08 Julie 2010

Kangogrotte



Donderdagoggend nie te vroeg nie (so 10:00) is ons eers Prins Albert toe om vir Gay te gaan kuier en bietjie op te stock op kaas, yoghurt en melk. Ons is daar weg met 'n koeltas vol suiwel. Toe oor die Swartbergpas na Oudtshoorn, waar ons besluit ons het te lanklaas die Kangogrotte gedoen en sal beslis die avontuurtoer moet meemaak, veral teen die belaglike goedkoop (vir ons altwee wat onlangs oorsee was en oorsese pryse vir goed betaal het) R75 pp.



Ons groepie vir die toer was so gestruktureer: Die baas (gids), die tannies (ons) en die kleuterskool (3 jong couples wat gelyk het of hulle net 'n donker hoekie soek om in stout te wees). Nadat ons almal by die baas seker gemaak het dat ons dun genoeg is om deur al die gaatjies te squeeze, en die hele storie oor die tannie wat 3 jaar terug vasgesit het uit haar uitgetrek het, is ons deur die tonnels, gate en lysies. Dit was vet pret (eerder dun pret) en behalwe vir 'n knie-of kopstamp hier en daar, is ons sonder enige probleme deur.

Geen opmerkings nie:

Projects