwyl daar 'n donderstorm gevorm, neergedaal en weer verdwyn het binne 15min. Na die reen etc lekker in die bakkie ingekruip...Zzzz...

20 Mei 2008

Rhodes en omgewing

Vanoggend was Kari vroeg op. Fotos by die forel dam geneem, Ek was uiteindelik ook op en aan die gang. 8:00 gaan groet en so lekker met Jean gekuier dat ons eers 9:00 daar weg is. Die pad verder was baie mooi en Naude's nek was ongelooflik mooi. (Die Naude wat die pas gebou het is die oupa van die Naudes op Vrederus.) By Naude's nek het ons regs gedraai na Tenahead Lode en daar lank met Leon (die bestuurder) gesels. Die plek het 'n stunning uitsig en dit is gebou in die Scottish Highlands styl. Verder na Rhodes. Vinnig by die hotel gekoffie en op aanbeveling is ons op na Tiffendell. Dit is nogal 'n biellie van 'n helling oppad soontoe. Met bordjies wat o.a. se: "...and drive with confidence..." om jou aan te hits tot bo, wonder mens of daar nie een of ander hint is wat hulle vir jou op een of ander manier wil gee nie... Bo op die berg was daar nog nie sneeu nie. Bietjie met die bestuurder gesels en hulle hoop dat hulle daardie aand sneeu sou kry. So bietjie fotos geneem. O ja en het twee keer 'n boer wat sy skape na ander weiveld neem in die pad gekry. Eerste keer op Naudes pas en die tweede keer net onder Tiffendell se pas. (http://www.snow.co.za/webcam2.htm om te kyk of daar sneeu is). Verder is ons terug na Rhodes en het daar bietjie fotos geneem, voordat ons rigting Barkley Oos inslaan.
Onderweg draai ons af by die Steyns van die Caves, Piet en Dalena. Kari het so paar jaar terug ook hier afgedraai en het dit onthou. Piet verduidelik dat alle Steyns in Suid Afrika op een of ander manier familie, d.w.s. Steven op wie se plaas ons huur is ook famielie. Verder het Piet ook die kurrikulum geskryf vir die Technica Elektries HG wat ek op Drostdy gehad het. Natuurlik het hy al die onderwysers ook geken. Dan ken hy ook vir Peter Jan se pa, wie ek dan ken via die bergklub. Dit is regtig besonderse mense. Bo-en behalwe dat Piet die plaas boer (en vooruit daarby) het hy een van die skole in Rhodes op standaard gekry. Daar 'n sukses gemaak en toe is hy genader om Barkley Oos se skoolhoof te wees, waar hy tans ook baie doen. Mense wat so baie vir die samelewing gee. Regtig iemand wat dit nie vir erkenning doen nie, maar wat dit verdien!
The Caves was baie oulik. Dit is dit grootste grot wat vir kommersieele boerdery gebruik word in Suid Afrika. Ons het naby die grot kamp opgeslaan. Aandete gemaak en toe gaan hot-chocolate drink by die Steyns. Lekker gekuier. Ook ontdek dat hulle bolle aan Oak Valley verskaf! Wêreld is darem klein! So jip, na die lekker kuier het ons tussen die beeste in die veld gaan slaap! (En wakker geword van 'n koei wat met groot genoegdoening ons omgekeerde tafel skoonlek!)Lekker plaas! Zzzz..

19 Mei 2008

Cobham en Vrederus

Kari is weereens eerste op vanoggend... en baie besig: Besig om my uit die bed te kry!! Ons is 8:15 oppad na Pillar Cave. Wat 'n lekker stappie. Vol selfoon ontvangs noop my om vir Stefan te bel en geluk te wens met sy verjaardag. Verder ingestap met middagete breek by Pillar Cave. Oppad terug 'n paar snaakse mense gekry en groot Elande gesien. Vinnig gestort en oppad.
Fotos geneem lans die pad en by "The Duck and Do-Little" gekoffie.
(Nie aan te bevele nie. Mooi omgewing maar simpel plekkie vol kitch goeters soos plastiekpoppe. En hule vat nie kredietkaarte vir bedrae onder R50 nie, wees gewaarsku!)
Oppad na Matatiele. En dan op 'n pas geskraapte grondpad afgedraai na Rhodes. Die grondpad was slegter as wat ons gedink het en teen sononder (wat nou al so 5:30nm is) by Vrederus ingedraai en gehoop dat die Naudes vir ons 'n ou staan plekkie en water vir die aand het. Min wetend dat dit 'n forel plaas is met 'n paar chalets. Een van die chalets is toe nie die aand opgeneem nie en ons gebruik toe net die nodigste geriewe en slaap in die bakkie. Lekker gebraai die aand en lekker gekuier om die vuur! Die plekkie is baie oulik met omtrent alles waaraan ons kon dink in plek. Ook baie prakties ingerig.... Elkgeval....Zzzzzz....

'n Plekkie wat ons regtig kan aanbeveel:
http://www.linecasters.co.za/vrederus
juan@vrederus.co.za
(045) 932 1572

18 Mei 2008

Cobham

Vanoggend redelik laat weg uit die kamp. Dit was pragtig met die mis wat so teen 8:00 se kant lig. So net na 8:00 dus aan die stap. Al met die Pholeana rivier langs tot ons by die "shelter" kom. By die "junction" was daar lekker poele. Lyk omtrent soos hierdie animasie flieks se water wat so helder is tot onder op die bodem. Terug by die kamp net na middagete. Vinnig geeet en gestort. Oppad dan na Garden's Castle. Pragtige plekke langs die pad gesien. By Garden Castle is ons die enigste in die kampterein. So entjie gaan stap om die plek te verken. Paar fotos byMermaid pools geneem wat baie lyk soos Marblebaths. Die aand gebraai en uile, kraaie en jakalse gehoor!

17 Mei 2008

Midlands meander

Vanoggend eerste ding opgepak en aan die gang. By Escourt eers voorraad opgevul. Via Rosseta, Nottingham Road en Lotheni ge"meander". Hier en daar gestop vir fotos en gekyk vir arende. By Himeville in die Himeville Arms 'n baie groot lekker middagete geëet. (Sjoe ek is nou nog vol...) Verder gehoor dat ons dalk Sanie Pas in die bakkie nog gaan maak. In elk geval gedink dit sou lekker wees om Kari die pas net te wys van die onderste grenspos af. Pad was toe glad nie goed nie en ons het so paar kilometer van die grenspos tou op gegooi. Die pad was regtig sleg verspoel. Seker omdat hulle nou beplan om hom te teer en niks onderhoud gedoen het nie. (Toe ons omdraai, kom daar 'n Toyota-bussie taxi verby. Ons het dit nog sterk oorweeg om die volgende dag met een van hulle op te gaan, maar het toe maar besluit dat dit dalk nie die beste van planne is nie.) Dus omdraai en ons kamp die aand by Cobham. Ons stap so entjie oor die hangbrug en neem lekker fotos. Net genoeg sodat ons uitsien na more se stappie hier.

16 Mei 2008

Injasuthi kamp uitsorteer

Vanoggend is ons stapgenote soos gewoonlik eerste aan die ritsel. Ontbyt, oppak en stofie fix. Na so 8:00 is hulle oppad. Vir Bill en Gytha gekry wat dieselfde roete as ons gaan stap. Lekker getips en tricks. So stadig self ook aan die gang gekom en ons het kamp tent opgeslaan en goed opgehang en uitgesorteer.

Daar aan die gesels geraak met 'n onderwyser van die Hillcrest Christian Accademy se buitelug program. Hulle aksie maak mens nogal opgewonde oor die jeug en die atlternatiewe opleidings programme. Hulle was omtrent so groep van 30 kinders, almal so 12 jaar oud.

Ook die Kwa-Zulu Natal Parkeraad is ongelooflik. Alles is super skoon. Die mense is vriendelik en baie bilik geprys.

Kari het wasgoed gewas. Ons het verder goeters uitgesorteer, uitgedroog en weggepak vir die res van die reis. Na die vorige paar dae se aktiwiteite het die res van die dag so iets gegaan in die lyn van: Iets gedoen, dan weer bietjie gesels en lees en dan nog so ietsie gedoen.... Lui maar lekker! (Dit was nodig, want ons was STYF!) Die aand 'n paar trouts gebraai en Kari het altwee opgeeet.... Sjoe! (Nie aldag wat mens kan trout eet nie... )Ek kon nie eers 'n ou stukkie wors opkry nie...

