24 Januarie 2011

Speelkamer word babakamer

Ons het wel die res van ons naweek-aktiwiteite op CCD vasgelê. In EEN dag (ons is redelik trots op hierdie feit) het ons speelkamer 'n babakamer geword.

Die verfproses, wat nie heeltemal uitgekom het soos verwag nie, maar tog op die ou end ons goedkeuring wegdra.

Die eindproduk. Ok, dit lyk nog nie heeltemal na 'n babakamer nie (let op die cool stootwaentjie in die hoek), want die baba-rige goed kort nog. Daar is wel plek vir 'n cot (regs af van die foto), en hopelik genoeg wegpakplek vir doeke en kleertjies (wat het mens nog vir baba nodig, dis darm seker al?)

Dis die res wat oorbly. Ons weet nog nie heeltemal waar dit alles heen moet nie.

Kalkbaai omgewing uitstappie

Ons het Saterdag 'n baie lekker stap aangepak saam met die bergklub, onder leiding van Nico Holtzhausen, in die berge bo Kalkbaai. Daar was 26 mense, nogal 'n groot groep vir so 'n uitstappie. Ek was effens bekommerd oor die pas van die stap, maar Jeanette het my heel aan die begin verseker dit sal 'n stadige pas wees, want die meeste mense op die stap is of bejaard of swanger! Dit was heerlike weer vir stap, lekker bewolk en koel, en ons het 'n baie interessante stuk klouter gehad so halfpad. Ons het domweg altwee ons kamera's vergeet, so het ongelukkig geen fotos om te bewys dat ons wel gestap het nie. Net seer spiere en goeie memories.

Augrabies in vloed

'n Paar vriende het laasnaweek gaan kyk hoe lyk die baie waters by Augrabies. Ons het ampertjies Vrydagaand ook opgery, mens sien die skouspel darm nie elke jaar nie. Maar die lang ry het ons op die ou end afgeskrik (ons moet besig wees om oud te raak!).
Jaco Van der Waldt het 'n paar mooi fotos teruggebring.







18 Januarie 2011

Stargrow jaareindfunksie

Laasjaar is besluit om die jaareindfunksie te skuif vanaf die einde van 2010 na die begin van 2011. En om sommer 'n hele naweek daarvan te maak. Laasnaweek het so 50 van ons dus opgetrek na Buffeljagsdam, waar ons 'n heerlike naweek in die son en in die water gehad het. Almal was styf (van roei en ander wateraktiwiteite) en rooi gebrand Maandag. Sommiges het ook 'n Skotse "tan" gehad, maar ek dink teen Maandag kon mens darm nie meer die leftovers daarvan sien nie!
Die brawes onder ons het groot pret gehad met 'n baie hoë fuffislide, wat vanaf 'n heuwel af in die dam in loop. Ek het gelukkig 'n verskoning gehad om nie aan die manewales deel te neem nie. :-) Dit was wel pret om te kyk hoe die mense doerrrr van bo af met 'n vreeslike spoed gly om die water gepunte tone eerste te tref, en dan op hulle maag verder te ski. Ek dink 'n paar het 'n goeie hoeveelheid water ook gesluk.
Ons het ook 'n baie lekker sunset cruise gedoen Saterdagnamiddag (die gly-storie was deel hiervan) met 'n spitbraai daarna. Dit was 'n baie goeie idee vir 'n jaareindfunksie, en gaan dalk 'n jaarlikse instelling word.

'n "oor-die-skouer-sonder-om-te-kyk" shot wat 'n heel mooi foto geword het.

Ons gaan soek 'n bietjie witwater met ons kanoe.

Bumpy oor die klippe

'n Kampeerplek verder aan wat baie oulik gelyk het - is op die uitcheck lysie.

Fuffi-slide pret

'n Bietjie voëllewe

13 Januarie 2011

Riaan@33


Gevier met 'n heerlike aand by Kasteel Bistro, ons favorite eetplek in die omgewing. Hulle het die beste eend, en die beste white chocolate cheesecake in die hele wêreld!

Klein kort Sedgefield vakansie


Omtrent vandat ek kan onthou het ons elke Desember/Januarie vakansie gehou by Trails End, aan die Swartvlei net buite Sedgefield. Ons was gewoonlik 'n klomp gesinne met 'n verskeidenheid van waterspeelgoed, en dit was net mooi nooit vervelig nie. Oom Anton het almal laat ski as dit windstil was, en ons en die Geverse het seilbote gehad vir as die wind gewaai het. Ons het huise in die bos gebou, geswem in die vlei en spinasiegevegte gehou met die vleigras, alles-wat-dryf-sessies gehad waar ons al die bote aanmekaar gebind het, visgevang, geski en geseil en geroei, elke jaar 'n slag of wat Knysna gaan doen, by Swartvlei mond met enigiets wat dryf in die water gespring en af-of opgedryf met die gety, gehardloop om vir die Outeniqua Tjoek te gaan waai wanneer ons die fluit gehoor het, gaan voëls kyk, en tot laaaat in die aande op die jetti's gesit en kuier. O ja en ook tot laat Trivial Persuit, Poker of Uno gespeel.


Soos wat die kinders lisensies gekry het, was daar meer vryheid en opsies vir oujaars
aande, maar soos iemand noudiedag gesê het, meeste van die tyd was almal tog by die kampplek bymekaar. Dit was maar net die beste plek.

So 'n paar jaar terug (seker rondom 2000, dus al 'n hele paar jaar) is Trail's End oorgekoop en huise is gebou. Niks meer plek vir kampeerders nie. Dit was jammer. Sommige van die gereelde kampeerders het huise gekoop, maar die res moes maar ander kampplek in die omgewing vind. Die Van den Dools het Lake Pleasant, net verby Sedgefield, as 'n goeie plek geidentifiseer, en kamp nou elke jaareinde/begin daar.

A.g.v my werk by Stargrow en vrugte wat ongelukkig nie ophou groei tussen Kersfees en Nuwejaar nie, was ek baie lanklaas deel van die kampeerdery. Maar hierdie jaar kon ons tog 'n paar dae wegbreek en saam gaan kamp. Dit was kort (amper te kort vir uitrus), maar heerlik om weer die tyd van die jaar daar te wees. Ons het geswem, geroei, geseil, gestap en gelees. En Ma Marti se 60ste verjaardag gevier!




Projects