31 Mei 2010

Turkye en Italië: Dag 2 - Blue Mosque


Die Blue Mosque vanaf Doy Doy..




Turkye en Italië: Dag 2 - Prince's Islands


Half 9 kry ons vir Rudi en Mariëtte onder vir ontbyt. Ons is vanoggend lus om rustig ons dag te beplan sonder sigaretrook en Turkse geselskap. Na nog 'n oulike Turkse ontbyt moet ons eers ons kamer ontruim - ons kamer in die nuwe hotel is nog nie reg nie, so ons los eers al ons goed in Rudi hulle se 2m x2m kamertjie, en hoop maar alles is uitgesorteer wanneer ons terugkom.


Ons het besluit om vandag die Prince's Islands te doen, sodat ons more kan kyk wat Arzu (ons Walks-in-Istanbul gids) ons wys en daarna die res van die stad op ons eie kan kyk. Eers jetons koop, en daarna vat ons die metro nr. 38 na Kabatas, waar ons die ferry kry. Daar is VERSKRIKLIK baie mense op die ferry, en ons krap vir ons 'n spasietjie op die boonste vloer uit om te sit. Ons het twee eilande uitgekies om te doen, die laaste 2, dus skip ons die eerste 2 en klim af by Heybeliada. Op pad soontoe sien ons 'n boot wat 'n klein bootjie sleep. Iets lyk nie heeltemal reg nie, en toe ons weer kyk, het die klein bootjie gesink en twee mans staan en kopkrap by die tou wat in die water verdwyn. Hulle het sny die tou toe maar af en vaar weg. Strange!

So 'n bietjie agtergrond: Die eilande is in die see van Marmara, so 15km Suidoos van die stad. Behalwe die paar polisie of spesiale voertuie, mag karre nie op die eilande kom nie. Die "mode of transportation" is stap, fietsry, of 'n perdekarretjie (waarvan daar 'n oorvloed is) huur. In die Byzantine era is 'n klomp kerke en kloosters op die eilande gebou, en omdat die eilande so lekker naby aan die stad is, is die kloosters later gebruik as luukse tronke vir "banished royalty", meestal nadat hulle verblind is. Na die Ottoman oorname, het die eilande meestal in onbruik verval en 'n veilige hawe vir vlugtende Griekse, Armeniese en Joodse groepe geword. In 1846 is 'n ferry-diens ingestel, en van daar af het die eilande polulêr geword onder die rykes van die bevolking - daar is baie "grand" vakansiehuise op gebou, waarvan sommige lyk of dit eeue laas gebruik is. Baie van die huise is van hout, en dit lyk of dit baie mooi kon gewees het op hulle tyd. Ons het iets gehoor van wette i.v.m die restorering van die houthuise wat dit so duur maak dat die mense dit maar eerder los om op te vrot. Tog jammer.





Die laaste eiland, Buyukada, is die grootste, en hier huur ons 'n perdekarretjie vir 'n 40min trip om die eiland. Dit was 'n heel interessante ervaring, weet nie of dit grandgeit is nie maar die dakkie het sulke tosseltjies aan wat oulik lyk maar maak dat mens nie veel kan sien nie. Oral kom ons verby ander perdekarretjies wat of rondstaan of ook besig is met die rondjie. Rudi het die baie interessante opmerking gemaak dat daar hordes perde en visprodukte is, maar nie 'n enkelte vlieg nie. Ek wonder hoe hulle dit regkry, en of dit regdeur die jaar so is!



Oral is ook die mooiste groentemarkte, en interessante visstalletjies met die weirdste visse wat ons nog gesien het.


Op pad terug kan ons 'n paar fotos van die stad se Skyline neem. Ongelukkig 'n bietjie hazy.


By die hotel aangekom, is daar niemand by ontvangs nie, en ons het nie 'n clue waar ons die aand moet slaap nie. Terwyl Rudi en Mariette stort en regmaak vir aandete, stap ons terug na Hotal by Sofia om vir Omar te vra wat nou. Hy klim op die foon, en na 'n paar No Problems verduidelik vir my dat sy vriend (die ou van die ander hotel) my kan help en ek moet toe sommer die foon ook vat. Baie moeilik om uit te maak wat hy bedoel, maar die kern was dat sy hotel vol is vir die aand, maar dat hy gelukkig nog 'n hotel het waar ons kan gaan bly. Wat kan ons doen? Ons wil baie graag nie op straat slaap nie, en Omar vat ons na die 3rde hotel, waar die ou van die 2de hotel (wat somehow ook iets met die 3rde een te doen het) ons kry en vir ons 'n kamer wys. Baie apologeties omdat die kamer nie 'n on-suite badkamer het nie, maar 'n gesamentlike een in die gang. Maar, verduidelik hy vir ons, die gang-badkamer is eintlik baie beter as 'n on-suite, en dit is REGTIG net ons wat die gangbadkamer gaan gebruik. Yeah right. Toe ons daar inloer le daar 'n nat handdoek en 'n dooie sigaret op die wasbak, en net nadat die eienaar daar uit is, loop daar iemand van die onderste vloer af op om te kom stort. Maar nou ja, ons het 'n plek om ons kop neer te lê, die kamer is darm skoon, en ons het aandete om na uit te sien.

Ons gaan eet by 'n baie oulike plek (ligging, prys en kos-gewys) wat 'n dak-terras het, en uitkyk op die Blue Mosque: Doy Doy. Baie lekker geëet vir min geld, en lekker gekuier en gefoto.





30 Mei 2010

Turkye en Italië: Aankoms Istanbul - 7 Mei

Na 'n lang nag van flieks kyk en min slaap, land ons 6 a.m. op Attaturk Internasionaal. Gou-gou deur doeane en koop 'n visum, mens kry hulle sommer op die lughawe vir 15 euros elk. Nou moet ons die hotel gaan soek. Ons het min of meer gekyk waar dit is op hulle website, maar natuurlik lyk dit alles anders in lewende lywe. Nommer een wil ons nie 'n taxi vat nie, want ons is op budget vakansie, en dan doen mens nie sulke goed nie. En dit is ook baie meer exciting om die local openbare vervoer uit te probeer - so ons volg die bordjie met die metro prentjie (gelukkig beteken die prentjie en 'n groot M universeel metro) tot diep onder die grond waar die metro maar gewoonlik loop. Om die koepon-sisteem uit te figure is toe ook nie so maklik nie, gelukkig was daar 'n gawe turkse omie wat hom oor ons ontferm het en vir ons gewys het hoe die Jetons werk. Dis nou die skyfies wat uitkom by die masjien as jy die geld ingooi, en wat jy dan weer in die slot by die hek moet gooi sodat jy kan deurloop. Op die metro self is daar ook 'n paar mense wat dadelik wil help toe hulle sien ons kyk op die kaart - almal vertel vir ons watter stasie ons by moet afklim. Baie gaaf, al kon ons dit darm self uitfigure.
So klim ons uit by Sultanahmet stasie, en stap in die algemene rigting waar ons volgens Google Earth dink die hotel moet wees. Hou in gedagte dat ons nie eintlik eers weet of die hotel bestaan nie - ons weet ons het hulle 'n deposito betaal, maar daarna kon ons hulle glad nie in die hande kry nie (nie foon of mail nie). Gelukkig het Riaan mooi gekyk op Google en ons kry dit redelik maklik. En dit bestaan. :-) Ons is egter baie vroeg (8 a.m) en ons het gesê ons kom eers 10uur aan, so daar is nog nie lewe by die hotel nie. Hulle het baie oulike tafeltjies en stoeltjies buite in die straat, though, so ons haal ons boeke uit en sit daar en lees. Na 'n rukkie loer 'n blonde vrou van heel bo af af, en skree 'n klomp goed in Turks. Toe sy sien ons verstaan nie, vra sy "Check in check out?" Ons probeer toe verduidelik dat ons wil incheck maar baie vroeg is. Sy verduidelik toe vir ons (dink ons) dat dinge daar maar stadig gaan in die oggend, en toe bring sy vir ons koffie. Baie oulik van haar, al was dit slegte Nescafe. 'n Rukkie later mag ons inkom want die kamer is ok. Die hotel het 'n basement vloer, twee vloere in die middel, en dan 'n vloer heel bo wat 'n klein kombuisie, tafeltjies 'n 'n paar stoele, 'n toilet, en nog 'n kamer (wat toe ons kamer is) het.

Hierdie is die uitsig vanuit die boonste "sitkamertjie". Daar is 'n kleinerige moskee reg oorkant, die kukuc Aya Sofia. Die hotel is regtig in 'n baie lekker stil straatjie in 'n woonbuurt, maar maklike stapafstand van al die groot besienswaardighede.

