06 Julie 2010

Alto Adige - Sudtirol


Nou het my twee dae van werk aangebreek, en ons moes blyplek vind naby Ora, tussen Trento en Bolzano. In Trento sê hulle vir ons nee wat, daar is nie kampplek nie, en ook nie in Bolzano nie, maar wel in Ora, reg waar ons wil wees. Daar gekom vind ons die kampplek en die Duitse tannie skud haar kop toe ons vra vir 3 nagte se kampplek. Net toe ons moed goed in ons skoene is en ons al in ons koppe ons geldjies begin tel om dan maar in 'n gastehuis of jeugherberg iewers te gaan inboek, sien sy 'n klein dun plekkie op haar kaart raak waar ons met ons tentjie kan insqueeze. Sy stuur ons eers om te gaan kyk, al verseker ons haar dit sal ok wees. Dit is toe ook heel goed, mooi gras en onder 'n boom ook nog, net geen uitsig nie omdat 'n Hollander sy massiewe groot kampeerwa reg voor ons kom trek het, maar dis ok. Toe ons die badkamers gaan inspekteer, sien ons hoekom mens so duur betaal vir kampeer. Alles is omtrent outomaties, die ligte gaan aan soos jy instap, die krane gaan vanself aan, die toilette spoel self as jy opstaan. En oral speel sagte musiek... Pragtig, maar ek sou wel verkies om minder te betaal en self die kraan oop te draai en die toilet te spoel.

Die aand gaan verken ons die dorpie, en vind uit waar die bakker en die winkeltjie is. Hulle het ook Spar hier..
Volgende oggend kom haal Walter van Laimburg ons vroeg vroeg by die hotel, en gaan wys vir ons die teelprogram en die instituut se geboue en labs. Baie indrukwekkend, ook die ondergrondse kelder waar die ministers hulle meetings kom hou. Hy het ons 'n paar goeie stap-idees gegee, en die middag gaan kyk ons na 'n ou vulkaniese berg, die Bletterbagh. Ook 'n lekker ent gestap in die kloof op, tot waar die rivier ongelukkig die bruggies en trappies wat na die boonste deel gaan, weggespoel het met een of ander vloed. Daarna nog 'n draai gery tot hoog in die berge met 'n indrukwekkende pas op. Dit was koud daarbo!

Die volgende dag moes ons eers in die middag vir Sylvio by San Michaela kry, so die oggend het ons nog gou 'n stappie gedoen met 550 steentrappies op na 'n ou murasie bo-op 'n berg. Of halfpad teen die berg op, altans. Na 'n vinnige middagete gaan soek ons vir San Michaela se instituut, so 2 dorpe terug. Sylvio ontmoet ons in die parkeerterrein en vertel eers vir ons 'n bietjie oor die werk wat hulle op die druifgenoom doen voor hy ons die teelprogram gaan wys. 'n Baie gawe Italianer, hy het selfs vir ons 'n bottel wyn gekoop toe ons uitvra oor die wyn van die omgewing, en wou nie hoor dat ons hom terugbetaal nie.



Na die besoek het ons nog vinnig na 'n Via Ferrata in die omgewing gaan soek, maar dit was ongelukkig te laat om dit te probeer klim.

Geen opmerkings nie:

Projects