24 Mei 2008

Fluit fluit...

Oggend met Tanie Rika gekuier en N2 Kaap toe aangepak. Net na Riviersonderend na Stanford afgedraai om in Hermanus 'n laaste braai by Keith te maak. Wat 'n lekker vakansie en ervaring om 3 weke te breek met alles waaraan ons gewoond is. Gedagtes skoon te kry en die res van jaar verfris te kan ingaan. Dankie aan almal wat ons langs die pad ontmoet het en ons lewe verryk het. Ook ons Hemelse Vader wat ons oor die volle 4400km beskerm en geseën het!

23 Mei 2008

Oppad na George

Die oggend vroeg op om te gaan kyk na wetsuits. By die Billabong, RipCurl, etc fabrieks winkels gaan kyk. Toe by Jeep fabriek 'n broek en reënbroeke gekoop. Vandaar na waves gaan kyk, maar besluit dit is dalk beter om eerder te loop as om polse te sny oor die surfboards wat by die huis lê. Aangeskuif na Kareedouw en 'n koffie gedrink by die "Sweaty Dutchman"! Lekker plekkie, en goeie koffie. Veral sy Dutch Coffee Shake is ongeloooflik! Verder gesuiker verby Jubertina en via die Montagu pas na George. Vinnig by Vicbaai 'n draai gemaak voordat ons by Tannie Rika gaan kuier het. Nog 'n lekker stappie met die honde in die botaniese tuin ingewerk voor 'n heerlike aandete.

22 Mei 2008

via Grahamstad na Jeffereys

Vanoggend deur honde wakker geblaf. Opgestaan, gestort en ge-ontbyt. Fotos geneem van kampplek en gegroet. By die Inligting en Toeriste sentrum vir Tom en Sonja ontmoet en lekker oor wattles gesels. Blykbaar gee wattles stikstof aan die grond af. Na 'n pottery plek, die kerkie en die kleinste biblioteek in Suid Afrika. Verder via Ecca Pas na Grahamstad en in ou Transkei oulike plekkies soos "God is Great - haircuts" gesien. Kari wou nie hê ek moet my hare daar sny nie. Lekker op Grahamstad met Nico, Kari se neef, gekuier en gou by Rhodes Universiteit gaan kyk. Vandaar na Port Elizabeth toe en 'n bietjie langs die kus daar afgery. So net na 5:30 kom ons by Jeffereys Bay binne. Lekker vuurtjie in die munisipale kampeerterrein.... ZZzzz.....

21 Mei 2008

Barkley Oos na Hogsback

Wakker geword met nog 'n koei wat naby verby-asem. Ge-ontbyt en opgeruim. Af na die plaashuis en gegroet met koffie en lekker kuier. Via Barkley-oos, Cala en die Calapas. Whittlesea, Seymor nadat ons by die Nico Malan pas af is. By Seymor skerp links by die Hogsback bordjie. Nie te ver nie en daar is 'n "4x4's en bakkies only" waarskuwing.... maar ons ry mos 'n bakkie... Dit moes egter die teken gewees het, want weereens begin ons met 'n nuut geskraapte pad wat lekker ry. So 16km later loop ons egter ons rieme styf en laat ons grondvry hoogte ons in die steek! Hogsback moes omtrent net bo op die bult gewees het (2-3km volgens GPS). Dus, omdraai en die laaaang pad om darem net voor donker by die "Away with the Fairies" backpackers in Hogsback. Voor donker nog 'n stukkie kon rondloop. Die aand lekker gekuier. Ou van Bettiesbaai se backpackers ontmoet. Lekker Pizza, rooiw(as)yn en 'n warm kaggel, terwyl daar 'n donderstorm gevorm, neergedaal en weer verdwyn het binne 15min. Na die reen etc lekker in die bakkie ingekruip...Zzzz...

