15 Junie 2011

Namibie-wegbreek


Ons het 'n hele ruk terug, voordat ons geweet het dat ons gaan trek, afgespreek met twee stelle vriende van Windhoek om hulle oor Paasnaweek by Ais-Ais te kry. So nadat Riaan sy eerste dag verlof by die nuwe werk gereel het, en ek die kat vir die eerste keer in haar lewe by 'n kennels gaan aflaai het (hartseer!), kies ons koers Noord. Ons het effe later weggekom as wat ons gereken het, en eers eenuur die Donderdagnag by Kammieskroon gestop. Gelukkig is ons huisie in die bakkie, en ons het net gaan tande borsel en in die bed geklim. Volgende oggend (met stormsterk koue wind wat die bakkie rondruk) vroeg uit die vere en die R140! vir ons halwe naggie se slaap gaan betaal. As ons geweet het dit is so duur om daar te kamp, sou ons net buite die dorp langs die pad getrek het!By die grens het ons besef SA is 'n eerstewereldland teenoor Nam. Ons is in 'n kwessie van 'n paar minute deur die SA kant, en moes 2.5 ure lank by die Nam kant staan. En dit was WARM! Ek het sterk bedenkinge begin kry oor wat ons by 'n warmwaterbron gaan soek! So vieruur se kant was ons by Ais-Ais. Hulle het die plek regtig mooi reggemaak vandat ons die laaste keer daar was (toe ons begin uitgaan he
t, al 5 jaar terug!). Al die lekker boomstaanplekke was reeds gevat, so ons het 'n klein boompie uitgekies, en na 'n goeie deurstap op 'n ander boom besluit. Maar nog nie regtig uitgepak nie, want ons was redelik seker dat ons Namibiese vriende op 'n ander boom sou besluit.

Na 'n roomystrip kafee toe, moes ons 'n couple wat nie besef het die feit dat die bakkie op die staanplek staan beteken dat die staanplek gevat is nie, mooi vra om hulle tent asseblief na 'n ander staanplek te skuif. En toe kies ons vriende in elk geval, soos ons gedink het, later 'n ander boom! Eintlik 'n baie lekker staanplek reg aan die minder gegoede deel van die kamp, langs die buiteswembad enbietjie uit die gedrang van kampeerders.

Dit was 'n heerlike rustige paar dae - alhoewel dit meestal in my boekies heeltemal te warm was vir die warm water! Die riviere, veral die Oranje, was baie hoog - ons het 'n Auzenkehr trippie gemaak om vir my familie te gaan kuier, wat toe nog nie daar was nie, en gesit en kyk hoe kom die geweldige klomp water reg voor die lodge verby. Ook gaan kyk hoe lyk die samevloeiing van die Vis en die Oranje. Nie so spektakuler soos wat ons gedink het nie, maar wel interessant. Daar het 'n vreeslike klomp water verbygekom met die baie reen, en die laagwaterbruggie moes heeltemal onder water gewees het op 'n stadium. Hulle was besig om tonne sand te skuif met 'n stootskraper. Daar het al motors oor gery, maar ons het dit maar nie gewaag nie.

Volgende dag het ons almal na die uitkykpunt by Hobas gery, vir fotos met die canyon in die agtergrond.

Die Doorduine

Die manne

Die Fouries
Die Krugers

Daarna by die Roadhouse gaan kyk. 'n Ongelooflike interessante plek, deel van die Gondwana collection, wat met ou motors, 'n hele ou pompstasie wat as die bar dien, en allerhande ander ou parafenalia ingerig is. Nogal die moeite werd om by 'n draai te maak as mens ooit in die omgewing is!

Dit was 'n heerlike vakansietjie, en ons was baie verbaas toe ons die aand 9uur terugkom in 'n koue, nat Paarl met sneeu op die berge!

Geen opmerkings nie:

Projects