28 Junie 2011

Pamper-dag by Sante

Kleinboet het ons darm nog tyd gegee om 'n ma-en-dogters pamper dag by Sante Winelands Spa in te pas. Dit was 'n heel luukse ervaring! Die terapeut wou my net nie eintlik meer masseer nie - ek dink sy was baie bang ek kry die babatjie net daar! Sy het darm bietjie kop en voete gevryf (ekt maar nie vir haar gese daar is trigger punte op mens se voete wat die baba ook kan laat kom, volgens die refleksiologie-ouens nie!) met 'n kersie waarvan mens die was kan gebruik - blykbaar is olies redelik uit van 6 maande af. Ons het die uitstappie afgesluit met lekker koffie by Backsberg.











17 Junie 2011

Baba-tee


Dis darm lekker as 'n vriendin mens so verras met 'n Tea for Two! Amptelik my babatee, georganiseer deur Liesbet.

Die kat sit in die bad

Mia hou ook van die idee dat ons nou 'n bad het. Sy verkies hom sonder water.



Moedersdag

Moedersdag was 'n groot kuier by ons - Riaan, Adri en Mieke, Lise, Yolandi en Stef en J & B, ons het julle gemis!Op al die nuwe lede wat die jaar by die familie gevoeg word!

Hierdie moet mens beslis afneem - al die manne aan't werk in die kombuis!

Twin tummies!

15 Junie 2011

Namibie-wegbreek


Ons het 'n hele ruk terug, voordat ons geweet het dat ons gaan trek, afgespreek met twee stelle vriende van Windhoek om hulle oor Paasnaweek by Ais-Ais te kry. So nadat Riaan sy eerste dag verlof by die nuwe werk gereel het, en ek die kat vir die eerste keer in haar lewe by 'n kennels gaan aflaai het (hartseer!), kies ons koers Noord. Ons het effe later weggekom as wat ons gereken het, en eers eenuur die Donderdagnag by Kammieskroon gestop. Gelukkig is ons huisie in die bakkie, en ons het net gaan tande borsel en in die bed geklim. Volgende oggend (met stormsterk koue wind wat die bakkie rondruk) vroeg uit die vere en die R140! vir ons halwe naggie se slaap gaan betaal. As ons geweet het dit is so duur om daar te kamp, sou ons net buite die dorp langs die pad getrek het!By die grens het ons besef SA is 'n eerstewereldland teenoor Nam. Ons is in 'n kwessie van 'n paar minute deur die SA kant, en moes 2.5 ure lank by die Nam kant staan. En dit was WARM! Ek het sterk bedenkinge begin kry oor wat ons by 'n warmwaterbron gaan soek! So vieruur se kant was ons by Ais-Ais. Hulle het die plek regtig mooi reggemaak vandat ons die laaste keer daar was (toe ons begin uitgaan he
t, al 5 jaar terug!). Al die lekker boomstaanplekke was reeds gevat, so ons het 'n klein boompie uitgekies, en na 'n goeie deurstap op 'n ander boom besluit. Maar nog nie regtig uitgepak nie, want ons was redelik seker dat ons Namibiese vriende op 'n ander boom sou besluit.

Na 'n roomystrip kafee toe, moes ons 'n couple wat nie besef het die feit dat die bakkie op die staanplek staan beteken dat die staanplek gevat is nie, mooi vra om hulle tent asseblief na 'n ander staanplek te skuif. En toe kies ons vriende in elk geval, soos ons gedink het, later 'n ander boom! Eintlik 'n baie lekker staanplek reg aan die minder gegoede deel van die kamp, langs die buiteswembad enbietjie uit die gedrang van kampeerders.

Dit was 'n heerlike rustige paar dae - alhoewel dit meestal in my boekies heeltemal te warm was vir die warm water! Die riviere, veral die Oranje, was baie hoog - ons het 'n Auzenkehr trippie gemaak om vir my familie te gaan kuier, wat toe nog nie daar was nie, en gesit en kyk hoe kom die geweldige klomp water reg voor die lodge verby. Ook gaan kyk hoe lyk die samevloeiing van die Vis en die Oranje. Nie so spektakuler soos wat ons gedink het nie, maar wel interessant. Daar het 'n vreeslike klomp water verbygekom met die baie reen, en die laagwaterbruggie moes heeltemal onder water gewees het op 'n stadium. Hulle was besig om tonne sand te skuif met 'n stootskraper. Daar het al motors oor gery, maar ons het dit maar nie gewaag nie.

Volgende dag het ons almal na die uitkykpunt by Hobas gery, vir fotos met die canyon in die agtergrond.

Die Doorduine

Die manne

Die Fouries
Die Krugers

Daarna by die Roadhouse gaan kyk. 'n Ongelooflike interessante plek, deel van die Gondwana collection, wat met ou motors, 'n hele ou pompstasie wat as die bar dien, en allerhande ander ou parafenalia ingerig is. Nogal die moeite werd om by 'n draai te maak as mens ooit in die omgewing is!

Dit was 'n heerlike vakansietjie, en ons was baie verbaas toe ons die aand 9uur terugkom in 'n koue, nat Paarl met sneeu op die berge!

13 Junie 2011

Die groot trek

Ek is so bly dit is verby!! Trek is nie pret nie.


Die klavier is die heel moeilikste en swaarste ding wat ons het om te trek. Gelukkig kon ons hom aan iemand verhuur vir die tyd wat ons nog nie in ons eie huis is nie. As kleinboet later 'n liefde vir musiek begin ontwikkel, sal ons hom maar weer terugvra!

Met die hulp van 'n klomp hande (ouers en skoonouers) en Steven se skaaptrailer, kon ons die grootste deel van die trek op een slag oplaai.

Ek dink dit is die heel effektiefste wat iemand nog ooit 'n flatbed gepak het!

Die nou padjies van 'n sekuriteitskompleks is nie skaaptrailer-vriendelik nie!

Baie versigtig agteruit..



Dankie


Dankie aan ons landlords, die Steyn gesin, vir 4-en-'n-bietjie heerlike jare op hulle plaas!

Laaste paar dae op Soutfontein




Dis altyd hartseer om van 'n plek af weg te gaan waar mens 'n tyd van jou lewe spandeer het. Vir altwee van ons was Soutfontein die plek waar ons die langste gewoon het vandat ons uit die huis uit is. Ons mis die stilte, die spasie, die mistige oggende, die pragtige sonsopkomste en sonsondergange. Ons mis dit om op die stoep te sit en te kyk hoe kom die maan oor Kasteelberg op. Ons mis die lammertjies, en groen jassie van die nuwe koring wat die vaal veld weer nuut maak. Daar is baie goeie goed aan Paarl, maar 'n stukkie van ons harte sal maar vir altyd op Soutfontein agterbly.

06 Junie 2011

Uiteindelik!

Ons het weer ordentlike internet en nou kan ons begin opvang op alles wat ons nie op die blog gesit het die afgelope maande nie.
Watch this space!

Projects