07 Junie 2012

Dirkie verjaar

Nog verder terug in die argiewe. Ons tweede eerste verjaardagpartytjie. Die manne het net 'n halfuur gehou en toe het hulle maar weggeloop en gaan wynproe. Dit was eintlik heel rustig sonder hulle. :-)


Die verjaardagman!

 Die Murrays.. 


 Jelly is 'n goeie idee.. 


Wat is dit? 


Kan mens dit eet? 


Mmm, dis eintlik flippen lekker! 


Is daar nog iets aan hierdie party? Ag nee dit lyk boring ek bly maar net hier by die jelly!

Jaco en Telani trou.

Ek werk nou terug in die argiewe. Ubuntu is nie baie lief vir ons kamera nie en nou het ek 'n slag sover gekom om dit op my werksrekenaar (wat genadiglik nog Windows op het) af te laai.
Dit was 'n baie lekker troue - die kids het hulle goed gedra tot net voor poeding, so ongelukkig het ek en Ronel  nie die heerlike poeding of Liesbet se meesterlike troukoek kon proe nie. Maar ons het lekker gekuier. Dit was die heel eerste troue waar ek was waar daar 'n regte egte koffiemasjien MET bykomende barista was. Mmm hoe lus raak ek nou weer vir daai koffie!

 
 Pa en seun in trouklere en  ma en seun in trouklere, en ons almal saam.



Hierdie was baie snaaks. Lyk my as mens in die moedergemeente op Stellenbosch trou, moet jy maar weet jy gaan 'n toeriste attraksie wees. Brett (die offisieele fotograaf) moes mooi sy man staan om nie heeltemal uit die pad uit ge-elboog te word deur die Chinese en Jappanners wat baie graag fotos van die bruidspaar wou he nie. Hierdie foto van hom (in die middel) vat die oomblik baie mooi vas. 

 Die bruidspaar..

Saam met Oupa


Ek dink die foto was met ons moedersdagkuier geneem. Saam met Oupa en Ouma van den Dool, die Nattrasse, en Lise (as ek nou reg onthou!). O ja en Pieter. Ons het die braaiplek ingewy, sommer so bietjie van 'n housewarming ook.

Cedarberge!

Die naweek het ons 'n slag 'n naweekuitstappie aangepak. Na 'n vinnige broodjie Vrydagaand het ons half 7 in die pad geval Cedarberge toe. Die rit was heel rustig - Vincent het geslaap tot op Piketberg en van daar af goed gery tot by die Algerie afdraai van die N7 af. Van daar af moes ons bietjie sing en peekaboe speel om hom gelukkig te hou vir die laaste uur van die rit. Die eindbestemming was oom Piet se plaas wat aan Driehoek grens. Pa en Ma Doorduin het reeds daar vir ons gewag. Dit was vrek vrek koud, hulle het met al hulle klere aan en al hulle komberse oor styf teen mekaar op die bank gesit en wag, aan die slaap geraak en al amper begin bekommerd raak oor ons wat laat is toe hulle wakker word. Ons motor het gese dit is 1 en 'n halwe graad toe ons daar aankom.
Ons het 'n koppie sop en 'n broodjie geeet, en gaan inkruip. Vincent moes by ons in die bed slaap want enige ander opsie sou te koud gewees het. Dit was 'n driekwart bed. Nie een van ons 3 het veel geslaap nie. Die voordeel was dat ons wakker was toe die son opkom, en dit was baie baie mooi.


Toe die sonnetjie eers 'n entjie op was, het dit lekker warm geword en ons het lekker gestap, buite op die stoep koffie gedrink en geeet, en Vincent kon 'n slaggie ordentlik buite speel. Saterdagaand het ons besluit  daar is nie 'n kans dat ons weer gaan koudkry nie, en die manne het vir ons 'n tamaai vuur gepak wat die huisie so warm gemaak het dat ons met kortmoue rondgeloop het. Vincent was lekker moeg en het al vroeg omgedop, en ons tweede nag was stukke beter. Sondagoggend het die mans nog 'n kraan gaan vervang iewers by 'n tenk, en ons het vir Vincent die bokkies by Driehoek gaan wys. So tweeuur het ons weer die lang pad huistoe aangepak. Soos altyd as ons in die Cedarberge was, is 'n stop by die Oberholtzers 'n moet, en ons het nog lekker op die gras gekuier en gekoffie en Ilse het baie mooi fotos van Vincent geneem.Almal het veilig tuis gekom - 'n lekker naweek!