Ons gesels 'n rukkie met ons hostess, Burcu. Sy kan nie veel engels praat nie, maar ons kom reg. Alles is No Problem en ons moet net relax. Sy gee toe sommer vir ons ontbyt ook, heel nice, 'n paar plakkies kaas, die lekkerste vars brood, heerlike roomkaas, 'n eier en sulke snaakse groen suur pruimpies, o ja en komkommer, tamatie en olywe. Die kamer wat ons kry is skoon en heel ok, behalwe dat dit grens aan die leefarea en ons kan al dink dat dit baie gaan raas. Soos ons toe ook agterkom toe ons 'n vinnige nap wil vat. So 11uur se kant gee ons maar op en stap af promonade toe, aan die mond van die Bosphorus. Net reguit af van die hotel af, en toe stap ons met die promonade reg om tot amper aan die mond van die Golden Horn. O ja, eers het ons afgestap na die ferry terminaal waar ons probeer uitvind het of ons vandaar 'n ferry na die Prince's Islands kan neem, maar toe deel hulle ons mee dat ons heeltemal by die verkeerde ferry terminaal is. Daar is heelwat interessante vismarkte langs die water, en almal probeer aan ons vis verkoop. Ook heelwat restaurante waar almal ook hulle bes probeer om ons te kry om te gaan sit en iets te eet. Maar ons val nie vir hulle praatjies nie, en stap maar aan. Ons loop verby stukke muur wat ons later lees dateer uit 470. Ongelooflik.




Toe loop ons op deur die tuine van die Topkapi paleis, wat baie mooi en rustig is, en terug deur Sultanahmet tot by die hotel om vir Rudi en Mariette te wag. By die hotel gekom, kry ons turkse koffie by Burcu en ontmoet haar man, Omar, en 'n buurman, Mustafa, wat gelukkig goed kan engels praat. Want toe is daar blykbaar 'n probleem met ons bespreking, en hulle is vol bespreek van die volgende dag af. Maar no problem, hulle het nog 'n hotel en ons kan net soontoe skuif. Ons vertel toe vir hulle dat Rudi hulle ook nog kom, en toe is dit eers 'n geskarrel. Rudi hulle kom toe ook net daar aan. Die end van die saak is dat hulle na 'n ander hotel toe moet skuif vir 3 aande, ons moet die volgende dag ook soontoe skuif vir 2 aande, en dan skuif ons almal terug na Hotel By Sofia. Ons wil nie onaangenaam wees nie en sê dit is ok. Burcu en Omar voel baie sleg, en sê omdat ons moet rondskuif, sal hulle die aand vir ons aandete gee. Ons moet 7uur daar wees, en ons mag kies wat ons wil eet. Ons kies toe vis, en na 'n bietjie gemoan dat ons nou die duurste ding kies (dink hulle het ook maar gegrap) is alles gereël.

Ons gaan laai Rudi hulle se goed af by die ander (baie minder nice) hotel, gaan soek die info en 'n bankteller, gaan kyk die wêreldbekende Pudding Shop, en eet by 'n straatkafee.





















Toe is ons voete op, en ons gaan terug hotel toe om 'n rukkie te gaan lê voor ete. Ete was 'n baie gesellige afêre, en vir my een van die hoogtepunte van die trip. Op die afgespreekte tyd, 7uur, gaan ons almal boontoe, waar Burcu hard aan die slaaimaak is. Ons het besluit om maar 'n twee bottels wyn, wit en rooi, by hulle te bestel sodat hulle ook iets kan maak uit die aand, en Burcu stuur vir Omar om die wyn en brood te gaan haal. Hy kom terug met die brood, maar het die wyn vergeet en sy jaag hom weer uit om die wyn te gaan haal. Ons kuier solank met mekaar en met haar, en toe hy terugkom, maak hy verskoning en sê hy moet nou eers die vis gaan haal, wat 'n vriend van hom in sy restaurant gaarmaak. Ons het toe agtergekom dat hulle 'n klomp dinge op hulle menu het wat hulle waarskynlik nie in die klein kombuisie van hulle kan maak nie, en gewonder of dit dan altyd 'n vriend is wat vir hulle die kos moet maak. So 8uur se kant kom Omar ingehardloop met die vis (wat heerlik was) en ons kan begin eet. Deur die ete het daar 'n hele paar ander mense so stuk stuk ingekom: Mustafa, die ou wat die vis gevang het, die ou wat die vis gaargemaak het, en nog 'n ander vriendin van hulle. Dit was great en baie lekker om die kultuur bietjie te evaar. Rudi het Raki, die local drink wat proe soos liquorice en wat mens met water aanmaak, probeer en daarvan gehou, en tussen hom en die Turkse mans het hulle toe sommer 'n bottle gepolish. Die wyn wat ons bestel het was baie duur en baie sleg, maar ons het maar gemaak of dit lekker was om nie aanstoot te gee nie. Ons het dit later by die hoek-kafee gesien vir 'n kwart van die prys. Die gesing van die moskee om 10uur vir bedtyd reg buite die hotel het ook bygedra tot die atmosfeer.