Elkgeval... Lekker om so baie tyd hier by Injasuthi te kon deurbring!

15 Mei 2008

Injusthi stap: Dag 4

Hans was vanoggend vroeg aan die gang. Na ongeveer 12 ure se slaap is dit seker nodig om 'n slaggie op te staan.Ontbyt, koffie, kamp opslaan. Leslies pas redelik vinnig bereik a.g.v. Hans se insig om eerder bo-oor die nekkie te gaan i.p.v. onder om. Af was soos ek dit onthou: Baie erg! Af tot in die kloof het ons stadig voetjie-vir-voetjie gekruie. Dan deur 'n klomp bosse en dinge tot in die rivier bedding waar mens die cairn's mooi moes dophou. So net voor Marble Baths het ons 'n klompie elande gekry. Wow. Hulle was naby, so voor ek dit na 'n visser-man storie laat klink, se ek maar net weer dat hulle baie naby was! Wow! By Marble Baths lekker ge-gamebreak en vinnig geswem, slide, etc. Daarvandaan so vinnig as wat ons kan na die kamp, want die sonnetjie het al laag begin hang. (Gelukkig was dit volmaan.) 6:45 is ons daar! Vinnig aandete en so bietjie begin uitsorteer. Na omternte so 1500m se val was slaap nog nooit so geseënd nie!

14 Mei 2008

Injusthi stap: Dag 3

So bietjie laat begin, maar nog steeds vroeg genoeg. Het besluit om vandag kort te hou. Bo op Injasuthi Dome (of net so entjie van die piek af) het ons vir Hans gewag terwyl hy sy bril gaan soek tussen die duisende rotse... Dit het my 'n geleentheid gegee om vinnig die weer te bekyk. Daarna op na Mafadi - (3451m) Mafadi is die hoogste (berg of) punt in Suid Afrika. Hang net af van definisies en watter kaart mens in jou hand het, etc... Maar ek dink Dean verduidelik dit mooi in die link.). Karen lyk of die hoogte siekte haar nogal kwaai vang, maar soos ons haar ken druk sy deur. Bo op Mafadi sien ons 'n hele uittog van Basothos. Vinnige breek agter 'n wind skuiling terwyl ons hulle van 'n afstand dophou en wonder wat op dees aarde hulle doen? Met 'n "gap" in hulle prosessie skuif ons aan na 'n stunning view op Injusuthi Greater. Gaan kamp opslaan, maar was toe bietjie te entoesiasties en moes weer terug na die ander kant van die rug. Oor die volgende nekkie en kontoer naby die kamp plek vir middagete. Van daar af zig-zag ons na die vallei waar ons kamp opslaan so 'n paar 100 meter daarvandaan. (Dit was luuks, reg langs 'n rivier, eerste keer op die stap wat ons so naby aan water staan. Natuurlik bietjie wasgeleentheid, baie vinnig, want die water was YSKOUD!) Begin later stadig aandete maak. Magies vol... ogies toe. Zzzz....

13 Mei 2008

Injusthi stap: Dag 2

Begin omtrent so 9:00 stap en is so 10:00 by die onderkant van "Corner pass". (Ek het nie geweet HOE ons hier gaan opkom toe ons daar sit en opkyk nie. Dit lyk van onder af net soos 'n donker skeur in die berg wat reguit op gaan, en of daar nie 'n MANIER is wat mens dit sonder 'n tou kan doen nie. Moet se ek was nogal bekommerd. k) Begin stap na 'n game-break en bereik die vernouing teen so 11:30. (Soos mens nader stap, trek die skaduwee bietjie weg en maak die vallei bietjie oop en lyk dit effens minder erg. k) Baie mooi en styl! (Daar was so 3 erg stukkies waar ons mekaar moes help, sakke aangee en so. k) Ons was bo teen 14:00 se kant. Ons sien Basotho's onder met hulle beeste. Stap langs die "Red-" en "Trojan wall". Oppad na die nekkie by Injasuthi-dome kry ons twee Basotho's. (Van hulle het ons 'n rukkie lank gevolg, en dit het ons so 'n bietjie laat stress. Later opgesplit en 2 het na ons toe gekom. Hulle soek toe "matcheees" ) Groet en gee vir hulle 'n lighter en iets om te eet. Karen het bietjie hoogtesiekte gekry en het nie baie lekker gevoel nie. Gelukkig het ons Injasuthi Summit Cave redelik maklik gekry. Dit is 'n ongelooflike grot. Baie plek. Droog en uit die wind! Lekker die aand kos gemaak en gekuier. Op die spyskaart was Bacon Kips en Biltong. Net soos ons gaan slaap hoor Kari 'n sneeu rot! (Ek het nogal gevra of daar goete is wat kan knaag, en is verseker dat dit te hoog is! )Pak toe alles maar dubbel goed weg...Poot uit gaan slaap.... Zzzz....

