26 Februarie 2009

Tafelberg stap













Sondagoggend vroeg op en saam met Nico en die Stellenbosch bergclub-spannetjie Skelleton Gorge op. Gelukkig is dit lekker in die skadu, want onder was dit nog warm. Ons het definitief lanklaas gestap! Die spiere het eers 'n halfuur of wat gevat om aan die behandeling gewoond te raak, maar hulle het darm eindelik onthou wat "stap" nou weer beteken.

Daar was nogal baie mense, ons moes by die lere amper in toue staan. Die eerste twee disa's het ons al langs die pad amper bo gesien. Bo gekom was dit effens bewolk en snerpend koud. Ons kon nie glo dat mens in Februarie in die Kaap so koud kan kry nie! Gelukkig het ons warm goed daar gehad, maar die windjie het regtig gesny. By die sloot was daar 'n klomp disa's - baie mooi. Ons het selfs 'n blouetjie langs die pad gekry. Ons wou daar al omdraai, want ons het ons hoop op 'n lekker middagslapie gehad, maar gelukkig het oom Koen gese ons moet aanhou tot by die Akwaduk. Daar het ons die res van die groep verlaat en met die kanaal langs gestap - en magdomme disa's gesien. Dit was ongelooflik mooi.

Dit is verseker die regte tyd nou om Tafelberg te gaan stap!

Ons het tot by die damme gestap en daar was sowaar 'n klein museumpie wat oop was met 'n klomp toerusting wat hulle gebruik het in die bou van die damme. Van stoomlokomotief tot baie ou watermeters - baie interessant! Dit is ongelooflik wat hulle daardie tyd kon regkry.

Toe tussen die twee damme deurgestap, en verder na Nursery Ravine, waar ons af is na die tuine toe. Ek moes eers 'n paar plante koop terwyl Riaan met 'n ou kollega gesels, en toe na die Holtzhausens se huis. Darm nog tyd gehad vir 'n uur se slaap voor die konsert.

Geen opmerkings nie:

Projects