30 Mei 2010

Turkye en Italië: Aankoms Istanbul - 7 Mei

Na 'n lang nag van flieks kyk en min slaap, land ons 6 a.m. op Attaturk Internasionaal. Gou-gou deur doeane en koop 'n visum, mens kry hulle sommer op die lughawe vir 15 euros elk. Nou moet ons die hotel gaan soek. Ons het min of meer gekyk waar dit is op hulle website, maar natuurlik lyk dit alles anders in lewende lywe. Nommer een wil ons nie 'n taxi vat nie, want ons is op budget vakansie, en dan doen mens nie sulke goed nie. En dit is ook baie meer exciting om die local openbare vervoer uit te probeer - so ons volg die bordjie met die metro prentjie (gelukkig beteken die prentjie en 'n groot M universeel metro) tot diep onder die grond waar die metro maar gewoonlik loop. Om die koepon-sisteem uit te figure is toe ook nie so maklik nie, gelukkig was daar 'n gawe turkse omie wat hom oor ons ontferm het en vir ons gewys het hoe die Jetons werk. Dis nou die skyfies wat uitkom by die masjien as jy die geld ingooi, en wat jy dan weer in die slot by die hek moet gooi sodat jy kan deurloop. Op die metro self is daar ook 'n paar mense wat dadelik wil help toe hulle sien ons kyk op die kaart - almal vertel vir ons watter stasie ons by moet afklim. Baie gaaf, al kon ons dit darm self uitfigure.
So klim ons uit by Sultanahmet stasie, en stap in die algemene rigting waar ons volgens Google Earth dink die hotel moet wees. Hou in gedagte dat ons nie eintlik eers weet of die hotel bestaan nie - ons weet ons het hulle 'n deposito betaal, maar daarna kon ons hulle glad nie in die hande kry nie (nie foon of mail nie). Gelukkig het Riaan mooi gekyk op Google en ons kry dit redelik maklik. En dit bestaan. :-) Ons is egter baie vroeg (8 a.m) en ons het gesê ons kom eers 10uur aan, so daar is nog nie lewe by die hotel nie. Hulle het baie oulike tafeltjies en stoeltjies buite in die straat, though, so ons haal ons boeke uit en sit daar en lees. Na 'n rukkie loer 'n blonde vrou van heel bo af af, en skree 'n klomp goed in Turks. Toe sy sien ons verstaan nie, vra sy "Check in check out?" Ons probeer toe verduidelik dat ons wil incheck maar baie vroeg is. Sy verduidelik toe vir ons (dink ons) dat dinge daar maar stadig gaan in die oggend, en toe bring sy vir ons koffie. Baie oulik van haar, al was dit slegte Nescafe. 'n Rukkie later mag ons inkom want die kamer is ok. Die hotel het 'n basement vloer, twee vloere in die middel, en dan 'n vloer heel bo wat 'n klein kombuisie, tafeltjies 'n 'n paar stoele, 'n toilet, en nog 'n kamer (wat toe ons kamer is) het.

Hierdie is die uitsig vanuit die boonste "sitkamertjie". Daar is 'n kleinerige moskee reg oorkant, die kukuc Aya Sofia. Die hotel is regtig in 'n baie lekker stil straatjie in 'n woonbuurt, maar maklike stapafstand van al die groot besienswaardighede.

Ons gesels 'n rukkie met ons hostess, Burcu. Sy kan nie veel engels praat nie, maar ons kom reg. Alles is No Problem en ons moet net relax. Sy gee toe sommer vir ons ontbyt ook, heel nice, 'n paar plakkies kaas, die lekkerste vars brood, heerlike roomkaas, 'n eier en sulke snaakse groen suur pruimpies, o ja en komkommer, tamatie en olywe. Die kamer wat ons kry is skoon en heel ok, behalwe dat dit grens aan die leefarea en ons kan al dink dat dit baie gaan raas. Soos ons toe ook agterkom toe ons 'n vinnige nap wil vat. So 11uur se kant gee ons maar op en stap af promonade toe, aan die mond van die Bosphorus. Net reguit af van die hotel af, en toe stap ons met die promonade reg om tot amper aan die mond van die Golden Horn. O ja, eers het ons afgestap na die ferry terminaal waar ons probeer uitvind het of ons vandaar 'n ferry na die Prince's Islands kan neem, maar toe deel hulle ons mee dat ons heeltemal by die verkeerde ferry terminaal is. Daar is heelwat interessante vismarkte langs die water, en almal probeer aan ons vis verkoop. Ook heelwat restaurante waar almal ook hulle bes probeer om ons te kry om te gaan sit en iets te eet. Maar ons val nie vir hulle praatjies nie, en stap maar aan. Ons loop verby stukke muur wat ons later lees dateer uit 470. Ongelooflik.




