03 November 2009

Melissa die mak takbok

Toe ek Woensdagoggend laasweek die gordyne ooptrek, staan daar sowaar 'n bok in my tuin! Ek was redelik moerig met die bokke, wat net die vorige nag ons wingerd wat goed aan die oprank was buite ons kamervenster, met die grond gelykgemaak het. Dus maak ek toe met 'n groot geraas die deur oop en klap my hande om die bok uit my tuin te verjaag. Maar, tot my verbasing, bly die bok rustig staan en knipper net haar oë. Toe ek my hand uithou, kom sy nader en snuffel, maar verloor gou belangstelling toe sy sien daar is nie kos nie. Sy het 'n hele ruk daar op ons stoep rondgehang, tot die kat se onsteltenis. Mia het nie goed geweet wat om met die nuweling te maak nie, en haar van alle kante bekruip.

Toe ek later vir Steven vertel van die bok, sê hy o ja dit is Melissa ons moet vir haar druiwe gee. Sy broer Peter op die plaas langsaan het die bok grootgemaak. Baie oulik, maar ek hoop sy bly uit my tuin!

Geen opmerkings nie:

Projects