26 September 2010

Blomme op Olifantskoepel-stap


Ek is besig om te kyk of ek die blomme wat ons op die stap afgeneem het, met Manning se Wild flowers of South Africa kan identifiseer..Ek moet seker 'n bietjie tyd vat om die eerste hoofstuk "How to use this book" deur te lees en nie net die hele boek deur te blaai en kyk of ek 'n prentjie kry wat presies soos my foto lyk nie! Marie, as jy dalkies die lees en enige blomme herken, sal dit great wees as jy kan help. Dit lyk of jy 'n arsenaal SA blomname in jou kop het, of 'n baie goeie reference!

Die een het ek gevind! Dit is Empodium plicatum, oftewel Autumn Star, en het ook die pragtige Afrikaanse naam Ploegtydblommetjie.


Die mooiste blomme, ons het hulle net in die skadu van een enkele rotswand gekry. Dit lyk baie soos die Australian Flannel flower, Actinotus helianthi, wat deel is van die wortelfamilie. Maar sal dit nou hy wees wat hier ook groei?

Lachenalia mutabilis

Definitief 'n Nemesia, maar watter een? Die ore en neusie lyk soos 'n hasie. Aha, het hom gevind (dankie aan die Holtzhausens). Nemesia Cheiranthus.


Nog onbekend..

Die een het Jeanne genoem: Voëltjie-kan-nie-sit-nie plant. Sy blare steek seer. Ek het eers gedog dis climber's friend, maar dit is toe blykbaar nie.

Nog onbekend..


Pelargonium myrrhifolium.

chincherinchee [ˌtʃɪntʃərɪnˈtʃiː -ˈrɪntʃɪ]
n
(Life Sciences & Allied Applications / Plants) a bulbous South African liliaceous plant, Ornithogalum thyrsoides, having long spikes of white or yellow long-lasting flowers
[of unknown origin]


Olifantskoepel: toe en nou

Wat maak mens met 'n langnaweek? Dis nou as mens nie kultivaria toe gaan nie, nie by die huis bly en sleg wees nie, nie kuiermense het nie, nie familieverpligtinge het of onnadenkende vriende wat troues in die middel van 'n langnaweek reël nie, ens.Mens gaan klim berg, natuurlik! Veral as die bergclub so gaaf is om 'n super lekker uitstappie na Olifantskoepel te reël. Ook veral omdat die betrokke uitstappie uitgereën het in September 2007, toe ons hom ook wou doen...

2007: Ons het wel tot by die kampplek gekom, maar ons het skaars tent opgeslaan toe dit begin reën, en dit het sonder ophou gereën tot die volgende laatmiddag, toe ons en die Holtzhausens en 2 Duitsers besluit het ons het nou genoeg gehad van in die tent lê en slaap, en maar in die reën afgestap het en by Ceres Spur gaan eet het. Ons het hierdie naweek uitgevind dat die res van die span die Sondag gaan soek het na die koepel, maar dit nie gevind het nie, so ons het niks gemis deur af te stap nie. (Lees die blog van Karen Watkins.) Hier is 'n paar fotos van 2007 se poging:


So het ons tent-opstelling gelyk.


Karin Watkins het tot dit begin reën het, geglo dit gaan nie reë nie, want sy het met haar meteoroloog gepraat en die het gesê bewolk maar geen reën. So 'n hoë agting het sy van die man (of dalk vrou) se opinie gehad, dat sy en haar twee makkers nie eens 'n tent opgedra het nie. Gelukkig was daar 'n skuilingkie by die kampplek wat hulle die "chicken coup" noem, en die 3 het dit toe maar hulle huis gemaak. Toe ons die Saterdagoggend vinnig tussen die buie deur gaan seker maak dat hulle darm nie verkluim het nie, was hulle besig om meusli met rooiwyn vir ontbyt te nuttig!

Ons en Jeanette en Nico het maar so deur die tente met mekaar gesels as ons moeg was van slaap. Ongelukkig het ons nie veel anders gehad om te doen nie - niemand het eens 'n boek gebring nie. Die Switsers het ons vermaak deur 'n groot deel van die dag om te yodel in hulle tentjie.

2010: Nou kom ons by die pas afgelope naweek se meer suksesvolle poging. Die weer het die slag gesê: Vrydag sonnig, Saterdag bewolk maar geen reën, Sondag bewolk met later die middag dalk reën.
En dit was ook so. Vrydag was 'n heerlike sonnige dag. Ons het so half 11 begin stap, lekker rustig, en ook heelwat verder gekom as in 2007 voor ons tent opgeslaan het. Ons was net 6 mense - die leier en sy vrou (Hans en Elsje Scheffler), die Doorduine (dis nou ons), Louise en Jeanne (wat op 65 baie beter stap as meeste jongmense wat ek ken!).

Middagete in die berg:
Rogbrood en kaas


In 2007 het die Chicken-coup slapers 4 bottels rooiwyn opgedra - die keer het Jeanne 'n blik bier ingepak. Wat is dit met stappers en drank??? Soos ons geleer is, dra mens niks ander drinkgoed as game en melkpoeier nie..


Ons uitsig op die volgende dag se doel: die ronde koepeltjie in die agtergrond is Olifantskoepel. Die effens platter een aan sy regterkant is Agtuurkop.

Louise se tent kon mooi perspektief gee aan die pragtige sonsondergang. Koue Bokkeveld Tafelberg in die agtergrond.


Saterdagoggend is ons vroeg uit die vere en half 9 oppad na die koepel. Daar is 'n hele klompie heuwels en afgronde tussen ons en ons bestemming. Gelukkig het Hans die roete 8 jaar terug gestap en het hy 'n goeie geheue en 'n GPS, en gelukkig het vorige stappers darm 'n paar bakens gepak op plekke waar mens maklik kan afdwaal.

Op pad moet 'n paar mal mense eers 'n toring of 2 klim. Ons ma's sal bly wees om te weet dat dit nie een van ons twee was nie! Dit maak wel mooi fotos... maar ons is heel ok daarmee dat dit maar iemand anders op die foto kan wees.


Uiteindelik bo, net mooi betyds vir middagete. Toe ons bo kom, staan 'n bok mooi ge-silhouette bo op Agtuurkop. Hy het ons 'n hele tyd lank gestaan en dophou. Wonder wat hy van die klomp ape gedink het wat in sy gebied kom rondsnuffel.


Agtuurkop vanaf Olifantskoepel (as 'n mens baie mooi kyk kan jy dalk die bok raaksien..) Die Olifantsriviervallei is in die agtergrond- Citrusdal verdwyn in die mis.


Summit!


Oppad terug het mens 'n mooi uitsig op die Agtersteriviervallei.

Ons was daar!


Sondagoggend staan ons op in yskoue mis en wind. Gelukkig nie reën nie. Ons laat vaar toe maar ons planne om die Drie Koppe ook te klim, en vat die pad af na waar die karre staan.

Hier is 'n Kaart van die roete...

Dankie aan almal wat saamgestap het vir 'n super stap en goeie geselskap!

Kaapstad


Marna moes laasweek Donderdag haar visa vir DE gaan uitsorteer, en aangesien ek deesdae in die gelukkige posisie is om Donderdae af te hê, het ons sommer 'n dag daarvan gemaak en toeris gespeel. Ons het dit ook sommer oordentlik gedoen, met publieke vervoer - die trein van Tygerberg af in stad toe gevat. Vir Marna is dit 'n alledaagse ding, maar ek kan die kere wat ek al 'n trein in ons eie land gebruik het, op my een hand aftel. Toe ons baie klein was en nog van rooi hoesstroop en brieflekkers gehou het, het ons gesin een slag die spreekwoordelike trein na Pretoria gevat. Of was dit nou Durban? Kan nie eers onthou nie. Ek onthou net die rooi hoesstroop (iemand was seker siek) en brieflekkers. Iewers in die laerskool het ek en my ma ook Kaap toe gery met die trein. Nogal derdeklas. En saam met 'n groot spul betogers in 'n trok beland. Dit was dalk 'n minder goeie idee, maar tog interessant. Iemand (een of ander oom) het vreeslik met ons geraas dat ons dit waag om derdeklas te ry, twee vrouens alleen, en toe het ons maar ons terug-kaartjies in die stad weggegooi en eersteklas kaartjies gekoop vir die terugrit. Dan was daar die keer wat Marna se hartsbegeerte was om 'n katkop op 'n sypadjie in die Kaap te gaan eet. Aangesien ek en Marisa as goeie vriendinne haar nie alleen kon laat gaan nie, het ons 3 ons op die trein na die stad bevind. Dit was 'n baie lekker dag - ons het die katkop in Kloofstraat voor 'n kafee met 'n hospitaal-blokkiesvloer geëet, en 'n groot gemors gemaak met 'n mango in die trein oppad terug! Dan het ek ook al met die Shozoloza Meyl van Burgersdorp af Johannesburg toe gery, en darm ook al die Simonstad brekfistrein gedoen.So dis 5. Een hand.

Die treinrit was heel ok, en Kaapstad stasie is nogal baie mooi oorgedoen. Heel eerste het ons gaan seker maak dat ons weet waar die Duitse
amassade is, en toe 'n lekker koffiewinkel daar naby gevind vir 'n cuppoccino en broodjie. Toe eers die papierwerk gaan afhandel, en daarna
op een van die rooi "topless" hop-on-hop-off busse geklim. Dit is 'n baie oulike manier om die stad vinnig te sien en te besluit waar om meer tyd te spandeer. Kos R120 vir die dag (Of R200 vir 2 dae - en dan kan mens op altwee roetes ry) en ry regdeur die stad en dan Kampsbaai en Seepunt
om tot in die Waterfront, en dan weer terug tot by die CTICC (dis waar ons opgeklim het). Mens kan op en aflim soos jy wil met dieselfde kaartjie. Hulle het oorfoontjies wat mens inplug op die bus, en gee kommentaar oor al die besienswaardighede en interessanthede van die stad. Baie oulike staaltjies en inligting wat mens nie weet nie, soos dat die standbeeld van Jan van Riebeeck in Adderley St. heeltemal die verkeerde klere aanhet vir die era van Van Riebeeck!

Ons het eerste by die St. George's Katedraal afgeklim. Baie mooi plek, wees net bewus daarvan dat, indien jy daar sou wou trou,
dit in jou plan ne moet inwerk dat Sy Edele Emeritus Biskop Desmond Tutu dalk die Katedraal sal wil gebruik vir belangrike sake op die oggend van jou troue, en jou troue (wat natuurlik minder belangrik is) dan maar 'n rukk
ie sal moet wag!

Daarna was ons by die Holocaust museum.
Die uitstallings is uitstekend gedoen, en die museum is gratis. Dit is baie baie sad om weer die hele geskiedenis so uitgebeeld te sien. Net langsaan is die Joodse museum, wat ook blykbaar baie goed is, maar ons het ongelukkig nie daarvoor tyd gehad nie. My goeie vriendin Melanie, se goeie vriendin Kim was in die Kaap uit New Zealand vir 'n paar dae, en ons het hulle vir middagete gekry in die tuine. Dit was baie nice om hulle te ontmoet , en ons het lekker gekuier vir so 'n uur. Tog jammer vir hulle dat die weer vir die hele week wat hulle hier was, nie so lekker saamgespeel het nie.

Toe weer op die bus, en die slag het ons bly sit tot in Kampsbaai, waar ons vir 'n volgende versnappering afgeklim het. Egte Spaanse hot chocholate (daai wat mens so amper met die lepel moet uitskep) in 'n Oyster Bar. Die sonnetjie het toe net lekker by die venster ingeskyn. by Seepunt het ons weer afgeklim, en al met die promonade langs gestap tot by die volgende stop. Iemand het 'n baie oulike reeks beelde gemaak - 'n storie van 'n dogtertjie en haar drome, al met die promonade langs.