Toe loop ons op deur die tuine van die Topkapi paleis, wat baie mooi en rustig is, en terug deur Sultanahmet tot by die hotel om vir Rudi en Mariette te wag. By die hotel gekom, kry ons turkse koffie by Burcu en ontmoet haar man, Omar, en 'n buurman, Mustafa, wat gelukkig goed kan engels praat. Want toe is daar blykbaar 'n probleem met ons bespreking, en hulle is vol bespreek van die volgende dag af. Maar no problem, hulle het nog 'n hotel en ons kan net soontoe skuif. Ons vertel toe vir hulle dat Rudi hulle ook nog kom, en toe is dit eers 'n geskarrel. Rudi hulle kom toe ook net daar aan. Die end van die saak is dat hulle na 'n ander hotel toe moet skuif vir 3 aande, ons moet die volgende dag ook soontoe skuif vir 2 aande, en dan skuif ons almal terug na Hotel By Sofia. Ons wil nie onaangenaam wees nie en sê dit is ok. Burcu en Omar voel baie sleg, en sê omdat ons moet rondskuif, sal hulle die aand vir ons aandete gee. Ons moet 7uur daar wees, en ons mag kies wat ons wil eet. Ons kies toe vis, en na 'n bietjie gemoan dat ons nou die duurste ding kies (dink hulle het ook maar gegrap) is alles gereël.

Ons gaan laai Rudi hulle se goed af by die ander (baie minder nice) hotel, gaan soek die info en 'n bankteller, gaan kyk die wêreldbekende Pudding Shop, en eet by 'n straatkafee.





















Toe is ons voete op, en ons gaan terug hotel toe om 'n rukkie te gaan lê voor ete. Ete was 'n baie gesellige afêre, en vir my een van die hoogtepunte van die trip. Op die afgespreekte tyd, 7uur, gaan ons almal boontoe, waar Burcu hard aan die slaaimaak is. Ons het besluit om maar 'n twee bottels wyn, wit en rooi, by hulle te bestel sodat hulle ook iets kan maak uit die aand, en Burcu stuur vir Omar om die wyn en brood te gaan haal. Hy kom terug met die brood, maar het die wyn vergeet en sy jaag hom weer uit om die wyn te gaan haal. Ons kuier solank met mekaar en met haar, en toe hy terugkom, maak hy verskoning en sê hy moet nou eers die vis gaan haal, wat 'n vriend van hom in sy restaurant gaarmaak. Ons het toe agtergekom dat hulle 'n klomp dinge op hulle menu het wat hulle waarskynlik nie in die klein kombuisie van hulle kan maak nie, en gewonder of dit dan altyd 'n vriend is wat vir hulle die kos moet maak. So 8uur se kant kom Omar ingehardloop met die vis (wat heerlik was) en ons kan begin eet. Deur die ete het daar 'n hele paar ander mense so stuk stuk ingekom: Mustafa, die ou wat die vis gevang het, die ou wat die vis gaargemaak het, en nog 'n ander vriendin van hulle. Dit was great en baie lekker om die kultuur bietjie te evaar. Rudi het Raki, die local drink wat proe soos liquorice en wat mens met water aanmaak, probeer en daarvan gehou, en tussen hom en die Turkse mans het hulle toe sommer 'n bottle gepolish. Die wyn wat ons bestel het was baie duur en baie sleg, maar ons het maar gemaak of dit lekker was om nie aanstoot te gee nie. Ons het dit later by die hoek-kafee gesien vir 'n kwart van die prys. Die gesing van die moskee om 10uur vir bedtyd reg buite die hotel het ook bygedra tot die atmosfeer.

Geen opmerkings nie: