20 Mei 2017

Onthou jy nog die berghut


Onlangs besig om al my ou files skoon te maak op die 2TB Backup drive.... toe kom ek ophierdie brief van Karen van der Merwe af.

Liewe Riaan

Onthou jy nog die berghut?
Gisteraand het dit sommer net begin reën. Sommer net 'n Boland-reëntjie wat so saggies val, maar nog steeds hard genoeg dat jy die druppels op ons kombuis se sinkplaatdak kan hoor. As jy fyn luister, hoor jy die feëtjies en kabouters lag en speel ......Dis toe dat ek in my bed ( veilig en snoesig onder my duvet ) lê en dink aan al die "onthou jy 's van die berghut" .Onthou jy?

Onthou jy die aand toe ek en jy en Dewald so lank gevat het om op te stap? Onthou jy hoe ek en Piet gelag het oor die "on appro" en "window shopping"? En wat van Dewald wat so komieklik gelyk het met daai 2 sakke hout onder sy arms? (dit was nog voor jou tyd …) Onthou jy hoe lekker dit is om so moeg en uitasem by daai 8 km klip uit te kom;   om net te weet die hut is net om die draai. Onthou jy die paadjie, bestrooi met wit "Hansie-en-Grietjie-klippies wat helder in die maanlig blink? Onthou jy nog daai lekker gevoel as jy papnat gereën is en dan ewe skielik die hut sien , met sy vriendelike lig wat uitstraal in die donker en jou binne nooi? Het jy al ooit stilgestaan en na die mense binne die ligkring gekyk?

Almal lyk altyd so gelukkig en vreedsaam. Dis half of hulle net vir daai paar uur van die naweek niks in die lewe het wat hulle hinder nie. Onthou jy die geraas wat net BTK-aners kan maak as jy naderstap? Onthou jy hoe bly almal altyd is om jou weer te sien? Onthou jy hoe jou moegheid sommer net verdwyn as jy lekker warm aangetrek is en deelword van daai ligkringetjie?

Onthou jy hoe knaag jou maag aan jou lewer as jy daai vleis en knoffelbrood ruik? En die lekker slaai ( al is jy nou nie 'n slaai- ondersteuner nie). En die koffie? Onthou jy hoe lekker dit is om daar buite om die vuur te sit en net te lag?  Om weer saam jou BTK-maters te wees en te weet ek is een van hulle...? Onthou jy die geknetter van die kagelvuur? Die kleure van die vuur?  Die patrone op die vensters soos die ligstrale daarop val? Die fyn geluid van 'n brandende liglampie wat almal laataand aan die slaap sus?

Onthou jy hoe almal sommer in sulke krismisbeddens aan die slaap raak? Onthou jy hoe hoe almal in sulke fluisterstemmetjies met mekaar praat as die ander slaap? Onthou jy daai rustige stilte wat om ons neerdaal? Onthou jy daai sorgelose dae? Onthou jy hoe dit soggens vroeg lyk? ( Jy is nie 'n oggend mens nie, maar dis iets wat jy al moes gesien het.) Dis die mooiste mooi as die miswolke die hut omring, met die grys klippe wat hier en daar uitsteek en die groen bossies wat net nog groener lyk.

Dou druppels blink helder aan die spinnerakke en 'n voëltjie sing vrolik. 'n Regte feëtjiewêreld! Sprokiesland!  En natuurlik die lekker gevoel om dan weer terug te kruip in die slaapsak en weer verder te slaap tot die son jou uit jou slaapsak bak. En daai eerste koppie koffie met sy gwaffies en moer en baieeee suiker. Onthou jy hoe naby aan ons Skepper voel? Onthou jy die vriende wat jy daar gemaak het en die baie vriendskappe wat jy daar opgebou het? Ag , Riaan, dis maar net "onthou jy's" wat ek met jou wil deel . Daar's nog vele meer. Te veel. Dis maar net nog een van daai makapan-goeters.  Jy kan net hierin deel as jy saam "ge-berghut" het saam mede BTK-aners. Dankie vir al die "onhou jy's " wat ek al saam met jou daar bo bymekaar gemaak het, Ek bêre dit veilig hier in my hartjie. Onthou jy nog die berghut?

Liefde Karen


Wim en Karen by die berghut

1 opmerking:

Unknown het gesê...

Ek onthou die Bergut baie goed!!!! Ek was 13 jaar oud... Dit is en was die MOOISTE PLEK op Aarde wat ek OOIT beleef het! Die sterre elke aand... WOOOOOOOWWWWWW...
Absoluut ongelooflik. MOOISTE plek op Aarde. Prys die Here dat dit lewe in my memories.

Projects