01 September 2010

Hondeklipbaai



Van Garies af het ons Leliefontein om gery, en toe net onder die Namakwa-nasionale park verby na Hondeklipbaai. As die tannie op die GPS nie vir ons gesê het dat ons 3.5 ure gaan neem om in Hondeklipbaai uit te kom nie, sou ons lekker 'n draai deur die park gery het op soek na nog blomme, maar ons glo haar toe en besluit om maar aan te skuif. 'n Uur later was ons in Hondeklipbaai! Weet nie met watter kaarte werk sy nie, of dalk is sy op Afrika tyd.

Hondeklipbaai is 'n tipiese Weskus dorpie waar daar baie min aangaan. Die dorp is meestal hop-huisies, met so hier en daar 'n strandhuis tussenin. Ons het die karavaanpark gaan soek - net 'n area met 'n muur om, en darm 'n badkamer. Eers 'n storie om die sleutel van die badkamer te kry. Daar was 'n ouerige couple wat 'n karavaan en tent daar ingerig het wat gelyk het of hulle vir 'n paar weke daar staan. Enigste mense op die kampeerplek, en hulle stuur ons toe na die gesondheidsentrum toe waar ons, oorkant die sentrum, 'n blou huisie sal vind waar die vrou vir ons 'n sleutel sal gee. Toe ons die sentrum vind, sien ons dat al die huisies rondom die gebou blou is. Ons vra toe iemand langs die pad, en sy wys ons na die "blou huis" reg waar ons staan. Die vrou wil toe nie vir ons 'n sleutel gee nie, en stuur ons terug na die couple by die karavaanpark. Hulle moet maar hulle sleutel met ons deel. Hulle was nie baie happy nie, maar het dit maar gedoen op die ou end.





Ons was weereens redelik pootuit, en het na 'n lekker warm stort net kos gemaak en in die bed geklim terwyl ons kyk hoe die son oor die water sak. Ons was redelik seker daarvan dat ons op die plekkie darm 'n goeie nagrus sou kon kry, die mense van die sleutel het nie na die raserige tipe gelyk nie. Maar wragtig, ons het net ingesluimer, toe begin iemand in die dorp discomusiek speel. Daai doef-doef wat reg deur jou lyf gaan, en wat by jou uitkom maak nie saak hoeveel deure jy toemaak en kussings jy oor jou kop trek nie. Dit was sielsversondigend, en ons het later begin praat daaroor om maar te ry en die bakkie iewers net buite die dorp van die pad af te trek en daar te slaap. Ons het nie sover gekom om uit te klim en dit te doen nie, en moes seker later ingesluimer het, want toe ons 3 am wakker word, was dit gelukkig stil. Ons het altwee gedroom dat ons mekaar iewers soek (Tulbagh in my geval) en dat hulle daar dieselfde musiek as in Hondeklipbaai speel!

Volgende oggend die dorp bietjie gaan verken, en met 3 mense gesels wat op die strand geloop het. Ons wou weet wat al die mense wat in die hop-huisies woon, doen. Blyk dat van hulle by Kleinsee en ander plekkies in die omgewingin die myne werk en dan net naweke huis toe kom na HKB, meeste op all-pay leef, en die res smokkel. Diamante en seekos. Ons het ook uitgevind dat die geboutjie wat in die baai staan, 'n ys-stoor was vir toe die fabriek nog 'n kreef-fabriek was. Dit was toe met 'n jetty aan die kus verbind, wat nou al weggespoel het. Ook dat die wrak wat regs in die baai lê, 'n gekaapte skip was wat, voor dit gekaap was, oppad was Angola toe. Hulle het toe hier gestrand, en die kapers het weggehardloop.
Daar lê ook twee of 3 wrakke van diamantsuigbote in die baai, wat 'n jaar of twee gelede in 'n woeste storm gesink het. Daar was juis mense op so 'n boot besig om te duik vir diamante die oggend.

Oppad in die dorp in Saterdagmiddag het ons borde gesien na die Aristea se wrak, wat ook spog met braai-geriewe. Ons moes eers daar ook gaan kyk. Nogal sad om te sien hoe so 'n klomp yster net lê en oproes. Ons het aan die moontlikheid gedink om dit in die nagte te kom opsaag en as scrap te gaan verkoop, en met die geld 'n erfie daar te koop, maar toe besluit dat HKB bietjie ver van die huis af is.

Nadat ons vir die kampplek gaan betaal het (R100, wat vir ons BAIE duur is vir 'n staanplek waar daar regtig niks is nie, net toegang na 'n badkamer), was ons baie lus vir koffie, en klop aan by 'n mooi kaap Hollandse restaurant, (http://www.fishermancottage.co.za/about%20us.htm) waar Stanley ons verwelkom met die woorde "ek het nie ontbyt nie, maar wel koffie en 'n vars yskastert." Dit klink toe nie te sleg nie, en ons kuier 'n rukkie met Stanley voor ons die laaaang pad huistoe aandurf. Wat volgens die GPS tannie 8.5 uur sou neem, maar net 4 uur was op die ou end.





Geen opmerkings nie: