06 Julie 2010

Stap 1: Val di Pozza di Fazza


Die volgende oggend is ons vroeg uit die vere - ons gaan uiteindelik doen waarvoor ons eintlik Italië toe gekom het (behalwe om by Stef en Yolandi te kuier). Ons gaan 'n ordentlike dagstap doen met rugsak en klimgear en Via Ferrata kit!

Eers moet ons dorp toe om middagete broodjies te gaan koop - maar, heellaas, dit is 'n Sondag en alles in die dorp is toe. Uiteindelik kry ons 'n koffiebar wat oop is waar ons peperduur croissants koop, en 'n Tabacci waar ons 'n ordentlike kaart kan koop. Ons het al op 'n min of meer roete besluit - een van die pieke wat ons uit die kampplek kan sien, en ons mission teen die helling uit onder die skilifts deur. Die onderste hellings is vol dennebome, en lekker steil al. Sommer gou is ons honger en kry 'n lekker plekkie vir 'n eerste Croissant. Dit is maar koud en nou en dan val 'n paar druppels. Na die Croissant het Riaan, wat die swaar sak vol klimgoed dra, ook weer 'n bietjie nuwe krag en ons pak die volgende steilte na die voet van die rotse aan. Op 'n stadium wou ons regs draai, maar daar is 'n bord dat die pad gesluit is, en ons gaan toe maar aan. Hoër en hoër en steiler en steiler, tot Riaan op die ou end sê dat ons maar moet omdraai. Ons moes bo-oor die piek en het geweet dat daar klomp sneeu op die ander kant lê, so ons sou waarskynlik nie die Via Ferrata kon doen nie. Ek wou baie graag net kyk hoe dit aan die ander kant lyk, maar ek het niks gedra nie en was dus nog vol energie, en dit het wel 'n bietjie exposed begin raak. Na 'n kort russie draai ons toe maar om en gaan soek die ander pad, want ons kon nie glo dat hy toe is nie. By die bord wat waarsku dat hy toe is gekom, sien ons dat daar ander mense gestap het nadat ons daar verby is, en ons besluit, as hulle dit kan doen, kan ons ook! Daar was groot stukke ys teen die kant van die berg, en ons het maar mooi in die ouens voor ons se voetspore getrap en met elke moeilike stuk waar ons deur is, gehoop dat ons nie dieselfde pad terug hoef te vat nie. Orals was stukke ys wat ons moes oor, en ook steil stukke skree. Op 'n stadium sien ons toe die mense voor ons sit en wag vir ons. Dis toe'n groep jongmense van Praag, en hulle het op 'n punt gekom waar dit te gevaarlik was om aan te gaan. Na lang beraadslagings en probeerslae, besluit ons toe om almal saam verder te stap, en reguit met die berg af te voeter en hoop ons word nie iewers deur 'n krans gestuit nie. Ons is af met 'n lang stuk skree waar mens maar gly-gly moes loop, en toe 'n hele ent af tussen die bome deur voordat ons 'n pad gekry het. Dit was 'n heel avontuurlike "aftog", en ons het darm ongedeerd onder uitgekom.

Geen opmerkings nie:

Projects