13 Januarie 2011

Klein kort Sedgefield vakansie


Omtrent vandat ek kan onthou het ons elke Desember/Januarie vakansie gehou by Trails End, aan die Swartvlei net buite Sedgefield. Ons was gewoonlik 'n klomp gesinne met 'n verskeidenheid van waterspeelgoed, en dit was net mooi nooit vervelig nie. Oom Anton het almal laat ski as dit windstil was, en ons en die Geverse het seilbote gehad vir as die wind gewaai het. Ons het huise in die bos gebou, geswem in die vlei en spinasiegevegte gehou met die vleigras, alles-wat-dryf-sessies gehad waar ons al die bote aanmekaar gebind het, visgevang, geski en geseil en geroei, elke jaar 'n slag of wat Knysna gaan doen, by Swartvlei mond met enigiets wat dryf in die water gespring en af-of opgedryf met die gety, gehardloop om vir die Outeniqua Tjoek te gaan waai wanneer ons die fluit gehoor het, gaan voëls kyk, en tot laaaat in die aande op die jetti's gesit en kuier. O ja en ook tot laat Trivial Persuit, Poker of Uno gespeel.


Soos wat die kinders lisensies gekry het, was daar meer vryheid en opsies vir oujaars
aande, maar soos iemand noudiedag gesê het, meeste van die tyd was almal tog by die kampplek bymekaar. Dit was maar net die beste plek.

So 'n paar jaar terug (seker rondom 2000, dus al 'n hele paar jaar) is Trail's End oorgekoop en huise is gebou. Niks meer plek vir kampeerders nie. Dit was jammer. Sommige van die gereelde kampeerders het huise gekoop, maar die res moes maar ander kampplek in die omgewing vind. Die Van den Dools het Lake Pleasant, net verby Sedgefield, as 'n goeie plek geidentifiseer, en kamp nou elke jaareinde/begin daar.

A.g.v my werk by Stargrow en vrugte wat ongelukkig nie ophou groei tussen Kersfees en Nuwejaar nie, was ek baie lanklaas deel van die kampeerdery. Maar hierdie jaar kon ons tog 'n paar dae wegbreek en saam gaan kamp. Dit was kort (amper te kort vir uitrus), maar heerlik om weer die tyd van die jaar daar te wees. Ons het geswem, geroei, geseil, gestap en gelees. En Ma Marti se 60ste verjaardag gevier!




Geen opmerkings nie:

Projects