Turkye en Italië: Vertrek - 6 Mei

So begin ons 3-weke-lange reis na Turkye en Italië. Die plan was oorspronklik om vir Stef en Yolandi te gaan kuier in Italië, maar hulle word toe verplaas Houston Texas toe so 'n paar weke voor ons vertrek. Dit was baie jammer, omdat alles toe al geboek, gereël en betaal was, moes maar gaan.

Die aand voor die tyd is alles gepak - ons het nog 'n meningsverskil gehad oor of ons 'n 3rde sak by ons rugsakke moet vat en of ons alles in twee rugsakke en 'n dagstappiesak gaan kry, maar gelukkig het ek gewen en die 3rde tas is saam - anders het ons dalkies nie plek gehad vir al die Turkish Delight wat saam teruggekom het nie. :-) Maar ek stem na die vakansie weer heeltemal met my slim man saam - hoe minder goed mens hoef saam te sleep (al is dit net in die lughawegeboue voor mens dit in die kar laai) hoe beter. Volgende keer lose ons die 3rde tas en bring niks vir niemand saam terug nie. Of dalk pos ons dan eerder maar presentjies van daar af.

Die oggend van ons vertrek reën dit katte en honde, gelukkig kan Pa en Ma van den Dool ons lekker voor die splinternuwe lughawegebou afgooi, en na nog 'n laaste fototjie is ons reg vir die hele inboekstorie. Gewapen met al wat 'n paspoort, i.d., huweliksertifikaat en enige ander dokument wat kan help om die proses glad te laat verloop, en wonder bo wonder word niks vrae gevra nie en ons is binne 'n paar minute by ons boarding gate. Gelukkig het ons boeke by ons en is daar 'n plekkie waar ons bietjie koffie kan drink (wit hot chocholate in my geval) selfs met 'n uitsig op ons vliegtuig.















05 Mei 2010

Ons onromantiese huweliksherdenking-middagete


Dit het gereën en was koud vandag, en ons sou 'n brekfissie iewers gaan eet het, maar toe is ons nie lus vir uit in die weer nie, en maak toe sommer iets by die huis. Toe middagete-tyd aanbreek, besluit ons ons moet seker ietsie gaan doen, en ry toe maar Riebeek se rigting om 'n plekkie te gaan soek wat sop het. Pulpit Rock, ons eerste keuse, was toe, en toe stop ons by 'n klein plekkie in Riebeek Wes waar ons nog nie was nie. Wat 'n fout was. Ongelukkig kon ons eers sien hoe dit binne lyk toe ons by die deur ingaan, en, goed opgevoede kinders wat ons is, wou ons nie omdraai en weer uitloop nie. Ons was ook die enigste mense daar, en die kelnerin het al na ons toe aangekom met 'n boekie. So toe vra ons maar vir sop en soek die beste plek uit om te sit in die clutter.











Die sop was darm nie sleg nie, alhoewel dit nie die lekkerste butternut sop was wat ons al geeet het nie, en ons het maar gefluister om nie die groot grys pappagaai in sy hok reg agter Riaan wakker te maak nie. Dis eintlik so 'n plek waar jy voel jy moet net stilsit en aan niks raak nie en eintlik ook nie te hard asem haal nie want netnou foeter een van die skilderye van die muur af. Ek wil nie 'n ma met 'n kind wees in die plek nie! Vir almal wat wil weet watter plek dit is om dit te vermy (of dalk as dit na jou tipe plek lyk om dit te gaan besoek, wie weet), dit is die enigste koffiewinkel in Riebeek Wes aan die linkerkant van die hoofpad. Hulle was waarskynlik ook die enigste plek wat toe was met die naweek so olyffees, omdat die eienaar nie van al die mense hou nie en nie hou daarvan as mense inkom en weer uitloop nie, blykbaar. :-) Wat hulle seker doen.

Olyffees


Lekker potjiekos in die kelder by Pulpit Rock.

3 Jaar vandag!!







Colyn en sy gesin







Projects