Terug by die CTICC moes ons vinnig 'n
trein vang, want ek het die tyd 'n bietjie verkeerd uitgereken, en moes nog by Spaanse afskeid in Wellington wees 6pm!





Thanks Marna vir 'n heerlike uitstappie!



Die Standerd bank gebou is actually die oudste werkende bankgebou in SA. Volgens die bus se info.


Tog goed dat mens nou net jou kop kan skud oor dinge wat eens op 'n tyd as vanselfsprekend aanvaar was in die land van ons.


'n Baie piekante pienk bakkery. Ons het net met die bus hier verby gery, maar ek wonder of hulle allerhande interessant versierde cupcakes het! Dit lyk of hulle moet hê, dalk so 'n spread soos Limno's.


Kampsbaai (een van Kaapstad se skuldbulte!)

Een van die promonade se standbeelde by Seepunt.


Ons goeie ou kasteel - of 'n deel daarvan ten minste. Leerdam was ons rooi span op Laerskool.


Ondanks die feit dat hy troues ophou, sê die Emeritus darm 'n paar waar goete ook.


'n Mooi prent op 'n muur. Ek wonder watter wet die kunstenaar van praat...






22 September 2010

Man at work!


Sy storie:

Net 'n blik op my gewone takies vir die aand.

Haar storie:

Die ongewone verskynsel is 'n post (met fotos) werd. Hy het dit amper reggekry om my te oortuig dat hy dit elke aand sou doen as die wasbak net 'n bietjie hoër was. :)


19 September 2010

David Helfgott


Ons het vannand die geleentheid gehad om na David Helfgott te luister. Wat 'n ongelooflike talent. Wow. Ons het heel toevallig ook die fliek wat oor hom gemaak is gekyk so paar aande terug.

Hier is 'n foto voor die vertoning in die Kaapstad se stadsaal.

(Nie eintlik so heeel toevallig nie, ek het dit uitgeneem ter voorbereiding op die vertoning - KD)

Ongelukkig is ons streng gewaarsku dat ons nie fotos van Helfgott mag neem terwyl hy speel nie, wat ons maar gehoorsaam het. Die laatmiddagson was baie mooi op die stadsaal toe ons uitkom, toe neem ons maar nog 'n paar fotos buite.

Blokkop

Yep, ek dink dit is wat dit genoem word... Hier is so lusmakertjie voor ek inval met die storie:
So het ek en Colyn besluit om erens 'n naweek in die berg in te voeter. Nie 'n spesifieke berg nie, net 'n berg. Hiernatoe en daarnatoe en toe besluit ons op blokkop.
  1. Colyn werk in die kontrei en het gewonder wat daar bo aangaan.
  2. Ek het van klein tyd af gedink as ons na Oupa en Ouma ry dat ek wil weet wat daar bo aangaan.
Maklik! So toe voeter ons daar op. Rugsakkies met kos en reen kit en Colyn se nuwe hond Flint is ook saam.
So suiker ons dus op... Gesels gesels los ons die wereld se probleme op. Arme Flint het so nou en dan water gekry en waar daar 'n stroompie was is die swart noord arktiese hibriede in 'n water stroompie gelos om te laat lawe...

Bo gekom eers die nodige fotos geneem. En tweede middagete geeet. Lekker. Arme Flint was hond-moeg gewees...

Die berg was baie mooi en gelukkig was daar baie water. Mens vergeet partykeer watter lekker spons die berg is. Heeltyd het ons baie mooi blommetjies gesien. Hier onder is 'n paar fotos...
Wat 'n lekker dag... Lekker saamkuier. Bietjie weer sweet en son voel op mens se vel. Dankie vir die idee Colyn!

Projects