24 Maart 2009

Rean en Antoinette troue

Die naweek 'n lekker "vakansie" na Johannesburg/Bronkhorstspruit gemaak vir Rean Bootsma se troue. Uiteindelik het hy ook sy maatjie gevind.

Ons en Helene het die laatnag (goedkoop) vlug gevat en so half 12 op O.T. geland. Gou 'n kar opgetel by Hertz en die pad gevat met behulp van my Nokia GPS op Hollands wat ons toe smack bang deur die middel van Hillbrow vat! Was dit nou 'n ondervinding. Riaan het die heeltyd gewonder hoe hy ons 2 girls gaan beskerm as een van die karakters wat daar rondgehang het besluit het om ons klompie van nader te bekyk. Gelukkig het hulle op hulle straathoeke gebly en ons is veilig daardeur en toe darm deur beter woonbuurte na Linden, waar ons by Helene en Theodor se oom en tannie oorgebly het. Dit was darm beter as om daardie tyd van die nag 'n onbekende wildreservaat oor slegte paaie te gaan soek en dan nog te gaan tent opslaan. Heerlik geslaap en die volgende oggend is ons getreat op 'n volledige ontbyt. Biltong, met BAIE gesonde vet aan, neute, mango's, pap, ribbetjies en eiers. Lekker gekuier, en so tienuur is ons op pad na Bronkhorstspruit.

Die troue was by Ezemvelo Game Reserve. 'n Pragtige plek en baie billike verblyf. Dit is so 20 km buite Bronkhorstspruit. Nadat ons tente opgeslaan het, het ons eers almal 'n middagslapie uitgepak. Die ape het heeltyd rondom die tente gespeel, en die yogurt houertjie wat ek weggegooi het beetgekry en die laaste bietjie yogurt daaruit gehaal. Toe die miere en die sonnetjie ons te veel las gee, het ons maar opgestaan en gaan kyk wie nog daar rond is. Rean en Antoinette en familie was net oppad na die "Bruilofsboom" (wat natuurlik 'n groot geheim was) om te gaan kyk dat alles daar reg is, en ons het toe gou 'n mooi stappie ingewerk. Later die middag Kitchen Tea gehou, en die aand lekker gebraai.

Sondagoggend vroeg opgestaan en 'n bietjie gaan wild kyk. Daar is 'n hele klomp boksoorte, wildebeeste, zebras, en selfs renosters en jagluiperds (wat ons ongelukkig nie gesien het nie).

Daarna gou ons netjiese safaripakkies aangetrek en toe is die hele konfooi (of is dit nou stoet?) karre na die bruilofsboom. Dit was 'n hele entjie se ry en ons kon sommer lekker diere kyk oppad.

Die troue was pragtig - Antoinette het 'n pragtige rok met lekker swaar stapstewels aangehad!

Baie spesiaal so in die veld met die bome en voels en blou lug. 'n Viool en fluit het bygedra tot die atmosfeer, en ek dink baie mense het 'n traantjie gepik toe hulle hulle beloftes vir mekaar lees. Daarna die gebruiklike gooiery met roosblare, en toe is hulle in 'n trok weg om te gaan fotos neem. Die res van ons is terug na die lapa waar daar 'n heerlike piekniek vir ons gewag het.

Die middag het ons verder gekuier en die bruidspaar afgesien, en daarna maar opgepak en die terugtog Johannesburg toe aangepak, waar ons nog 'n bietjie by Murry en Bessie gaan rus het voor die terugvlug.
Voorwaar 'n heerlike naweek!

Geen opmerkings nie:

Projects