12 Mei 2008

Injusuthi stap: Dag 1

Begin 7:00 om alles op te pak. Teken in. En kom eers 9:00 weg. Stap in die rigting van Battlecaves en draai links net na die Marblebaths afdraai. Hou lekker gamebreak oppad na die "bult". Verwar toe 'n padjie met die "bult" maar kry dit op die ou-end toe ook reg. Stap verder aan en kry 'n lekker padjie verder op na Centenary hut. Oppad boontoe kry ons 'n paar Elande wat aan die ander kant van die vallei wei. Voor donker by die hut aangekom en onsself tuisgemaak. Die hut is nie in 'n goeie toestand nie, maar bied wel goeie skuiling teen die sterk wind wat gewaai het. Lekker kos gemaak. Kari het maalvleis gedroog wat baie lekker was...(ons stapgenote het tent opgeslaan, maar ons het op die stoep gekiep, want Riaan slaan nie 'n tent op as dit nie nodig is nie...;-) Die nag erg hard gewaai. Gelukkig was ons knus in ons dons, met rugsakke wat darm 'n skans teen die ergste wind bied. k)

11 Mei 2008

Cathedral se Rainbow Gorge


So 8 uur kamp opgepak en vinnig Rainbow Gorge gaan stap. 'n Pragtige inheemse woud met die ongelooflikste bos gevoel. Baie fotos geneem (maar in bosse moet mens, want hulle kom nie gewoonlik uit nie). Lekker rustig. Terug by die parkeerterrein van die Didima hotel amper op 'n klein slang getrap.(Die vorige keer toe ek my man SO sien spring het, was toe 'n likkewaan vir hom hoezit gese het op die Visrivier!k) Uitgeteken. Kamp toe. Stort. Oppak en Injasuthi toe. Hans en Karen aangekom en ons het so laaste paar stap goeters uitgesorteer. Lekker gebraai voor ons die lekker stap aanpak! (Ek en Karen het met groot vreugde die bord by die kantoor gesien wat trout adverteer, en ons moes opsluit gaan hoor of hulle vir ons 'n paar het. Gelukkig het hulle nog 2 gehad, en Hans het dit besonder lekker vir ons gaargemaak. Terwyl die mans 'n worsie en 'n braaibroodjie geniet het, het ons omtrent die vissies se grate afgelek. Dit is nie aldag wat mens trout kry nie, en teen R14/vis proe dit nog soveel lekkerder! Dit was die nag so koud dat die sak ys wat Hans op die gras uitgegooi het, die volgende oggend nog net so ongesmelt gele het! k)

