30 Mei 2010

Turkye en Italië: Vertrek - 6 Mei

So begin ons 3-weke-lange reis na Turkye en Italië. Die plan was oorspronklik om vir Stef en Yolandi te gaan kuier in Italië, maar hulle word toe verplaas Houston Texas toe so 'n paar weke voor ons vertrek. Dit was baie jammer, omdat alles toe al geboek, gereël en betaal was, moes maar gaan.

Die aand voor die tyd is alles gepak - ons het nog 'n meningsverskil gehad oor of ons 'n 3rde sak by ons rugsakke moet vat en of ons alles in twee rugsakke en 'n dagstappiesak gaan kry, maar gelukkig het ek gewen en die 3rde tas is saam - anders het ons dalkies nie plek gehad vir al die Turkish Delight wat saam teruggekom het nie. :-) Maar ek stem na die vakansie weer heeltemal met my slim man saam - hoe minder goed mens hoef saam te sleep (al is dit net in die lughawegeboue voor mens dit in die kar laai) hoe beter. Volgende keer lose ons die 3rde tas en bring niks vir niemand saam terug nie. Of dalk pos ons dan eerder maar presentjies van daar af.

Die oggend van ons vertrek reën dit katte en honde, gelukkig kan Pa en Ma van den Dool ons lekker voor die splinternuwe lughawegebou afgooi, en na nog 'n laaste fototjie is ons reg vir die hele inboekstorie. Gewapen met al wat 'n paspoort, i.d., huweliksertifikaat en enige ander dokument wat kan help om die proses glad te laat verloop, en wonder bo wonder word niks vrae gevra nie en ons is binne 'n paar minute by ons boarding gate. Gelukkig het ons boeke by ons en is daar 'n plekkie waar ons bietjie koffie kan drink (wit hot chocholate in my geval) selfs met 'n uitsig op ons vliegtuig.















05 Mei 2010

Ons onromantiese huweliksherdenking-middagete


Dit het gereën en was koud vandag, en ons sou 'n brekfissie iewers gaan eet het, maar toe is ons nie lus vir uit in die weer nie, en maak toe sommer iets by die huis. Toe middagete-tyd aanbreek, besluit ons ons moet seker ietsie gaan doen, en ry toe maar Riebeek se rigting om 'n plekkie te gaan soek wat sop het. Pulpit Rock, ons eerste keuse, was toe, en toe stop ons by 'n klein plekkie in Riebeek Wes waar ons nog nie was nie. Wat 'n fout was. Ongelukkig kon ons eers sien hoe dit binne lyk toe ons by die deur ingaan, en, goed opgevoede kinders wat ons is, wou ons nie omdraai en weer uitloop nie. Ons was ook die enigste mense daar, en die kelnerin het al na ons toe aangekom met 'n boekie. So toe vra ons maar vir sop en soek die beste plek uit om te sit in die clutter.











Die sop was darm nie sleg nie, alhoewel dit nie die lekkerste butternut sop was wat ons al geeet het nie, en ons het maar gefluister om nie die groot grys pappagaai in sy hok reg agter Riaan wakker te maak nie. Dis eintlik so 'n plek waar jy voel jy moet net stilsit en aan niks raak nie en eintlik ook nie te hard asem haal nie want netnou foeter een van die skilderye van die muur af. Ek wil nie 'n ma met 'n kind wees in die plek nie! Vir almal wat wil weet watter plek dit is om dit te vermy (of dalk as dit na jou tipe plek lyk om dit te gaan besoek, wie weet), dit is die enigste koffiewinkel in Riebeek Wes aan die linkerkant van die hoofpad. Hulle was waarskynlik ook die enigste plek wat toe was met die naweek so olyffees, omdat die eienaar nie van al die mense hou nie en nie hou daarvan as mense inkom en weer uitloop nie, blykbaar. :-) Wat hulle seker doen.

Olyffees


Lekker potjiekos in die kelder by Pulpit Rock.

3 Jaar vandag!!







Colyn en sy gesin







11 April 2010

Saterdagaand-kuier-met-kos-en-wyn








Gisteraand het Jaco, Corne en Liesbet by ons kom eet (en drink!). Die prawns wat ek vir voorgereg wou maak was baie grillerig, en ek was bly vir Liesbet se hulp in die voorbereiding. Corne en Liesbet het 'n heerlike hoofgereg gemaak van Marokkaanse lam met dadels, en Jaco het 'n ongelooflike appel en bessie-pastei gemaak vir nagereg. Natuurlik saam met elke gang moes 'n bypassende wyn gaan, so ons was nogal opgewyn aan die einde van die aand.

Baviaanskloof

Tydens ons Wortelgat-kuier so 'n paar naweke terug, het ons gewonder wat om te doen met Paasnaweek. Kan nie onthou waar die idee vandaan gekom het om Baviaanskloof toe te gaan nie, maar dit het daar begin.
Ongelukkig is daar net een 4x4 in die vriendekring (of in elk geval die deel van die vriendekring wat beskikbaar was om saam te gaan) en dit het dus die getalle wat kan saamgaan bietjie beperk.
Ons het Donderdagmiddag so half 6 vertrek, al die paasnaweekverkeer ge-sidestep deur Franschoek -Greyton - Riversdal te ry, en half 11 by tannie Rika op George gestop. Sy het vir ons 'n heerlike aandete gemaak en nog vir ons gewag ook, en ons het nog lekker 'n bietjie gekuier voor slaaptyd. Vrydagoggend na ontbyt het ons verder gery, lekker paaie (Prins Alfred's Pass) na die Langkloof. Eers weer op Kareedouw gestop by die Sweaty Dutchman, maar hy was ongelukkig besig om toe te maak en ons moes maar sonder koffie bly. Ons was wel bly om te sien sy koffiewinkel maak dit nog, en het lekker bietjie met hom gesels.

Ons was so 6uur se kant by ons kampplek, 9 km anderkant Patensie in die bos. Gonja 4x4 kampplek. Dit was heerlik stil en rustig, net ons op die plek, en dis so naby aan die natuur soos wat mens kan kom. Ons het sommer op die gras geslaap - en pragtige naggeluide gehoor, 'n hele paar verskillende uile en 'n knysnaloerie, wat ons die volgende oggend gesien het ook. Saterdag het ons die kloof gedoen. Gelukkig het Jaco 'n GROOT bulbar op sy bakkie, en ons kon met selfvertroue om die nou draaitjies ry. Want sjoe, die pad is nogal baie nou op plekke, en baiekeer moet mens terugstoot as daar 'n voertuig van voor af kom. Ons het eers die Kouga-dam gaan kyk. Baie indrukwekkend. Ons het ook by Komdomo ingeloer. Dit lyk na 'n

super lekker kampplek. Ons wou by Smitskraal middagete eet, maar ons magies het begin skree voor ons daar was, en ons het sommer langs die pad afgetrek en gou broodjies gemaak. Ons is wel gewaarsku teen die buffels deur 'n verbygaande bakkie se mense, maar ons het maar die kans gevat. Verder by 'n paar mooi uitkykplekke gestop, en so 6uur se kant by Doringkloof gestop, waar ons Saterdagaand en Sondagaand gekamp het.

Vir so 'n lang kampery het ons maar tente opgeslaan. Dit is ook 'n baie mooi kampplek, met lekker gras en die mense wat dit bestuur is baie vriendelik. Hulle het 2 pragtige Border Collies, wat saam met die kinders sokker gespeel het. Ons het lekker kos gemaak, en die weer het toegetrek terwyl ons geeet het, en selfs bietjie gereen later. Sondag was koud en bewolk, en ons was nie baie lus om aktief te wees nie. Ek en Jaco het darm gaan draf die oggend, en dit het ons gerusgestel dat ons iets gedoen het en die res van die dag rustig kon vat. Riaan het nie daai gewetensprobleem gehad nie, en het rustig geslaap tot ons terugkom, en toe verder op die kampstoel. :-) Ons het 'n lekker ontbyt vir middagete gemaak, met BAIE kolestrol. 'n Klein entjie gaan stap later die middag en koedoespore en 'n baie mooi vetplant gesien, sowel as 'n baie kwaai volstruis. Gelukkig was daar 'n draad tussen ons en haar.



Terug by die kamp het ons weer geeet - Springbokrugstring met krummelpap en tamatiesmoor.



Sondagoggend het ons vroeg opgestaan, en so 8uur in die pad geval. So 9uur gestop by die makkedaatgrotte, grotte wat toegebou is en soos 'n huis ingerig is. Elfuur op De Rust gestop vir 'n lekker koppie koffie en 'n scone, en net buite Oudtshoorn by 'n kelder waar Jaco al vir 'n lang tyd wou stop, maar nog nooit by uitgekom het nie. Hulle maak Witblits genoem Oom Danie se wit hond, en Jaco het vir hom 'n botteltjie aangeskaf. Ons het maar gegaan vir die koffielikeur.


Daarna het ons 'n baie oulike pad gery, wat by pragtige rooi rotsformasies verbygaan. So het ons ook die KKNK se verkeer gemis. By Ashton het ons wel die verkeer geslaan, en tot by Robertson in 'n baie stadige tou karre gesit. Gelukkig het Jaco 'n GPS, en ons kon weereens alternatiewe paaie soek. Net na Robertson het ons regs gedraai Moordkuil toe, en toe weer via Franschoek Stellenbosch toe.





Dit was 'n heerlike naweek, en ons was bevoorreg om nog 'n stukkie van ons mooi land te kon verken.

Projects