20 Mei 2008

Rhodes en omgewing

Vanoggend was Kari vroeg op. Fotos by die forel dam geneem, Ek was uiteindelik ook op en aan die gang. 8:00 gaan groet en so lekker met Jean gekuier dat ons eers 9:00 daar weg is. Die pad verder was baie mooi en Naude's nek was ongelooflik mooi. (Die Naude wat die pas gebou het is die oupa van die Naudes op Vrederus.) By Naude's nek het ons regs gedraai na Tenahead Lode en daar lank met Leon (die bestuurder) gesels. Die plek het 'n stunning uitsig en dit is gebou in die Scottish Highlands styl. Verder na Rhodes. Vinnig by die hotel gekoffie en op aanbeveling is ons op na Tiffendell. Dit is nogal 'n biellie van 'n helling oppad soontoe. Met bordjies wat o.a. se: "...and drive with confidence..." om jou aan te hits tot bo, wonder mens of daar nie een of ander hint is wat hulle vir jou op een of ander manier wil gee nie... Bo op die berg was daar nog nie sneeu nie. Bietjie met die bestuurder gesels en hulle hoop dat hulle daardie aand sneeu sou kry. So bietjie fotos geneem. O ja en het twee keer 'n boer wat sy skape na ander weiveld neem in die pad gekry. Eerste keer op Naudes pas en die tweede keer net onder Tiffendell se pas. (http://www.snow.co.za/webcam2.htm om te kyk of daar sneeu is). Verder is ons terug na Rhodes en het daar bietjie fotos geneem, voordat ons rigting Barkley Oos inslaan.
Onderweg draai ons af by die Steyns van die Caves, Piet en Dalena. Kari het so paar jaar terug ook hier afgedraai en het dit onthou. Piet verduidelik dat alle Steyns in Suid Afrika op een of ander manier familie, d.w.s. Steven op wie se plaas ons huur is ook famielie. Verder het Piet ook die kurrikulum geskryf vir die Technica Elektries HG wat ek op Drostdy gehad het. Natuurlik het hy al die onderwysers ook geken. Dan ken hy ook vir Peter Jan se pa, wie ek dan ken via die bergklub. Dit is regtig besonderse mense. Bo-en behalwe dat Piet die plaas boer (en vooruit daarby) het hy een van die skole in Rhodes op standaard gekry. Daar 'n sukses gemaak en toe is hy genader om Barkley Oos se skoolhoof te wees, waar hy tans ook baie doen. Mense wat so baie vir die samelewing gee. Regtig iemand wat dit nie vir erkenning doen nie, maar wat dit verdien!
The Caves was baie oulik. Dit is dit grootste grot wat vir kommersieele boerdery gebruik word in Suid Afrika. Ons het naby die grot kamp opgeslaan. Aandete gemaak en toe gaan hot-chocolate drink by die Steyns. Lekker gekuier. Ook ontdek dat hulle bolle aan Oak Valley verskaf! Wêreld is darem klein! So jip, na die lekker kuier het ons tussen die beeste in die veld gaan slaap! (En wakker geword van 'n koei wat met groot genoegdoening ons omgekeerde tafel skoonlek!)Lekker plaas! Zzzz..

19 Mei 2008

Cobham en Vrederus

Kari is weereens eerste op vanoggend... en baie besig: Besig om my uit die bed te kry!! Ons is 8:15 oppad na Pillar Cave. Wat 'n lekker stappie. Vol selfoon ontvangs noop my om vir Stefan te bel en geluk te wens met sy verjaardag. Verder ingestap met middagete breek by Pillar Cave. Oppad terug 'n paar snaakse mense gekry en groot Elande gesien. Vinnig gestort en oppad.
Fotos geneem lans die pad en by "The Duck and Do-Little" gekoffie.
(Nie aan te bevele nie. Mooi omgewing maar simpel plekkie vol kitch goeters soos plastiekpoppe. En hule vat nie kredietkaarte vir bedrae onder R50 nie, wees gewaarsku!)
Oppad na Matatiele. En dan op 'n pas geskraapte grondpad afgedraai na Rhodes. Die grondpad was slegter as wat ons gedink het en teen sononder (wat nou al so 5:30nm is) by Vrederus ingedraai en gehoop dat die Naudes vir ons 'n ou staan plekkie en water vir die aand het. Min wetend dat dit 'n forel plaas is met 'n paar chalets. Een van die chalets is toe nie die aand opgeneem nie en ons gebruik toe net die nodigste geriewe en slaap in die bakkie. Lekker gebraai die aand en lekker gekuier om die vuur! Die plekkie is baie oulik met omtrent alles waaraan ons kon dink in plek. Ook baie prakties ingerig.... Elkgeval....Zzzzzz....

'n Plekkie wat ons regtig kan aanbeveel:
http://www.linecasters.co.za/vrederus
juan@vrederus.co.za
(045) 932 1572

18 Mei 2008

Cobham

Vanoggend redelik laat weg uit die kamp. Dit was pragtig met die mis wat so teen 8:00 se kant lig. So net na 8:00 dus aan die stap. Al met die Pholeana rivier langs tot ons by die "shelter" kom. By die "junction" was daar lekker poele. Lyk omtrent soos hierdie animasie flieks se water wat so helder is tot onder op die bodem. Terug by die kamp net na middagete. Vinnig geeet en gestort. Oppad dan na Garden's Castle. Pragtige plekke langs die pad gesien. By Garden Castle is ons die enigste in die kampterein. So entjie gaan stap om die plek te verken. Paar fotos byMermaid pools geneem wat baie lyk soos Marblebaths. Die aand gebraai en uile, kraaie en jakalse gehoor!

Projects