12 Julie 2014

Vincent 3

Noudat jy 3 is...


En eintlik self jou tande kan borsel, en eintlik self kan gaan piepie soos jy by die skool al lankal doen, en eintlik self jou klere kan aan en uittrek, en eintlik self aan die slaap kan raak sonder dat Mamma 'n uur lank by jou moet le. En eintlik 'n goeie wiks moet kry as jy ons slaan - al doen jy dit redelik halfhartig. En eintlik dadelik moet luister as ons praat en nie ja maar en ek wil eers moet se nie. Eintlik ons moet vertrou dat ons meestal weet wat goed is vir jou. Maar dit nie heeltemal doen nie, omdat jy ook jou likes en dislikes het, en nie in 'n blik of boksie gedruk wil word nie. Waar le die lyne? Soms is dit moeilik om dit raak te sien, dit is so fyn.


Jy wat my sooo styf vasgehou het toe ek van Israel af teruggekom het en nie wou los nie. Maar nie gehuil het nie - en toe jy my eindelik los met oorgawe voor ons uit deur die lughawe gehuppel het. Wat stoele omgegooi het van kwaadwees en hartseerwees toe jy en Pappa tuiskom na julle my afgelaai het. Jy wat so hartseer en kwaad raak as ek jou net 'n ligte raps gee as jy nie wil luister nie - maar nie 'n deal wil maak dat ons twee nooit weer aan mekaar slaan nie. Maar wel baie mooi in stilte luister toe ek vir jou verduidelik dat ek net so voel soos jy as jy aan my slaan, dat dit slegte mans is wat aan hulle vrouens slaan, en dat ons nie wil he jy moet 'n slegte man word nie. En toe in stilte jou klere uittrek en in die bad klim. Jy is goed met luister - ons praat te veel en vergeet dit. Ons bid dat jy sal leer om in die lewe net te luister na dit wat belangrik is vir wie jy is.