23 Februarie 2014

Arende


Ek het pottebakkery by tannie Ina geneem op laerskool. Nie baie lank nie. My pa wou altyd gehad het ek moet ‘n arend maak vir bo-op die muurtjie in die sitkamer. Ek wou baie graag – ek kon dit sien. Een met uitgespreide vlerke wou ek gehad het. Ek dink hy wou een gehad het wat sit met sy vlerke toegevou.
Vir arende maak uit klei, moet mens baie oefening hê met pottebakkery. Ek kon amper nie eers ‘n pot maak wat nie gewobble het en uitmekaargeval het op die wiel nie. En toe het ek opgehou met klasse. Die arend het nooit gebeur nie.
Nou het ons ‘n seuntjie. Vincent “oorwinnaar” Arend. Hy het die potensiaal om sy vlerke wyer te sprei as wat ek ooit het. As ons hom toelaat om self sy vlerke oop te maak, en hulle nie te probeer oopdwing nie. En as ons dan die wind onder sy vlerke is – hom aanmoedig om op te staan en nie op te hou as hy val nie.  As ons naby genoeg aan hom staan (terwyl ons nog kan) om te keer dat hy nie te hard val nie, maar nie so naby dat ons hom uit reaksie vang as hy net sy knie gaan skraap nie. Want seuntjies moet geskraapte knieë hê so nou en dan.  
Om die balans kan vind tussen hom los om op sy eie elke miershoop en grasspriet in die berg te ondersoek, maar nog steeds by te hou by sy ouers wat by die huis wil kom voor die son sak omdat daar geëet en gebad en geslaap moet word, is moeilik. Dit vat kreatiwiteit en ‘n sin vir humor. Streng wees, maar ook redelik wees. Die lyne is so fyn.
Ons het nou baie meer begip vir wat ons ouers met ons deurgemaak het. Aan die een kant so moeilik, maar aan die anderkant ‘n herontdekking van onsself, en hoe om dieselfde grasie met onsself te hê.
Dit vat ‘n tydjie, sjoe. Daar is so baie faktore wat gejuggle moet word, huishouding, werk, Vincent, vriendskappe, kerk, 3-2-1 projekte (hier loop die gene sterk aan altwee kante, ons sal seker nie daarvanaf kan wegkom nie!) Gelukkig vir twee stelle oupa’s en ouma’s wat naby genoeg is om te vang wanneer daar gevang moet word – ons is dankbaar vir hulle en dankbaar vir die Here.


Mag Hy ons almal leer hoe om in elke situasie ons vlerke te sprei en te vlieg, en nie af te kyk na hoe ver die grond is nie. 

Geen opmerkings nie: