31 Mei 2010

Turkye en Italië: Dag 2 - Prince's Islands


Half 9 kry ons vir Rudi en Mariëtte onder vir ontbyt. Ons is vanoggend lus om rustig ons dag te beplan sonder sigaretrook en Turkse geselskap. Na nog 'n oulike Turkse ontbyt moet ons eers ons kamer ontruim - ons kamer in die nuwe hotel is nog nie reg nie, so ons los eers al ons goed in Rudi hulle se 2m x2m kamertjie, en hoop maar alles is uitgesorteer wanneer ons terugkom.


Ons het besluit om vandag die Prince's Islands te doen, sodat ons more kan kyk wat Arzu (ons Walks-in-Istanbul gids) ons wys en daarna die res van die stad op ons eie kan kyk. Eers jetons koop, en daarna vat ons die metro nr. 38 na Kabatas, waar ons die ferry kry. Daar is VERSKRIKLIK baie mense op die ferry, en ons krap vir ons 'n spasietjie op die boonste vloer uit om te sit. Ons het twee eilande uitgekies om te doen, die laaste 2, dus skip ons die eerste 2 en klim af by Heybeliada. Op pad soontoe sien ons 'n boot wat 'n klein bootjie sleep. Iets lyk nie heeltemal reg nie, en toe ons weer kyk, het die klein bootjie gesink en twee mans staan en kopkrap by die tou wat in die water verdwyn. Hulle het sny die tou toe maar af en vaar weg. Strange!

So 'n bietjie agtergrond: Die eilande is in die see van Marmara, so 15km Suidoos van die stad. Behalwe die paar polisie of spesiale voertuie, mag karre nie op die eilande kom nie. Die "mode of transportation" is stap, fietsry, of 'n perdekarretjie (waarvan daar 'n oorvloed is) huur. In die Byzantine era is 'n klomp kerke en kloosters op die eilande gebou, en omdat die eilande so lekker naby aan die stad is, is die kloosters later gebruik as luukse tronke vir "banished royalty", meestal nadat hulle verblind is. Na die Ottoman oorname, het die eilande meestal in onbruik verval en 'n veilige hawe vir vlugtende Griekse, Armeniese en Joodse groepe geword. In 1846 is 'n ferry-diens ingestel, en van daar af het die eilande polulêr geword onder die rykes van die bevolking - daar is baie "grand" vakansiehuise op gebou, waarvan sommige lyk of dit eeue laas gebruik is. Baie van die huise is van hout, en dit lyk of dit baie mooi kon gewees het op hulle tyd. Ons het iets gehoor van wette i.v.m die restorering van die houthuise wat dit so duur maak dat die mense dit maar eerder los om op te vrot. Tog jammer.





Die laaste eiland, Buyukada, is die grootste, en hier huur ons 'n perdekarretjie vir 'n 40min trip om die eiland. Dit was 'n heel interessante ervaring, weet nie of dit grandgeit is nie maar die dakkie het sulke tosseltjies aan wat oulik lyk maar maak dat mens nie veel kan sien nie. Oral kom ons verby ander perdekarretjies wat of rondstaan of ook besig is met die rondjie. Rudi het die baie interessante opmerking gemaak dat daar hordes perde en visprodukte is, maar nie 'n enkelte vlieg nie. Ek wonder hoe hulle dit regkry, en of dit regdeur die jaar so is!



Oral is ook die mooiste groentemarkte, en interessante visstalletjies met die weirdste visse wat ons nog gesien het.


Op pad terug kan ons 'n paar fotos van die stad se Skyline neem. Ongelukkig 'n bietjie hazy.


By die hotel aangekom, is daar niemand by ontvangs nie, en ons het nie 'n clue waar ons die aand moet slaap nie. Terwyl Rudi en Mariette stort en regmaak vir aandete, stap ons terug na Hotal by Sofia om vir Omar te vra wat nou. Hy klim op die foon, en na 'n paar No Problems verduidelik vir my dat sy vriend (die ou van die ander hotel) my kan help en ek moet toe sommer die foon ook vat. Baie moeilik om uit te maak wat hy bedoel, maar die kern was dat sy hotel vol is vir die aand, maar dat hy gelukkig nog 'n hotel het waar ons kan gaan bly. Wat kan ons doen? Ons wil baie graag nie op straat slaap nie, en Omar vat ons na die 3rde hotel, waar die ou van die 2de hotel (wat somehow ook iets met die 3rde een te doen het) ons kry en vir ons 'n kamer wys. Baie apologeties omdat die kamer nie 'n on-suite badkamer het nie, maar 'n gesamentlike een in die gang. Maar, verduidelik hy vir ons, die gang-badkamer is eintlik baie beter as 'n on-suite, en dit is REGTIG net ons wat die gangbadkamer gaan gebruik. Yeah right. Toe ons daar inloer le daar 'n nat handdoek en 'n dooie sigaret op die wasbak, en net nadat die eienaar daar uit is, loop daar iemand van die onderste vloer af op om te kom stort. Maar nou ja, ons het 'n plek om ons kop neer te lê, die kamer is darm skoon, en ons het aandete om na uit te sien.

Ons gaan eet by 'n baie oulike plek (ligging, prys en kos-gewys) wat 'n dak-terras het, en uitkyk op die Blue Mosque: Doy Doy. Baie lekker geëet vir min geld, en lekker gekuier en gefoto.





Geen opmerkings nie: