18 Junie 2007

Vadersdagnaweek: 15-17 Junie


Dit was 'n gesinsnaweek, met al2 ons gesinne om die beurt. Die Doorduin-ouers het 'n bietjie meer van ons tyd gekry, van Vrydagaand-Sondagoggend, maar ons het woes gekuier met die Dool-kant Sondagmiddag om op te maak.

By Pringlebaai is ons bederf deur Pa Arend Vrydagaand met 'n alles-uit-pa-se-hand aandete. Al wat ons mog doen is om wors te braai; die gebraaide aartappels en wortel-roerbraai was sy afdeling. Selfs die koffie en die skottelgoed het hy self hanteer. Gelukkig het ons darm 'n vadersdag-geskenkie gebring ('n bottel Amaroela) wat 'n goeie afsluiting vir 'n gesellige aand was.


Saterdag was 'n skitterende stil sonskyn dag, en ons is Bettiesbaai toe om te gaan kyk hoe lyk die branders. Daar gekom bespeur ons toe 'n bekende wit Tazz met CEO registrasienommer, en Riaan is die see in om almal te gaan groet daar in die agterste linnies. Ek het maar op die strand gebly en die sleutels opgepas, aangesien net een van die borde surfbaar was op daai stadium. Ek moet sê die surfie was van korte duur, en ek was darm nie te lank alleen nie. Lyk of al die surf-spiere nog nie weer op standaard is na die troue en lang heuningmaan nie! :-)

Saterdagmiddag, aand en Sondagoggend verder bederf met lekker kos en goeie geselskap in die Doorduin-gastehuis. Ons het selfs sop, pampoenkoekies, sjokolades, blomme en marshmallows vir hot-chocholate aande saamgekry!


Sondagmiddag was dit kuier met die van den Dools, van den Dool-to-be, en die Natrasse. Dit was 'n lekker vadersdagkuier, en Pa Gerrit het omtrent 'n arm vol geskenke gekry - van kerrievis tot 'n boek oor die geskiedenis van Durbanville! Na 'n heerlike Argilla-ete deur Ma Marti (sjoe dis al wat ons doen deesdae - eet!) en poeding uit 'n blik en 'n boks en koffie uit RD se hand, het ons die res van die middag op ons sitvlakke, stuitjies en rue verder in die sitkamer verwyl. Die weer was ook al teen die tyd weer sleg, so 'n middagstappie was ongelukkig buite die kwessie. Ai! Die Doorduine moes weer 5uur se kant die lang pad na Malmesbury aanpak, want glo dit of nie, daar was NOG kombuiskaste om te gaan klaarmaak.

O ja, en net weer die naweek besef: Ons het fantastiese vaders!

1 opmerking:

Anoniem het gesê...

Ai, dit was 'n lekker naweek, lekker as die hele kroos by die huis is. Pa Gerrit

Projects