08 Mei 2008

Mooihoek


Vanoggend redelik vroeg ontbyt geëet. Darem nie voor sonsopkoms nie. Na energie bymekaar geskraap is gekyk of ek die lek kon vind by die dammetjie. Lyk of dit daar by die gaas of mesh is wat die sement werk kort.
'n Lekker stap aangepak vroegmiddag: wat veronderstel was om 'n stappie voor middagete te wees het toe lank daarna geindig (afhangend natuurlik van hoe vinnig jy honger word...) Op pad na die nekkie agter die huis, bietjie na links, en toe af oor 'n randjie deur 'n bos. Beide klink maklik maar het nogal tyd gevat.Af met die pad, terug na die hek by die feetjiebos, maar toe mik ons links na die poort se kant by die rivier. Oor die rivier, en so al met 'n pad langs die rivier. (Hier lyk dit of mens die kom nogal lekker kan opdam!!-grappie). Ons sien 'n likkewaan, otterspore, en moontlik sy blyplek, wat ons met rus laat, maar lank van 'n van 'n afstand af dophou. Koekies geeet op 'n klip en fotos geneem van dit van die poort en Linjaan. Verder na oom Rudolf se kuil se bokant-ste poel waar K 'n skoenlapper probeer afneem. Sy gly toe, ka-plonk kniediep in die poel in. Ai toggie.Alles probeer droogkry en die seer weggeswem. (Dit moes baie snaaks gelyk het. My voet gly, ek val opmy maag, ek en Riaan kyk na mekaar, en daar begin ek gly. Al met die skuins klippe af tot onder in die poel. Alles was nat, skoene, klere, kamera. Gelukkig is die kamera al gewoond aan rowwe behandeling, en ken die kuns van droog word in die son! k) Ek het ook 'n dip gevang. Na 'n paar koekies is ons terug huistoe. Kari het aan haar Spaanse huiswerk gewerk terwyl ek 'n draffie gaan vang het. Terug het ons begin inpak. :-( Lekker die aand gebraai, vir oulaas.
More is ons laaste dag op Mooihoek.

07 Mei 2008

Mooihoek

Vanoggend het Kari gou 'n ander bult agter die huis gaan uitklim. Ek is darem bietjie vroeër uit die vere en na 'n koffie en ontbyt het ek die res van my boek klaar gelees: "The Science Book". Laat mens net besef hoe klein ons hier op aarde is en dat ons nog nie naastenby al die wonderwerke van Vader ontdek het nie. Een van daai boeke wat jou opsaaik om dadelik die naaste Prof te bel en 'n Ph.D. te begin. (Ai en dan het hy 'n vrou wat hom dadelik aan die realiteite van Ph.D.-swot herinner... ;-) Kari het vir middagete 'n heerlike aartappel slaai gemaak, wat ons toe na Voelkuil neem. Lekker daar dagboek geskryf en Kari het geswem...Brrrr.... (soos ek gese het...k) Middagete geeet. Dit was ongelooflik om te sien hoe die wattles minder geword het. Ons het self toe ingespring en 'n paar gebas stroom-op se kant. Oppad terug sien ons hoe hulle begin om grasvelde te brand. Fotos geneem by die miershope en lekker tuis in die ghoema gebraai.

06 Mei 2008

Mooihoek


Vandag al bietjie meer ingeburger hier. Kari het vroegoggend 'n bult gaan klim. Ek het lekker laat geslaap... Bietjie koffie gedrink, ontbyt geëet en gelees. Ek het so vinnige draffie ingewerk na die boonste hekkie. Die middag is ons rustig na Oom Rudolf se kuil. Baie vinnig gedip: Dit was vreeslik koud! Kari het die swem so bietjie langer uitgerek! (Sulke poele MOET mens gebruik, al is dit winter! k) Rustig weer terug na huis en lekker in die ghoema gekuier en uitgerook vir die res van die aand.

05 Mei 2008

Mooihoek

Vandag is ons eerste dag op Mooihoek. Onder die heerlike duvet het ons die sonnetjie getart, maar is darem uiteindelik uit die vere en aan het ontbyt maak. Gou die sleutels gaan haal. Vir Kari rondgewys, afgepak. Met alles uitgesorteer en 'n vinnige middagete happie is ons vir die grand-tour-oor-die-koppie na die feetjie bos. Af in 'n klofie in die rigting van Oom Rudolf se kuil en weer op na die huis. Lekker die aand gebraai. (Dit is voorwaar ongelooflik mooi. Ek kan net sien dat hier al soveel goeie tye saam gespandeer is. Die herinneringe dryf in die lug rond, en al kan mens hulle nie vasvang nie omdat dit nie aan jou behoort nie, weet mens hulle is daar. Dankie aan die Morisse dat ons so 'n ontspan-wekie voor die groot stappery by Mooihoek kon inwerk! k)

1 jaar Bruilofs Herdenking

Een jaar van getroude lewe: Beter as wat ek dit kon voorstel. 'n Ongelooflike vroutjie is my gegee en ek is baie geseend en dankbaar! Ons ken mekaar al so amper 10 jaar, maar die afgelope jaar kan ek se sy is myne!! En ek het 'n maatjie!! (Darm nou nie meer so alleen soos die dag toe hy gebore is nie...;-) Ek kan ook se dat die afgelope jaar die beste van my lewe was. Ons is voorwaar baie dankbaar dat die Vader ons vir mekaar gegee het. En watter beter plek om die herdenking te vier as bo-op die koppie by Mooihoek! K)

Kari: Jy is en bly die beste!!

04 Mei 2008

Oppad na Mooihoek

Vroeg oggend in Wimpy by Colesberg gaan koffie drink om wakker te word en al langs die Hendrik Verwoerd (alias Gariep, of wat noem hulle die plek nou weer... ) en toe via Bethulie. By Smithfield het ons natuurlik verkeerd gedraai en amper in noodgevalle by die hospitaal ingery. Volgens oorlewering moet hier êrens ook nog 'n kanon wees met die naam van Grietjie wat ons toe nooit kon opspoor nie. 90km na Wepener en vinnig na Hobhouse. Daar 'n koppie koffie met vla / "custard"koek by die Oom en Tannie gedrink. Die Oom doen die ongelooflikste skilder en leer kuns. Baie besonders. Lady Brand. Naby Ficksburg by die kersieplaas "Constantia" gestop. Fouriesburg het 'n pragtige kerk en 'n lekker soppie en brood in Clarens terwyl dit giet van die reën verseker dat ons warm en vol verder kan aanskuif Bethlehem toe. Bohlokong, Warden, Vrede, grondpad, Volksrust, Wakkerstroom en Mooihoek!

03 Mei 2008

Dit is vakansie Tyd!

Laat oggend aan die gang na die vorige aand se jolyt. (Het sommer by Brett en Ronel gekiep na die troue. k) Laat inkopies by P'n P en slagter gedoen. Toe is ons oppad! Worcester, Beaufort en Colesberg die bakkie se dors geles. (En hy is nogal dors!) In gietende reen het ons erens 'n happie gaan eet en toe 'n stil plekkie voor die skool gesoek vir slaapplek...

Projects