10 Mei 2008

Cathedral kontoerpad



Vanoggend so teen 6:00 of 6:30 op en aan die gang. Gesukkel om ons eerste keer se basiese stap goed uitgesorteer te kry. Darem voor 8:00 by Ndidima hotel om ons ekstra 5km by die stap te voeg vir die inteken van die berg register. Seker nodig, maar wat 'n eindelose "slog". (Dis omrent 500 m se stap teen 'n bult op tot by die hotel waar mens die bergregister moet teken, dan weer daar af, en dan 4 km teerpad tot by die ou hotel waar mens met die stap begin. Dit is nog ok as mens nog vars is in die oggend, maar daai 4 km teer was 'n killer die middag toe ons klaar gestap het! k) By die haarnaald by Cathedral Peak Hotel begin ons uiteindelik die berg bestyg. Lekker lekker! Op die klein berg verby Shermans Cave. Bo op die klein berg sien ons vir Cathedral Peak, die Bell, die Drie Susters, Outer, Inner en die res van die berge tot by Monk's Cowl. Naby Orange Peel gap draai ons links op die kontoer pad, onderdeur al die majestieuse berge. In die een klofie kry ons 'n klomp broodbome. Middagete op "One Tree Hill". Zig-zag na benede. "Slog" weer terug via die teerpad en teken uit. Kuier die aand lekker verder en troos die sekuriteits beampte met 'n tjop, brood en hot-chocolate. In die middel van die nag word ons verras deur 'n klompie bokke wat ons toe nie vinnig genoeg kon afneem nie... Zzzz...

09 Mei 2008

Oppad na Cathedral



Vanoggend vroeg opgepak en so net na 8:30 in die pad geval. Appels en sleutels by die stat afgegee en via Luneberg se kerk en kafee die pad na Vryheid geneem. Kari het suksesvol inkopies gedoen vir ditte en datte, terwyl ek nog by die ko-op, nog by die kwekery en nog by RAP-packaging geholpe kon word met 'n leë dik kunsmis sak ... Verder oppad na Dundee via Bloedrivier en Ncoma museums. Aan die oorkant van die laer is daar 'n kulturele sentrum wat die Zulu kant van die storie verteenwoordig. Baie gawe ou wat ons rondlei en 'n interessante blik op die verlede gee. In teenstelling met die Zulu kant kry ons 'n nors ou omie by Bloedrivier. Hy het sommer met die intrapslag aanspraak gemaak op sy ingang-geldjies. Elkgeval. Toe gou deur die ossewaens geloop, en ek kon net sien hoeveel meters ons met die koper kan maak.
Op Dundee het ons by die Museum middagete geëet. Ek en Wim en Cia het hier êrens tydens my verjaardag in 2003 geëet. Op Ladysmith (waar ek ook laas in 2003 was) het ons amper verdwaal. En weereens (as ons my neus gevolg het) sou ons verdwaal het, waar ek en Wim ook al 'n keer of wat die nag ingevaar het en moes navigeer op die suiderkruis. Gelukkig toe 'n ou daar naby wat ons gehelp het. Langs Spioenkop dam en Winterton verby eindig by Cathedral / Ndidima kampterein. Hier kamp ons in die nuwe kampterein. Lekker die aand 'n ou vleisie op die kole... (Lekker om uiteindelik in die Drakensberge te wees. Ek was baie lanklaas hier, en glad nog nie by Cathedral-area nie. Dit slaan mens se asem weg as mens so deur die heuwels en statjies aangery kom, en die berg wat eers in die verte so klein lyk, verrys later tot 'n enorme reeks hier voor jou. Veral met die laatmiddagson was die kleure ongelooflik mooi. 'n Prentjie wat mens nie gou sal vergeet nie. k)

08 Mei 2008

Mooihoek


Vanoggend redelik vroeg ontbyt geëet. Darem nie voor sonsopkoms nie. Na energie bymekaar geskraap is gekyk of ek die lek kon vind by die dammetjie. Lyk of dit daar by die gaas of mesh is wat die sement werk kort.
'n Lekker stap aangepak vroegmiddag: wat veronderstel was om 'n stappie voor middagete te wees het toe lank daarna geindig (afhangend natuurlik van hoe vinnig jy honger word...) Op pad na die nekkie agter die huis, bietjie na links, en toe af oor 'n randjie deur 'n bos. Beide klink maklik maar het nogal tyd gevat.Af met die pad, terug na die hek by die feetjiebos, maar toe mik ons links na die poort se kant by die rivier. Oor die rivier, en so al met 'n pad langs die rivier. (Hier lyk dit of mens die kom nogal lekker kan opdam!!-grappie). Ons sien 'n likkewaan, otterspore, en moontlik sy blyplek, wat ons met rus laat, maar lank van 'n van 'n afstand af dophou. Koekies geeet op 'n klip en fotos geneem van dit van die poort en Linjaan. Verder na oom Rudolf se kuil se bokant-ste poel waar K 'n skoenlapper probeer afneem. Sy gly toe, ka-plonk kniediep in die poel in. Ai toggie.Alles probeer droogkry en die seer weggeswem. (Dit moes baie snaaks gelyk het. My voet gly, ek val opmy maag, ek en Riaan kyk na mekaar, en daar begin ek gly. Al met die skuins klippe af tot onder in die poel. Alles was nat, skoene, klere, kamera. Gelukkig is die kamera al gewoond aan rowwe behandeling, en ken die kuns van droog word in die son! k) Ek het ook 'n dip gevang. Na 'n paar koekies is ons terug huistoe. Kari het aan haar Spaanse huiswerk gewerk terwyl ek 'n draffie gaan vang het. Terug het ons begin inpak. :-( Lekker die aand gebraai, vir oulaas.
More is ons laaste dag op Mooihoek.

