17 Augustus 2009

Suikerbekkie


Net so 'n fototjie wat my nogal trots maak op my uit-die-heup-skiet fotografie!

Du Toits Piek

So gaan stap ons toe nou die naweek Du Toits Piek. Bill en Ghyta het dit gereël, en ons het Vrydagaand by hulle aangesluit by Du Toitskloof hut. Lekker gekuier om 'n braaitjie, en daarna 'n vuur binne in die hut se kaggel gemaak (met baie TLC deur Bill) en hot chocholate gedrink.










Rustig.. gelukkig het ons nie geweet wat op ons wag nie!


Volgende oggend rustig opgestaan, ontbyt geëet, en so half 11 se kant begin stap.



Bill het gereken dit is so 'n 3-uur stap/klim, maar toe ons die piek sien het ek begin wonder. Mens stap eers met 'n padjie van die hut af deur 'n klofie tot by die jeep track, en dan so 'n ruk met die jeeptrack langs (dit gaan na o.a. Agtertafelberghut).















Op 'n stadium het ons links geswaai met 'n plaaspad, en begin soek vir 'n voetpad wat na die ruggie lei wat opgaan na die pinnacle (die punt voor die berg). Ons het 'n afdraaipad gevat wat vir ons gelyk het na die regte een, maar die het doodgeloop, en ons bundubash toe maar verder (mens kan darm redelik sien waarheen mens moet mik). Dit was nogal moeilike padmaak deur 'n klomp hoë bosse en Proteas, gelukkig het ons bo-op die ruggie weer die regte pad gevind. Van daar op na die pinnacle, en voor om traverse tot op 'n nekkie tussen die pinnacle en die berg. Van ver af het hierdie stuk berg heeltemal onmoontlik gelyk om te stap, maar by nader besigtiging darm effens meer gaanbaar. Dit was baie steil, though, en stukke scramble, waaraan ek en Riaan nie gewoond is nie. Gelukkig het ons vasgebyt deur die stukkie en dit maar rustig gevat, daarna het dit darm weer meer stapbaar geraak. Maar dis een van daai berge waar, as jy "bo" kom, jy sien dat jy einlik nog glad nie bo is nie!

Daar het nog 'n lang stap op ons gewag, en ons het uiteindelik naby aan donker op 'n plek gekom waar daar water was sodat ons kan kamp. Hier was egter nou weer te veel water, en 'n klompie sneeu, sodat dit moeilik was om 'n droë plekkie te vind om tent op te slaan. Na 'n rukkie se scout (dit was ook vinnig besig om donker te raak) het Bill en Ghyta besluit om sommer op die sneeu tent op te slaan. Riaan (wat nie tent opslaan as dit nie nodig is nie) het besluit ons moet so 200m terugstap na 'n grotjie waar ons verby gestap het. Met inspeksie was dit toe goed genoeg vir vroutjie om in te slaap, en ons het daar afgepak. Bill-hulle het na kamp opslaan by ons aangesluit en ons het in die grot gekook - dit was lekker warm hierbinne, 9 grade in vergelyking met buite se 6! Ons pakkie pasta en sous het nie so goed uitgeval nie (moet nooit die wild mushroom, garlic and black pepper koop nie want al wat mens proe is die black pepper) en ons het sjokolade en warm sjokolade nodig gehad om die brand uit ons monde te kry.

Die grot het heel goed geslaap (nadat ons iewers in die nag ons matrassies bietjie gedraai het sodat ons nie heeltyd op mekaar rol vanweë die skuins vloer nie), en ons het met 'n stunning sonsopkoms en berge vol sneeu oorkant die N1 wakker geword. Nogal vreemd om die heeltyd die groot pad, tonnel en lodge hier onder mens te sien.



Ek het heeltyd vir Riaan uit die bed probeer jaag, want vir die ander om in die grot in te pas vir ontbyt moes ons eers ons slaapgoed wegpak. Dit het maar moeilik gegaan, maar uiteindelik het ek hom op en aan die tee maak gekry, en ek het gaan water haal en die ander twee gaan soek. Net 'n leë tent het my begroet - hulle was blykbaar al 6 am uit die vere om die piek (wat nog 'n entjie was) te gaan uitklouter!

Hulle het net so 30 meter van bo af gekom, want daar was te veel ys op die piek, maar dit het nog 'n goeie 2 ure gevat. Ons het maar solank 3 ontbyte geëet terwyl ons gewag het.

Uiteindelik het ons so net na 10 in die pad geval om die terugtog aan te pak. Die wind het vreeslik gewaak, so dat mens jou voete mooi moes neersit om nie met rugsak en al van die berg af gewaai te word nie (toemaar, die ma's hoef nie te bekommer nie, ons was versigtig!). Die af het bietjie vinniger gegaan as die op, maar was baie steil en erg op die knieë en enkels. Ek was BAIE bly toe ons so net na 4 by die hut aankom (strompel, in my geval).

Vandag is ons SUPER styf, maar ons was (amper) tot heel bo op Du Toits Piek! En ons het mooi fotos...

04 Augustus 2009

Wortelgat verjaardagnaweek


Weereens 'n dubbelverjaardag, die slag op Wortelgat.
Ons het heerlik gekuier, en my en Jaco se verjaardae agtermekaar gevier met baaaaie lekker kos, heerlike wyn, en goeie geselskap. Dit was ook 'n eerste vir die vriendekring om die nuwe generasie in die vorm van Mia Murray daar te he. Sy moes eers bietjie gewoond raak aan al die nuwe tannies en ooms, maar dit het darm nie te lank gevat nie. Wonder wie gaan die volgende couple wees om 'n nuwe generasietjie by te dra...

Ontbyt was groot! Met goeie bubbly, spek, eiers, wors tamatie en french toast kan mens nie verkeerd gaan nie!


Mia het haar liefde vir goeie wyn geopenbaar die naweek.
Die foto sal verseker saam met haar bottel wed-wyn gehou word vir haar 21st!


Die manne het in die aande mekaar aangevat met Need For Speed.