03 April 2012

Kromrivier kinder-uitstappie

Twee naweke terug het ons Vincent vir die eerste keer aan stap in die berg voorgestel. Ons het saam met Liesbet, Corne en Dirkie, William en Gytha en Ethan, en Lise en Keith na Kromrivier hut gestap en Saterdagaand daar geslaap. Dit was nogal baie koud met die instap, die wind het gewaai en Vincent het sit en snak na sy asem op my rug, maar hy het die stappie geniet en allerhande geselsies gesit en maak so tussen die snakke deur. Dit is maar 'n 40 minute stap, so net 'n lekker entjie om alles uit te toets. By die hut aangekom is daar gougou koffie georganiseer, en Riaan was so gaaf om 'n tentjie vir sy gesin onder die bome op te slaan sodat ons ons eie skuilingkie kon he. Ek was baie verbaas dat hy, wat nie 'n tent opslaan tensy dit ABSOLUUT BESLIS SONDER TWYFEL nodig is nie. En dit is omtrent nooit. 'n Baba verander 'n man. :-)

Ons het lekker gekuier en die weer was darm nie TE sleg nie. Vincent was 'n bietjie siek, so ons het nie geswem nie, wat jammer was want daar is 'n pragtige swempoel. Hy het wel bietjie in die stroompie gespeel en gekyk hoe sy vriend Dirk die water geniet. Ons het nie veel gedoen behalwe kuier en slaap en koffie drink nie. Ek was verbaas dat die slapery so goed gegaan het, met ons drie saam in die tent en die wind wat die tent omtrent om ons ore rondflap.

Sondag het ons so middagete se kant uitgestap, en 'n "very close encounter" met twee helikopters gehad wat besig was om 'n Hi-Tech advertensie te maak. Hulle het heeltyd net bo ons koppe gehang, en die een het nogal 'n indrukwekkende stuk kamera op die neus gemonteer gehad. Wonder of ons ooit die advertensie sal sien.




Ons lekker kampplekkie onder die enigste dennebome in SA wat beskerm word deur die bergclub. Amptelik met 'n kennisgewing om dit te bewys! 


Stoepstories..

 Hier sit die manne...

Vincent oefen om te kruip in die hut, met baie aanmoediging van all present.

Geen opmerkings nie:

Projects