07 Mei 2008

Mooihoek

Vanoggend het Kari gou 'n ander bult agter die huis gaan uitklim. Ek is darem bietjie vroeër uit die vere en na 'n koffie en ontbyt het ek die res van my boek klaar gelees: "The Science Book". Laat mens net besef hoe klein ons hier op aarde is en dat ons nog nie naastenby al die wonderwerke van Vader ontdek het nie. Een van daai boeke wat jou opsaaik om dadelik die naaste Prof te bel en 'n Ph.D. te begin. (Ai en dan het hy 'n vrou wat hom dadelik aan die realiteite van Ph.D.-swot herinner... ;-) Kari het vir middagete 'n heerlike aartappel slaai gemaak, wat ons toe na Voelkuil neem. Lekker daar dagboek geskryf en Kari het geswem...Brrrr.... (soos ek gese het...k) Middagete geeet. Dit was ongelooflik om te sien hoe die wattles minder geword het. Ons het self toe ingespring en 'n paar gebas stroom-op se kant. Oppad terug sien ons hoe hulle begin om grasvelde te brand. Fotos geneem by die miershope en lekker tuis in die ghoema gebraai.

06 Mei 2008

Mooihoek


Vandag al bietjie meer ingeburger hier. Kari het vroegoggend 'n bult gaan klim. Ek het lekker laat geslaap... Bietjie koffie gedrink, ontbyt geëet en gelees. Ek het so vinnige draffie ingewerk na die boonste hekkie. Die middag is ons rustig na Oom Rudolf se kuil. Baie vinnig gedip: Dit was vreeslik koud! Kari het die swem so bietjie langer uitgerek! (Sulke poele MOET mens gebruik, al is dit winter! k) Rustig weer terug na huis en lekker in die ghoema gekuier en uitgerook vir die res van die aand.

05 Mei 2008

Mooihoek

Vandag is ons eerste dag op Mooihoek. Onder die heerlike duvet het ons die sonnetjie getart, maar is darem uiteindelik uit die vere en aan het ontbyt maak. Gou die sleutels gaan haal. Vir Kari rondgewys, afgepak. Met alles uitgesorteer en 'n vinnige middagete happie is ons vir die grand-tour-oor-die-koppie na die feetjie bos. Af in 'n klofie in die rigting van Oom Rudolf se kuil en weer op na die huis. Lekker die aand gebraai. (Dit is voorwaar ongelooflik mooi. Ek kan net sien dat hier al soveel goeie tye saam gespandeer is. Die herinneringe dryf in die lug rond, en al kan mens hulle nie vasvang nie omdat dit nie aan jou behoort nie, weet mens hulle is daar. Dankie aan die Morisse dat ons so 'n ontspan-wekie voor die groot stappery by Mooihoek kon inwerk! k)

1 jaar Bruilofs Herdenking

Een jaar van getroude lewe: Beter as wat ek dit kon voorstel. 'n Ongelooflike vroutjie is my gegee en ek is baie geseend en dankbaar! Ons ken mekaar al so amper 10 jaar, maar die afgelope jaar kan ek se sy is myne!! En ek het 'n maatjie!! (Darm nou nie meer so alleen soos die dag toe hy gebore is nie...;-) Ek kan ook se dat die afgelope jaar die beste van my lewe was. Ons is voorwaar baie dankbaar dat die Vader ons vir mekaar gegee het. En watter beter plek om die herdenking te vier as bo-op die koppie by Mooihoek! K)

Kari: Jy is en bly die beste!!

