13 Junie 2007

Kaste-bou naweek: 8-10 Junie




My skoonpa reken 'n krat-stelsel waar mens aanmekaar 2 of meer kratte van mekaar af moet haal om by jou borde, potte en panne uit te kom, is net die ding vir 'n kombuis. Ek dink dit het iets te doen met sy liefde vir blomme en die feit dat die kratte waarvan hier gepraat word, blombolkratte is, so ek het nou nie te hard gestry nie. Ek stem egter glad nie saam nie. Dit het seker sy voordele, ek meen mens bou darm bietjie spiere elke slag as jy 'n swaar krat afhaal. En ten minste is dit in 'n netjiese stapel met 'n plank bo-op. Ek het egter gereken dat 'n slim ingenieur soos my man darm seker 'n effe meer gebruikersvriendelike stelsel kan ontwerp, en so het dit dus gekom dat ek hom sover gekry het om 'n naweek by die huis te bly en kaste te bou. Nee, ek het nie geneul nie. Net 3 keer 'n dag mooi gevra.

Dit was darm nie 'n vervelige naweek nie. Wim en Cia en Cebella het Saterdag heerlik by ons gekuier, en ons emosioneel ondersteun. Ons het ons nuwe Weber vir die tweede keer gebruik, en 'n GROOT pizza gemaak met skoonouers se pizza-plaat. Tip: wag tot die vuur effe koeler is en versprei die kole eweredig, tensy jy van gebrande pizzakors hou! Jaco het later die middag by ons aangesluit en tot Sondagmiddag gebly. Hy is effens misbruik, want twee pare hande i.p.v. een is darm baie handig as mens kasbou. Maar ons het darm vir hom kosgegee, en 'n lekker dubbelbed met 'n (nuwe) handdoek en 'n (nuwe) kombers en 'n hollandse tjoklit (jie).

Uiteinde van die saak: Ek het kombuiskaste! Ek is baie hêppy en nou kan ons maar komende naweek gaan pret hê!

Geen opmerkings nie:

Projects