06 Julie 2010

Dolomiete


Met groot opgewondenheid en gewapen met Wim en Hannalie se nuusbrief van 'n paar jaar terug toe hulle Dolomiete toe is om al die Via Ferrata's wat hulle kon vind, te klim, wys ons toe die motor se neus in die rigting van die noorderlike Dolomiete. Wim hulle het begin by Canazei, so Canazei is goed genoeg vir ons ook! Sommer gou is ons tussen die pieke met die sneeu, en by 'n klomp interessante passe. Dit is prentjiemooi, laer af is daar groen velde met geel blommetjies en die sneeupieke in die agtergrond, maar hoe hoër ons gaan hoe minder gras en blommetjies sien ons en meer ys en sneeu en rotse.
By Canazei gekom, skud die vriendelike vroutjie by die Info haar kop en sê baie jammer maar al die kampplekke is toe. Ons is net mooitjies tussen die ski-seisoen en die stapseisoen daar, en almal is toe vir voorbereiding vir die stapseisoen. Al die ski-lifts is ook toe, en sy stel voor ons gaan maar na 'n laer vallei 'n ent terug waar daar wel 'n kampplek oop is. Ai tog. Maar, besluit ons, ons is nou so ver, ons wil tog gaan kyk hoe lyk die wêreldberoemde Cortina. Al is alles daar ook toe, dan ry ons nou maar vandag 'n draai en kyk al die mooi plekkies en die passe voor ons laer gaan.

Op pad Cortina toe ry ons ook per ongeluk verkeerd, maar dit was 'n mooi pad met 'n baie lekker pas (Passe Giau), wat bo by 'n pub uitgekom het wat lyk of dit die hangout is vir al die motorfietsryers in die land. Daar was meer motorfietse as wat ek nog ooit bymekaar gesien het. 'n Paar fotos en ons ry maar verder. In Cortina laai Riaan my by die toeriste Info af nadat hy per ongeluk op 'n plein ingedraai het waar motors nie eintlik mag ry nie, en nadat hy my afgelaai het, beland hy in 'n eenrigtingstraat waar iemand hom vriendelik wys dat hy ook nie eintlik daai kant toe mag ry nie. Na hy uiteindelik parkering gevind het en my by die Info kry, wil hy ook toe net uit die "deurmekaar" dorp. Alles was in elk geval daar ook toe, so ons kies toe koers na 'n vallei waar ons voor Canazei nog deur is, Pozza di Fazza.

Geen opmerkings nie:

Projects