29 Mei 2012

I'm too sexy for my shirt!

Oh the nights

Sjoe waar gaan die tyd heen. Dis al weer 'n hele tydjie vandat ek laas geblog het - soos Marna my herinner haak Vincent 'n bietjie lank vas met sy ABC's. Hy is darm nou al verby die stadium en kan al maak soos 'n uil, 'n vissie, 'n kat, 'n hond, 'n perd en die donkie sukkel nog bietjie maar dis amper daar!
Die ding is as mens so min slaap soos ek - het mens nie in die aande nog krag vir blog skryf nie. Dan doen mens die nodige - was die skottelgoed, vee die aanregte af, skop gou al die speelgoed min of meer uit die pad dat ek nie in my soms 5 of 6 trippies 'n nag na Vincent se kamer toe daaroor val nie, en gaan klim in die bed. Blog skryf is nie op my Maslov lysie nie. Die dat dit "by the wayside" val.

Vanaand is bietjie beter as gisteraand. Nie dat gisteraand nie lekker en gesellig was nie, ons het gekuier vir Ronel se verjaardag en Ouma en Oupa van den Dool wat more op 'n amper-rondom-die-wereld-toer vertrek. En vir Oupa en Ouma Doorduin se 36ste huweliksherdenking. Riaan het baie mooi onthou om vir al die events te bid, en dit was 'n geseende aand. Die oumas het die kinners gebad terwyl die res van ons (behalwe die mans) vars pasta en 'n miljoen souse gemaak het. Ek was bietjie te oorywerig met die sousbeplanning. Die finale produk het baie mooi op die borde gelyk: 'n hoop pasta in die middel met blomblare van sous rondom. Na 3 probeerslae om Vincent aan die slaap te kry, het ons ingegee aan sy behoefte om deel  (eintlik die middelpunt ) van die geselskap te wees. En toe ons hom op die ou end om net voor tien in die bed kry, was sy breintjie duidelik nog nie afgeskakel nie. Die toe oe was maar net 'n smokescreen en voor 12 was hy al 3 keer weer wakker en het ons hom maar by ons in die bed gesit. Ons het immers 'n baie groot bed (twee driekwart beddens teen mekaar) vir daai doel. Maar, soos Riaan vanoggend met 'n baie moee stem gemompel het, vir Vincent het ons 'n rugbyveld nodig. Rustig was die nag beslis nie, op 'n stadium het ek wakker geword (haai dan moes ek actually geslaap het!) en gesien Riaan hang omtrent met sy voete en skouers aan die bed en die res van sy lyf halfpad af en Vincent le met sy lyfie dwarsoor die bed en lyk of hy Riaan met sy kop teen sy maag probeer heeltemal afstoot van die bed af. Ek vra toe maar of hy ok is so, en die antwoord was "nie eintlik nie". Vincent het nie baie daarvan gehou om aan sy voete teruggetrek te word na die middel van die bed nie, en luidkeels geprotesteer en byna onmiddelik weer sy voorgenoemde posisie ingeneem. Was dit toe dat Riaan maar vir 'n uur lank gaan kyk het hoe vorder die downloads op die rekenaar in die studeerkamer? Ek kan nie onhou nie.
Vanoggend was Ta bright eyed and bushy tailed en ons ooglede het omtrent agter ons aangesleep oor die vloer. Gelukkig was Ouma Doorduin 'n vervrissende teenwoordigheid en hulp.

Nou wat soek ek nog die tyd van die aand agter die rekenaar? Goeie vraag!

Projects