07 Junie 2012

Cedarberge!

Die naweek het ons 'n slag 'n naweekuitstappie aangepak. Na 'n vinnige broodjie Vrydagaand het ons half 7 in die pad geval Cedarberge toe. Die rit was heel rustig - Vincent het geslaap tot op Piketberg en van daar af goed gery tot by die Algerie afdraai van die N7 af. Van daar af moes ons bietjie sing en peekaboe speel om hom gelukkig te hou vir die laaste uur van die rit. Die eindbestemming was oom Piet se plaas wat aan Driehoek grens. Pa en Ma Doorduin het reeds daar vir ons gewag. Dit was vrek vrek koud, hulle het met al hulle klere aan en al hulle komberse oor styf teen mekaar op die bank gesit en wag, aan die slaap geraak en al amper begin bekommerd raak oor ons wat laat is toe hulle wakker word. Ons motor het gese dit is 1 en 'n halwe graad toe ons daar aankom.
Ons het 'n koppie sop en 'n broodjie geeet, en gaan inkruip. Vincent moes by ons in die bed slaap want enige ander opsie sou te koud gewees het. Dit was 'n driekwart bed. Nie een van ons 3 het veel geslaap nie. Die voordeel was dat ons wakker was toe die son opkom, en dit was baie baie mooi.


Toe die sonnetjie eers 'n entjie op was, het dit lekker warm geword en ons het lekker gestap, buite op die stoep koffie gedrink en geeet, en Vincent kon 'n slaggie ordentlik buite speel. Saterdagaand het ons besluit  daar is nie 'n kans dat ons weer gaan koudkry nie, en die manne het vir ons 'n tamaai vuur gepak wat die huisie so warm gemaak het dat ons met kortmoue rondgeloop het. Vincent was lekker moeg en het al vroeg omgedop, en ons tweede nag was stukke beter. Sondagoggend het die mans nog 'n kraan gaan vervang iewers by 'n tenk, en ons het vir Vincent die bokkies by Driehoek gaan wys. So tweeuur het ons weer die lang pad huistoe aangepak. Soos altyd as ons in die Cedarberge was, is 'n stop by die Oberholtzers 'n moet, en ons het nog lekker op die gras gekuier en gekoffie en Ilse het baie mooi fotos van Vincent geneem.Almal het veilig tuis gekom - 'n lekker naweek!







Geen opmerkings nie:

Projects