04 Mei 2008

Oppad na Mooihoek

Vroeg oggend in Wimpy by Colesberg gaan koffie drink om wakker te word en al langs die Hendrik Verwoerd (alias Gariep, of wat noem hulle die plek nou weer... ) en toe via Bethulie. By Smithfield het ons natuurlik verkeerd gedraai en amper in noodgevalle by die hospitaal ingery. Volgens oorlewering moet hier êrens ook nog 'n kanon wees met die naam van Grietjie wat ons toe nooit kon opspoor nie. 90km na Wepener en vinnig na Hobhouse. Daar 'n koppie koffie met vla / "custard"koek by die Oom en Tannie gedrink. Die Oom doen die ongelooflikste skilder en leer kuns. Baie besonders. Lady Brand. Naby Ficksburg by die kersieplaas "Constantia" gestop. Fouriesburg het 'n pragtige kerk en 'n lekker soppie en brood in Clarens terwyl dit giet van die reën verseker dat ons warm en vol verder kan aanskuif Bethlehem toe. Bohlokong, Warden, Vrede, grondpad, Volksrust, Wakkerstroom en Mooihoek!

03 Mei 2008

Dit is vakansie Tyd!

Laat oggend aan die gang na die vorige aand se jolyt. (Het sommer by Brett en Ronel gekiep na die troue. k) Laat inkopies by P'n P en slagter gedoen. Toe is ons oppad! Worcester, Beaufort en Colesberg die bakkie se dors geles. (En hy is nogal dors!) In gietende reen het ons erens 'n happie gaan eet en toe 'n stil plekkie voor die skool gesoek vir slaapplek...

02 Mei 2008

Irma en Marius Trou

Irma en Marius het so 15:00 se kant by Morgenhof getrou in Stellenbosch. Dit was baie oulik en enduit 'n fees! (keurig, om tannie Rika se woorde te gebruik (k)).Hulle het, terwyl hulle besig was met die foto nemery (http://www.peartree.co.za/), vir die gaste 'n heerlike wynproe gereel. Baie oulik om so aan jou gaste te dink en was 'n groot sukses en so iets kan ek nogal aanbeveel vir paartjies wat troues op wynplase reel... :-) Na 'n paar draaie op die dansbaan is ons na Brett en Ronel vir 'n goeie nagrus voor ons Groot Trek kaal-bande-oor-die Drakensberge.... (Dit was baie spesiaal dat ons die troue kon bywoon. Dankie dat julle hier kom trou het, Marius en Irma! Nou is 3 van ons 4 "old-timers" getroud, en Dirk (wat seker gesien het die trouery lyk darm nie TE sleg nie) ook verloof. Go Dirk en Gherda! Ons is bly saam met julle! k)

Oppak

Vanoggend al ons dinge in die bakkie gepak..."Left-overs" vir ontbyt en laaste paar fotos gebackup om plek te maak vir die onmiddelike vakansie fotos! Nou oppad na Irma en Marius se troue!

01 Mei 2008

Hannes Grobler besoek Soutfontein


Paar vriende vir 'n lekker ontbyt genooi. So stuk, stuk muffins, spek, eiers en koffie deurgewerk tussen gaste se kom en gaan. Die eintlike rede vir die lekker kuier die oggend was dat die Steven (die boer by wie ons huur) se seun se skool 'n fondinsameling gereel het. Dit het behels dat mense kon betaal om saam met Hannes Grobler, een van Suid Afrika se voorste "rally drivers", in sy pyp kar (met Nissan Hardbody panele) teen 'n ontstellende spoed vir 'n spin om die blok kon gaan bloeddruk opjaag en adrenalien afblaas! Dit was 'n ongelooflike geraas, maar baie indrukwekkend soos hy om die draaie die wiele perfek skuif sodat hy teen maksimum spoed kan verby wroem!

Die res van die dag het ons pre-vakansie administrasie gewerk, gepak en huis opgeruim. Kari is nog gou na Irma se kombuis tee en ek het 'n lekker ent gaan fietsry!

Projects