26 September 2010

Olifantskoepel: toe en nou

Wat maak mens met 'n langnaweek? Dis nou as mens nie kultivaria toe gaan nie, nie by die huis bly en sleg wees nie, nie kuiermense het nie, nie familieverpligtinge het of onnadenkende vriende wat troues in die middel van 'n langnaweek reël nie, ens.Mens gaan klim berg, natuurlik! Veral as die bergclub so gaaf is om 'n super lekker uitstappie na Olifantskoepel te reël. Ook veral omdat die betrokke uitstappie uitgereën het in September 2007, toe ons hom ook wou doen...

2007: Ons het wel tot by die kampplek gekom, maar ons het skaars tent opgeslaan toe dit begin reën, en dit het sonder ophou gereën tot die volgende laatmiddag, toe ons en die Holtzhausens en 2 Duitsers besluit het ons het nou genoeg gehad van in die tent lê en slaap, en maar in die reën afgestap het en by Ceres Spur gaan eet het. Ons het hierdie naweek uitgevind dat die res van die span die Sondag gaan soek het na die koepel, maar dit nie gevind het nie, so ons het niks gemis deur af te stap nie. (Lees die blog van Karen Watkins.) Hier is 'n paar fotos van 2007 se poging:


So het ons tent-opstelling gelyk.


Karin Watkins het tot dit begin reën het, geglo dit gaan nie reë nie, want sy het met haar meteoroloog gepraat en die het gesê bewolk maar geen reën. So 'n hoë agting het sy van die man (of dalk vrou) se opinie gehad, dat sy en haar twee makkers nie eens 'n tent opgedra het nie. Gelukkig was daar 'n skuilingkie by die kampplek wat hulle die "chicken coup" noem, en die 3 het dit toe maar hulle huis gemaak. Toe ons die Saterdagoggend vinnig tussen die buie deur gaan seker maak dat hulle darm nie verkluim het nie, was hulle besig om meusli met rooiwyn vir ontbyt te nuttig!

Ons en Jeanette en Nico het maar so deur die tente met mekaar gesels as ons moeg was van slaap. Ongelukkig het ons nie veel anders gehad om te doen nie - niemand het eens 'n boek gebring nie. Die Switsers het ons vermaak deur 'n groot deel van die dag om te yodel in hulle tentjie.

2010: Nou kom ons by die pas afgelope naweek se meer suksesvolle poging. Die weer het die slag gesê: Vrydag sonnig, Saterdag bewolk maar geen reën, Sondag bewolk met later die middag dalk reën.
En dit was ook so. Vrydag was 'n heerlike sonnige dag. Ons het so half 11 begin stap, lekker rustig, en ook heelwat verder gekom as in 2007 voor ons tent opgeslaan het. Ons was net 6 mense - die leier en sy vrou (Hans en Elsje Scheffler), die Doorduine (dis nou ons), Louise en Jeanne (wat op 65 baie beter stap as meeste jongmense wat ek ken!).

Middagete in die berg:
Rogbrood en kaas


In 2007 het die Chicken-coup slapers 4 bottels rooiwyn opgedra - die keer het Jeanne 'n blik bier ingepak. Wat is dit met stappers en drank??? Soos ons geleer is, dra mens niks ander drinkgoed as game en melkpoeier nie..


Ons uitsig op die volgende dag se doel: die ronde koepeltjie in die agtergrond is Olifantskoepel. Die effens platter een aan sy regterkant is Agtuurkop.

Louise se tent kon mooi perspektief gee aan die pragtige sonsondergang. Koue Bokkeveld Tafelberg in die agtergrond.


Saterdagoggend is ons vroeg uit die vere en half 9 oppad na die koepel. Daar is 'n hele klompie heuwels en afgronde tussen ons en ons bestemming. Gelukkig het Hans die roete 8 jaar terug gestap en het hy 'n goeie geheue en 'n GPS, en gelukkig het vorige stappers darm 'n paar bakens gepak op plekke waar mens maklik kan afdwaal.

Op pad moet 'n paar mal mense eers 'n toring of 2 klim. Ons ma's sal bly wees om te weet dat dit nie een van ons twee was nie! Dit maak wel mooi fotos... maar ons is heel ok daarmee dat dit maar iemand anders op die foto kan wees.


Uiteindelik bo, net mooi betyds vir middagete. Toe ons bo kom, staan 'n bok mooi ge-silhouette bo op Agtuurkop. Hy het ons 'n hele tyd lank gestaan en dophou. Wonder wat hy van die klomp ape gedink het wat in sy gebied kom rondsnuffel.


Agtuurkop vanaf Olifantskoepel (as 'n mens baie mooi kyk kan jy dalk die bok raaksien..) Die Olifantsriviervallei is in die agtergrond- Citrusdal verdwyn in die mis.


Summit!


Oppad terug het mens 'n mooi uitsig op die Agtersteriviervallei.

Ons was daar!


Sondagoggend staan ons op in yskoue mis en wind. Gelukkig nie reën nie. Ons laat vaar toe maar ons planne om die Drie Koppe ook te klim, en vat die pad af na waar die karre staan.

Hier is 'n Kaart van die roete...

Dankie aan almal wat saamgestap het vir 'n super stap en goeie geselskap!

Geen opmerkings nie: