Ons jaarlikse mosbeskuitbak-aksie het laasnaweek plaasgevind. Ek het Vrydag mos gaan haal by Jaco wat baie goedgunstiglik vir my laat weet het dat daar nou mos beskikbaar is.
Ma Marti het Saterdagmiddag aangekom, en ons het die aand met die groot bak begin, effe laat omdat ons toe eers besef het dat ons nie genoeg meel het vir die twee baksels wat ons wou maak nie. Ek het by al die bure omgeloop (almal was vir 'n slag op die plaas) maar niemand het koekmeel of witbroodmeel gehad nie. Gelukkig het ons landlady, Maggie, ons toe uitgehelp met 'n klein bietjie koekmeel en 'n massiewe pak
witbroodmeel. Ons het toe maar effens gekroek en 'n kilo of so koekmeel met witbroodmeel uitgeruil.

Sondag was ons baie lui, het laat geslaap, die res van die beskuit gedroog, pizza gemaak en na middagete weer geslaap. Toe dit koeler raak die aand het ons bietjie gaan draf en swem (my enigste oefening vir die Xterra light wat hierdie naweek was).
Maandagoggend was die laaste beskuit droog. Nou het ons mosbeskuit vir 'n laaaaang ruk!
1 opmerking:
mmmm dit klink baie lekker. Ek is seker marius sal wil proe!
Plaas 'n opmerking