26 Februarie 2010

Automatisering by ons Fabriek


Die week is die projek waaraan ek die afgelope jaar gewerk het uiteindelik afgelewer! Nogal scary om 1 jaar se 600kg effort in die lug te sien hang:

21 Februarie 2010

Colyn en Mia eet muesli en yoghurt







Die Groot Mosbeskuitnaweek


Ons jaarlikse mosbeskuitbak-aksie het laasnaweek plaasgevind. Ek het Vrydag mos gaan haal by Jaco wat baie goedgunstiglik vir my laat weet het dat daar nou mos beskikbaar is.

Ma Marti het Saterdagmiddag aangekom, en ons het die aand met die groot bak begin, effe laat omdat ons toe eers besef het dat ons nie genoeg meel het vir die twee baksels wat ons wou maak nie. Ek het by al die bure omgeloop (almal was vir 'n slag op die plaas) maar niemand het koekmeel of witbroodmeel gehad nie. Gelukkig het ons landlady, Maggie, ons toe uitgehelp met 'n klein bietjie koekmeel en 'n massiewe pak witbroodmeel. Ons het toe maar effens gekroek en 'n kilo of so koekmeel met witbroodmeel uitgeruil.



Tweeuur Sondagoggend het ons die laaste baksel uit die oond gehaal en die eerste lot was moes droog in die lou-oond gesit. Gelukkig het ons 'n paar goeie flieks gehad wat ons besig gehou het terwyl die beskuit gebak het! Julie en Julia is hoog op ons flieks-wat-mens-moet-sien lysie na die naweek. :-)

Sondag was ons baie lui, het laat geslaap, die res van die beskuit gedroog, pizza gemaak en na middagete weer geslaap. Toe dit koeler raak die aand het ons bietjie gaan draf en swem (my enigste oefening vir die Xterra light wat hierdie naweek was).

Maandagoggend was die laaste beskuit droog. Nou het ons mosbeskuit vir 'n laaaaang ruk!

09 Februarie 2010

Groothoekkloof

Die afgelope naweek het ons baie avontuurlustig gevoel en saam met Oom Retief Jordaan en 'n klompie studente en bergklublede Groothoekkloof aangedurf. Vrydagaand laat by die Jordaans aangekom, bietjie gekuier en toe in die bakkie gaan inkruip.


Saterdagoggend was almal vroeg uit die vere, en na koffie en mieliepap het ons met twee voertuie tot bo aan die voet van Matroosberg gery. Van daar stap mens na die bopunt van die kloof - verby UCT ski-club se hutte en ski-lifts. Nogal oulik wat hulle daar gebou het - die slopes lyk na beter skiplek as Tiffendale! Volgens Oom Retief kan mens aardverwarming nogal goed sien in die feit dat daar vroeer elke jaar sneeu was vanaf omtrent Maart tot September, en die ouens elke jaar vir 'n lang tyd kon ski. Nou is daar nie eers elke jaar 'n ski-geleentheid nie.



By die bopunt van die kloof gekom, moes ons almal ons harnasse aantrek. Daar is so baie abseils, dat mens die heeltyd met jou harnas aan stap. Oom Retief het vir almal mooi verduidelik, en toe is ons sommer dadelik by die eerste een af. Daar was 8 deur die loop van die dag, en dit was groot pret. Sommiges was steil, ander minder steil maar baie glad, en ander moes mens jou loop teen die rots af mooi ken, anders beland jy onder 'n waterval. Almal was maar lekker op hulle senuwees aan die begin, maar ons was so baie mense (18) en kon nie eintlik bekostig om te staan en rondwag en bang wees nie, ons moes maar laat loop. Deur die hele dag kon mens elke paar minute hoor "Rope Free!".



Saterdag was 'n lang dag, en ons het so 6uur by die "kampplek" (eintlik maar 'n paar bosse langs die rivier waar mens vir jou 'n slaapplekkie uitkrap), aangekom. Aangesien ons redelik naby aan laaste gestap het, het ons nie so baie slaapplek opsies oorgehad nie, maar Riaan het darm vir ons 'n lekker holtetjie in 'n rots gevind en die klippe uitgehaal en ons het met sand en bossies en 'n halwe blou matrassie elk die plek gemaklik gemaak. Dit was ongelukkig aan die ander kant van die rivier as die ander, so ons het die kampvuur en die geselligheid gemis, maar ons was so pootuit dat ons maar net geeet en gaan slaap het.


Sondag moes ons hoor dat die "ergste drie abseils van die kloof" op ons wag. Oom Retief het die storie lekker aangedik, en my hart het redelik woes te kere gegaan, veral omdat ek Saterdag 'n keer of wat gegly het en al 'n paar stampe weg gehad het. Maar dit was toe glad nie so erg nie - mens het net lekker nat geword want die laaste twee was reg binne in die watervalle af. Daar was 'n hele klomp poele waar mens maar moes deurswem met jou sak op jou rug, en ook een waar mens jou sak moet afgooi en agterna spring. Almal het maar die sonkolletjies opgesoek, want mens het lekker koud geraak.


Na 'n baie lang maar lekker dag, was ons uiteindelik so half 7 by die huis, waar daar heerlike lasagne en tuisgebake brood op ons gewag het. Tannie Christine en Elsbet was almal se heros!



As mens die moed en die avontuurlus vir kloofing het, is Groothoekkloof BESLIS aan te bevele.
Baie dankie aan Oom Retief en Tannie Christine wat hulle huis elke nou en dan met 'n spul stappers deel, en wat so lief is vir die kloof dat hulle bereid is om dit vir ander te gaan wys.

Projects