11 April 2010

Saterdagaand-kuier-met-kos-en-wyn








Gisteraand het Jaco, Corne en Liesbet by ons kom eet (en drink!). Die prawns wat ek vir voorgereg wou maak was baie grillerig, en ek was bly vir Liesbet se hulp in die voorbereiding. Corne en Liesbet het 'n heerlike hoofgereg gemaak van Marokkaanse lam met dadels, en Jaco het 'n ongelooflike appel en bessie-pastei gemaak vir nagereg. Natuurlik saam met elke gang moes 'n bypassende wyn gaan, so ons was nogal opgewyn aan die einde van die aand.

Baviaanskloof

Tydens ons Wortelgat-kuier so 'n paar naweke terug, het ons gewonder wat om te doen met Paasnaweek. Kan nie onthou waar die idee vandaan gekom het om Baviaanskloof toe te gaan nie, maar dit het daar begin.
Ongelukkig is daar net een 4x4 in die vriendekring (of in elk geval die deel van die vriendekring wat beskikbaar was om saam te gaan) en dit het dus die getalle wat kan saamgaan bietjie beperk.
Ons het Donderdagmiddag so half 6 vertrek, al die paasnaweekverkeer ge-sidestep deur Franschoek -Greyton - Riversdal te ry, en half 11 by tannie Rika op George gestop. Sy het vir ons 'n heerlike aandete gemaak en nog vir ons gewag ook, en ons het nog lekker 'n bietjie gekuier voor slaaptyd. Vrydagoggend na ontbyt het ons verder gery, lekker paaie (Prins Alfred's Pass) na die Langkloof. Eers weer op Kareedouw gestop by die Sweaty Dutchman, maar hy was ongelukkig besig om toe te maak en ons moes maar sonder koffie bly. Ons was wel bly om te sien sy koffiewinkel maak dit nog, en het lekker bietjie met hom gesels.

Ons was so 6uur se kant by ons kampplek, 9 km anderkant Patensie in die bos. Gonja 4x4 kampplek. Dit was heerlik stil en rustig, net ons op die plek, en dis so naby aan die natuur soos wat mens kan kom. Ons het sommer op die gras geslaap - en pragtige naggeluide gehoor, 'n hele paar verskillende uile en 'n knysnaloerie, wat ons die volgende oggend gesien het ook. Saterdag het ons die kloof gedoen. Gelukkig het Jaco 'n GROOT bulbar op sy bakkie, en ons kon met selfvertroue om die nou draaitjies ry. Want sjoe, die pad is nogal baie nou op plekke, en baiekeer moet mens terugstoot as daar 'n voertuig van voor af kom. Ons het eers die Kouga-dam gaan kyk. Baie indrukwekkend. Ons het ook by Komdomo ingeloer. Dit lyk na 'n

super lekker kampplek. Ons wou by Smitskraal middagete eet, maar ons magies het begin skree voor ons daar was, en ons het sommer langs die pad afgetrek en gou broodjies gemaak. Ons is wel gewaarsku teen die buffels deur 'n verbygaande bakkie se mense, maar ons het maar die kans gevat. Verder by 'n paar mooi uitkykplekke gestop, en so 6uur se kant by Doringkloof gestop, waar ons Saterdagaand en Sondagaand gekamp het.

Vir so 'n lang kampery het ons maar tente opgeslaan. Dit is ook 'n baie mooi kampplek, met lekker gras en die mense wat dit bestuur is baie vriendelik. Hulle het 2 pragtige Border Collies, wat saam met die kinders sokker gespeel het. Ons het lekker kos gemaak, en die weer het toegetrek terwyl ons geeet het, en selfs bietjie gereen later. Sondag was koud en bewolk, en ons was nie baie lus om aktief te wees nie. Ek en Jaco het darm gaan draf die oggend, en dit het ons gerusgestel dat ons iets gedoen het en die res van die dag rustig kon vat. Riaan het nie daai gewetensprobleem gehad nie, en het rustig geslaap tot ons terugkom, en toe verder op die kampstoel. :-) Ons het 'n lekker ontbyt vir middagete gemaak, met BAIE kolestrol. 'n Klein entjie gaan stap later die middag en koedoespore en 'n baie mooi vetplant gesien, sowel as 'n baie kwaai volstruis. Gelukkig was daar 'n draad tussen ons en haar.



Terug by die kamp het ons weer geeet - Springbokrugstring met krummelpap en tamatiesmoor.



Sondagoggend het ons vroeg opgestaan, en so 8uur in die pad geval. So 9uur gestop by die makkedaatgrotte, grotte wat toegebou is en soos 'n huis ingerig is. Elfuur op De Rust gestop vir 'n lekker koppie koffie en 'n scone, en net buite Oudtshoorn by 'n kelder waar Jaco al vir 'n lang tyd wou stop, maar nog nooit by uitgekom het nie. Hulle maak Witblits genoem Oom Danie se wit hond, en Jaco het vir hom 'n botteltjie aangeskaf. Ons het maar gegaan vir die koffielikeur.


Daarna het ons 'n baie oulike pad gery, wat by pragtige rooi rotsformasies verbygaan. So het ons ook die KKNK se verkeer gemis. By Ashton het ons wel die verkeer geslaan, en tot by Robertson in 'n baie stadige tou karre gesit. Gelukkig het Jaco 'n GPS, en ons kon weereens alternatiewe paaie soek. Net na Robertson het ons regs gedraai Moordkuil toe, en toe weer via Franschoek Stellenbosch toe.





Dit was 'n heerlike naweek, en ons was bevoorreg om nog 'n stukkie van ons mooi land te kon verken.

Projects