26 September 2010

Kaapstad


Marna moes laasweek Donderdag haar visa vir DE gaan uitsorteer, en aangesien ek deesdae in die gelukkige posisie is om Donderdae af te hê, het ons sommer 'n dag daarvan gemaak en toeris gespeel. Ons het dit ook sommer oordentlik gedoen, met publieke vervoer - die trein van Tygerberg af in stad toe gevat. Vir Marna is dit 'n alledaagse ding, maar ek kan die kere wat ek al 'n trein in ons eie land gebruik het, op my een hand aftel. Toe ons baie klein was en nog van rooi hoesstroop en brieflekkers gehou het, het ons gesin een slag die spreekwoordelike trein na Pretoria gevat. Of was dit nou Durban? Kan nie eers onthou nie. Ek onthou net die rooi hoesstroop (iemand was seker siek) en brieflekkers. Iewers in die laerskool het ek en my ma ook Kaap toe gery met die trein. Nogal derdeklas. En saam met 'n groot spul betogers in 'n trok beland. Dit was dalk 'n minder goeie idee, maar tog interessant. Iemand (een of ander oom) het vreeslik met ons geraas dat ons dit waag om derdeklas te ry, twee vrouens alleen, en toe het ons maar ons terug-kaartjies in die stad weggegooi en eersteklas kaartjies gekoop vir die terugrit. Dan was daar die keer wat Marna se hartsbegeerte was om 'n katkop op 'n sypadjie in die Kaap te gaan eet. Aangesien ek en Marisa as goeie vriendinne haar nie alleen kon laat gaan nie, het ons 3 ons op die trein na die stad bevind. Dit was 'n baie lekker dag - ons het die katkop in Kloofstraat voor 'n kafee met 'n hospitaal-blokkiesvloer geëet, en 'n groot gemors gemaak met 'n mango in die trein oppad terug! Dan het ek ook al met die Shozoloza Meyl van Burgersdorp af Johannesburg toe gery, en darm ook al die Simonstad brekfistrein gedoen.So dis 5. Een hand.

Die treinrit was heel ok, en Kaapstad stasie is nogal baie mooi oorgedoen. Heel eerste het ons gaan seker maak dat ons weet waar die Duitse
amassade is, en toe 'n lekker koffiewinkel daar naby gevind vir 'n cuppoccino en broodjie. Toe eers die papierwerk gaan afhandel, en daarna
op een van die rooi "topless" hop-on-hop-off busse geklim. Dit is 'n baie oulike manier om die stad vinnig te sien en te besluit waar om meer tyd te spandeer. Kos R120 vir die dag (Of R200 vir 2 dae - en dan kan mens op altwee roetes ry) en ry regdeur die stad en dan Kampsbaai en Seepunt
om tot in die Waterfront, en dan weer terug tot by die CTICC (dis waar ons opgeklim het). Mens kan op en aflim soos jy wil met dieselfde kaartjie. Hulle het oorfoontjies wat mens inplug op die bus, en gee kommentaar oor al die besienswaardighede en interessanthede van die stad. Baie oulike staaltjies en inligting wat mens nie weet nie, soos dat die standbeeld van Jan van Riebeeck in Adderley St. heeltemal die verkeerde klere aanhet vir die era van Van Riebeeck!

Ons het eerste by die St. George's Katedraal afgeklim. Baie mooi plek, wees net bewus daarvan dat, indien jy daar sou wou trou,
dit in jou plan ne moet inwerk dat Sy Edele Emeritus Biskop Desmond Tutu dalk die Katedraal sal wil gebruik vir belangrike sake op die oggend van jou troue, en jou troue (wat natuurlik minder belangrik is) dan maar 'n rukk
ie sal moet wag!

Daarna was ons by die Holocaust museum.
Die uitstallings is uitstekend gedoen, en die museum is gratis. Dit is baie baie sad om weer die hele geskiedenis so uitgebeeld te sien. Net langsaan is die Joodse museum, wat ook blykbaar baie goed is, maar ons het ongelukkig nie daarvoor tyd gehad nie. My goeie vriendin Melanie, se goeie vriendin Kim was in die Kaap uit New Zealand vir 'n paar dae, en ons het hulle vir middagete gekry in die tuine. Dit was baie nice om hulle te ontmoet , en ons het lekker gekuier vir so 'n uur. Tog jammer vir hulle dat die weer vir die hele week wat hulle hier was, nie so lekker saamgespeel het nie.

Toe weer op die bus, en die slag het ons bly sit tot in Kampsbaai, waar ons vir 'n volgende versnappering afgeklim het. Egte Spaanse hot chocholate (daai wat mens so amper met die lepel moet uitskep) in 'n Oyster Bar. Die sonnetjie het toe net lekker by die venster ingeskyn. by Seepunt het ons weer afgeklim, en al met die promonade langs gestap tot by die volgende stop. Iemand het 'n baie oulike reeks beelde gemaak - 'n storie van 'n dogtertjie en haar drome, al met die promonade langs.

Terug by die CTICC moes ons vinnig 'n
trein vang, want ek het die tyd 'n bietjie verkeerd uitgereken, en moes nog by Spaanse afskeid in Wellington wees 6pm!





Thanks Marna vir 'n heerlike uitstappie!



Die Standerd bank gebou is actually die oudste werkende bankgebou in SA. Volgens die bus se info.


Tog goed dat mens nou net jou kop kan skud oor dinge wat eens op 'n tyd as vanselfsprekend aanvaar was in die land van ons.


'n Baie piekante pienk bakkery. Ons het net met die bus hier verby gery, maar ek wonder of hulle allerhande interessant versierde cupcakes het! Dit lyk of hulle moet hê, dalk so 'n spread soos Limno's.


Kampsbaai (een van Kaapstad se skuldbulte!)

Een van die promonade se standbeelde by Seepunt.


Ons goeie ou kasteel - of 'n deel daarvan ten minste. Leerdam was ons rooi span op Laerskool.


Ondanks die feit dat hy troues ophou, sê die Emeritus darm 'n paar waar goete ook.


'n Mooi prent op 'n muur. Ek wonder watter wet die kunstenaar van praat...






Geen opmerkings nie:

Projects