29 Desember 2010

Kersfees op Pringlebaai


'n Naweek van son en see en sand en BAIE wind. En lekker kuier!

Die beste kersgeskenk: Stef en Yolandi was hier van Angola af!

'n Bietjie presente.

Lappe uit Luanda.


Driehoek se blomme

Bloedwortel familie: Dilatris ixoides)

Gladiolus (undulatus: vleipie ?)

Cape Poker (Kniphofia uvaria)

Onbekende Pelargonium

20 Desember 2010

Driehoek


Deur Donderdag se vakansiedag met Vrydag se werksdag om te ruil, kon mens 'n langnaweek maak van die afgelope naweek sonder om 'n waardevolle vakansiedag te vat. Dit was effe reënerig, wat ons die tyd van die jaar erg verwelkom. Riaan wou sommer sy afdag al Donderdag inwerk, so ons is eers 22:30 by die huis weg, en het in 'n redelike reënbui om 00:30 by Driehoek aangekom, in 'n stil en donker kampplek. Niemand het eers 'n vuurtjie vir ons laat brand nie. Alhoewel dalk het hulle, maar dan het hy doodgereën.Gelukkig is ons kampmetodes baie in-die-reën-kamp-opslaan vriendelik, en ons het lekker met die reën op die bakkie se dak aan die slaap geraak.
Vrydagoggend was Jaco heel verbaas toe hy uit sy tent klim
en ons langs hulle gewaar - ons het darm stil genoeg aangekom om niemand wakker te maak nie!

Vrydag het ek saam met Jaco en Telani 'n lekker (verder as verwagte)
stappie na Welbedacht grot aangepak wat die grootste deel van die dag geneem het. Met 'n heerlike swem in die yskoue swemgat daarna.



Die res van die naweek was rustig, ons aktiwiteite het gewissel tussens stap (Jaco en Telani het hier die beste gevaar, hulle het die Maltese Kruis ook Saterdag aangepak. Ons het dit maar geskip a.g.v. swangerskap-moegheidsindroom by my en eintlik-ook-nie-lus-nie-maar-noem-dit-maar- simpatieke-bystand by Riaan), lees, swem, en kuier.


Dankie aan Jaco wat in al my dry-lemon cravings voorsien het! En dankie aan die Murrays vir die idee van die naweek (dink ek), en dankie aan my heel beste man vir 'n heerlike weg-naweek al was hy waarskynlik meer lus om by die huis te bly en te slaap.

11 Desember 2010

Aankondiging

Soos aangekondig op Sinterklaas, 9 Desember 2010


Aan al die familie wyd en suid

Stuur ons vanaand ‘n aankondiging uit

Aan al ons vriende klein en groot

Vanaand is die aand, die nuus moet voort

Hiermee het Sint, die liewe man, niks te doen

Van jaloesie raak hy skoon groen

Want kyk, kinders het hy nie self

Nog minder ‘n sintlike wederhelf

Hy maak elke jaar ‘n klomp kinders bly

Maar babatjies kan hy nie self kry

Daarom mag hy en almal hier dit darm vanaand saam vier

‘n Nuwe klein Doorduin is amper hier!

Ode aan Ma Marti - so op die vooraand van 60.

Sjoe maar hierdie jaar is dol
Sint het sy hande heeltemal vol
Wat met spesiale versoeke, kombuistees en 60ste verjaardae
Was daar maar meer stout kinders
Dan het Swarte Piet meer werk gehad met die pakke slae

Maar nou ja, Sint het al hierdie werkies nodig
Netnou raak hy totaal oorbodig
Hy moet tog sy salaris verdien
Want hy wil ook met vakansie, sien

So fokus nou op Marti van den Dool
Sy is ook lankal nie meer op skool
Haar 60ste verjaardag is op koms
En oral is die gedagtes aan die gons

Haar verjaardag word elke jaar meestal gemis
Omdat die Dole ver weg met vakansie is
Nou het almal gedink die goeie tyd is hier
Om maar so 'n bietjie haar verjaardag te vier

'n Goeie partytjie sal ons later moet hou
Maar tog moet daar 'n geskenkie gegee word, gou!
So van al die familie hier
Kry Marti nou haar nuwe gier
'n Masjien wat kan roer en brou en bak
Kyk net hier wat het Sint in sy sak!

Sinterklaas!

Na vele heen en weer eposse, gebellery en sms'se, is ons familie op 9 Desember bymekaar vir ons jaarlikse Sinterklaasviering. Nogal almal behalwe Rudi en Mariette (wat in London sit) , Kim (wat ook in London sit) en Riaan, Adri en Mieke wat besluit het hulle trek bietjie op Goudstad toe. Die res was voltallig. Plus 'n paar besoekers wat Lise saamgebring het van Tsaneen af, en Simone se nuwe outjie wat ook vir die eerste keer 'n Sinterklaas mog meemaak.
Nadat al die lasagne, slaai, koue koffie en koue chocholate, plus nog een en ander verorber is, het die presente begin. Kyle en Simone was die reëlingskomitee hierdie jaar, en persente is volgens hulle vooropgestelde lys uitgedeel.

Iewers na die eerste paar presente, het Sint self ook sy opwagting gemaak om vir Marti 'n spesiale aflewering te kom maak vir haar 60ste wat op koms is. Ons was egter te laat by die deur om hom te vang, ai!

Sy was duidelik effe onkant gevang, maar tog bly met haar nuwe broodmasjien.

Marianne wys haar present.

Robbie het sy Meestersgraad Cum Laude geslaag, en moes ook daarvoor beloon word. Marianne het hom namens almal oor die kop geslaan met sy geskenk: 'n pan met 'n tossel aan.

Kyle trek in sy eie woonstel in, en ons het sommer sy kitchentea ook gehou. Ook 'n verassing..

All in all 'n gesellige aand, met 'n klomp ekstra dinge.. en aankondigings. Daaroor sal ek op 'n ander post uitbrei...

05 Desember 2010

Die seilseisoen op Soutfontein is oop!

As gevolg van Cape Talk se weerberig wat verwoestende winde in en om Kaapstad voorspel het vir die naweek, het 'n kamp/seil naweek in 'n seiltjie op ons dam ontaard.
Dit was ook lekker.



Projects