03 Junie 2010

Turkye en Italië: Dag 3 - Die res van die dag


Na al die baie besienswaardighede is ons honger, en Arzu wil by die Pudding Shop gaan eet. Ons wil nie, want dit is te toeristies (en duur), maar sy dring so soortvan aan. Gelukkig is dit vol, toe gaan ons by 'n plekkie daar naby (maar nog steeds op die toeriste straat) wat klomp kos het waarvan jy uitkies en dan betaal mens per gewig. Dit is eintlik nice, want hulle het 'n lekker verskeidenheid, en mens kan sien hoe dit lyk. Selfs in Turkye is prentjies maar misleidend...

Dit was ons duurste middagete in Istanbul op die ou end, maar ons het baie lekker geëet. En sy het haar geheim verklap, nl. dat sy verniet kan eet op die toeristestraat as sy haar toergids badge wys.

Daarna gaan wys sy vir ons die Asiese deel van Istanbul (neem die ferry vanaf Eminonu), waar
sy bly. Dit is baie minder toeristies en baie nice, met klomp winkels en stalletjies wat vars produkte verkoop. Ons loop 'n draai deur 'n paar strate saam met haar, en toe sê sy dis nou tyd vir betaal en ons haal maar die dollars uit en loop verder op ons eie. Ons het natuurlik baie goed gespot wat ons wil proe, so ons doen weer die rondte, en proe turkish delight met room, yoghurt met heuning, vars aarbeie en gebraaide mossels. Ons doen ook shopping vir more se piekniek middagete in die tuine van die Topkapi paleis, en koop 'n bottel wyn by 'n "goedkoop" wynshop.






































'n Turk wat regte egte turkse koffie maak

Toe kan ons nie dink wat om nog daar te doen nie, vergeet HEELTEMAL van die mooi stasiegebou en vat die ferry terug.

Terug by Eminonu gaan soek ons eers die Spice bazaar/Egiptian market. Dit is 'n onderdak mark waar al die stalletjies spices en verwante goed (ook baie turkish delight) verkoop. Die kruies is meestal pragtig uitgestal in bakke, en maak vir baie mooi fotos. Ek het by die Asiese markte Turkse saffraan gekoop - dit was lekker goedkoop vir 'n groot pakkie vol. Ek is gewoond daaraan om deur my ore te betaal vir 'n knypie van die goed - so het die "bargain" aangegryp. Oral in die spice bazaar sien ons ook die goedkoop Turkse saffraan, en sommige stalletjies het ook die heelwat duurder "regte" saffraan. Ek vra toe vir 'n mannetjie wat altwee verkoop wat die verskil is. Nee, sê hy, die Turkse saffraan is vir die Duitsers wat dadelik dink "Ha, dis 'n bargain", maar eintlik is dit bullshit. Oo, sê ek toe, nou maar dis goed ek het nie daarvoor geval nie. Maar eintlik het ek toe al..












































Na 'n kort sessie by die hotel, gaan ons terug na die toeristestraat om by 'n Kebap plekkie te gaan eet wat gelyk het of dit lekker groot broodjies met kebabvleis het vir baie goedkoop. Dit was ongelukkig weer 'n geval van oëverblindery deur prentjies, en wat soos 'n merske broodjie gelyk het wat jy met twee hande moet vat met vleis en ander goodies wat omtrent langs die kante uitval, is toe 'n dingetjie soos 'n opgerolde pannekoek en mens moet soek vir die vleis binne-in. Gelukkig het Rudi hulle die voorsienigheid (en die vrygewigheid) gehad om 'n Mezze platter en 'n ander voorgereg vir die tafel te koop, so op die ou end het ons darm heeltemal genoeg geëet.

Toe nog eers gou deur 'n paar toeristiese winkeltjies gaan stap voor slaaptyd.

Turkye en Italië: Dag 3 - Sunken Cisterns

Vanaf die Aya Sofia is ons na die Yerebatan Sarnici, of die Sunken Cisterns (ook genoem die Basilika Cistern). Dit is een van die vele ondergrondse cisterns onder die stad, en die eerste een wat heeltemal opgegrawe en "toeriste vriendelik" gemaak is. Dit is waarskynlik gebou deur Constantine in die 4rde eeu, en groter gemaak deur Justinian in die 6de eeu. Water is vanaf die Belgrade woude in die noorde dmv 'n aquaduct na die cisterns toe vervoer. Dit het die paleise van water voorsien, want daar is nie 'n rivier deur die stad soos meeste groot stede nie, en water was 'n probleem. Na die Ottoman oorname het dit in onbruik verval, en die Fransman Petrus Gyllius het dit later weer ontdek deurdat mense wie se huise bo dit gebou is, hom daarvan vertel het. Hulle het putte tot in die cistern gegrawe, en selfs bote op die water aangehou waarvanaf hulle visgevang het! Gyllius het begin wonder toe die mense vars vis in die strate verkoop - alhoewel met soveel see om die stad sou ek nou nie eintlik gewonder het waar die vis vandaan kom nie. Tensy hy sy vis geken het en gesien het dat dit varswater vis is. :-)

Dis baie atmosferies daaronder met die beligting en die water wat drup-drup. Dit is die grootste cistern en het 80 000 kubieke liter water gehou. Die koepels word ondersteun deur 336 pilare, met baie verskillende style. Hulle is waarskynlik van al oor die omgewing ingevoer, of hergebruik van geboue wat afgebreek is. Daar is twee pilare met medusa-koppe onderaan, wat verseker vroeer aan 'n ouer gebou moes behoort het.

02 Junie 2010

Turkye en Italië: Dag 3 - Aya Sofia


Vanaf die Blue Mosque is ons na die Aya Sofia. As daar nou een gebou is wat mens moet sien in Istanbul, dan is dit die Aya Sofia. Vir omtrent 1000 jaar was dit die grootste toegeboude spasie in die wêreld. Dit is nie gebou om God te verheerlik, soos mens dalk van so 'n kerk sal verwag nie, maar om die krag en rykdom van die Byzantine heersers te bewys aan hulle eie onderdane en aan besoekende belangrike persone.
Aya Sofia beteken "Church of the Divine Wisdom".

Die huidige gebou is die derde kerk wat op die spesifieke plek staan: dit is in die 6de eeu ge-"commission" deur Emperor Justinian nadat die voorganger verwoes is in die Nika opstande in 532. Die argitekte moes 'n gebou skep wat komponente kombineer in 'n manier en skaal heeltemal onbekend tot die Byzantine wêreld, en geen poging om dit na te boots sou daarna tot in die 16de eeu probeer word nie. Dit het 'n baie groot simbool van mag gebly lank nadat die Byzantine era al verby was, en dit het 'n obsessie geword by een van die grootste Ottoman argitekte, Mimar Sinan (onthou hom van die Blue Mosque) wat sy lewe gewy het daaraan om te verbeter op die tegniese wondere van die kerk.

Die koepel is 30 meter in deursnee, en word nie deur soliede more ondersteun nie. Dit het oorspronklik 5 jaar gevat om te bou, maar na 20 jaar en 'n paar aardbewings het die dome ineengestort, en 'n nefie van een van die oorspronklike argitekte moes dit herbou. Hy het die koepel nog hoër gelig, en 'n klomp groot vensters verwyder, wat dit baie donker aan die binnekant maak. Dit is blykbaar omdat die mosaike van daardie tyd ontwerp is om die beste te lyk in kers of lamplig - die flikkerende lig op die glas of goudstukkies laat hulle amper lewendig lyk.

In die vierde Crusade het die Katolieke soldate die plek weer verwoes (darm nie afgebreek nie), en selfs 'n prostituut op die altaar laat sing en dans om die oosterse kerktradisies te verkleineer. In 1453 het Mehmet the Conquerer die stad oorgeneem, en die kerk in 'n moskee verander. Dit was maklik om die minnarette by te bou, maar al die pragtige mosaike in die kerk moes toegemaak word, omdat moslems nie afbeeldinge van enige lewende ding in 'n moskee mag hê nie. Daar is alerhande patrone oor geverf, en die gebou is tot in 1932 as 'n moskee gebruik, waarna dit as 'n meuseum verklaar is, en restoreerwerk begin het om die oorspronklike mosaike oop te maak. Die restoreerwerk is vandag nog aan die gang en daar staan 'n klomp scaffolding rond, en mens sien dat dit nog dalk vir 'n paar honderd jaar gaan aangaan. Dit is 'n vreeslike sensitiewe saak, want die verfwerk wat oor die mosaike is, is natuurlik ook oud en het ook waarde. En dit moet baie stadig en versigtig afgehaal word om nie dit wat onder is te beskadig nie. En dan is daar ook nie altyd eers iets onder nie...








Daar is regtig baie mooi mosaike wat hulle al oopgemaak het, en mens kan ook die verskil tussen die kunstenaars sien. Sommige van hulle was baie goed, en die mosaike lyk baie life-like, hulle oë bly selfs op jou soos jy beweeg, waar ander gesigte nou weer hol en sonder lewe lyk.

Daar is 'n hoekie in die kerk waar klompe toeriste 'n pilaar soen en 'n wens maak. Daar was blykbaar 'n soldaat wat daar moes wag staan, en bietjie moeg geraak het vir die storie, en toe 'n paar draaie gaan loop het. Toe dit ontdek was dat hy sy pos verlaat het, is hy amper oor die kole gehaal maar hy dink toe 'n slim storie uit en sê dat 'n engel aan hom verskyn het en belowe het dat hy die soldaat se wagbeurt sal oorneem tot hy terugkom. Sy base sê toe, maar dan moet hy glad nie teruggaan nie, want dit beteken dat die engel virewig daar sal bly. En volgens die legende is die engel dus vandag nog daar.

Turkye en Italië: Dag 3 - Walkabout saam met Arzu


Vandag is ons Arzu dag. Dit is ook 'n duur dag, omdat ons haar 'n klompie dollars gaan betaal omdat sy ons die stad wys. Vanaf haar website (http://www.walksinistanbul.com/) lyk haar toere heel oulik - mens sê vir haar min of meer wat jy in gedagte het, en dan sit sy so 'n tipe "walk" vir jou aanmekaar. Ons het vir haar gesê ons wil die minder toeristiese dinge gaan sien - dit wat ons nie noodwendig self met 'n guidebook sal uitfigure nie.

Maar heel eerste het ons koffie nodig. Ons het besluit die rede dat Riaan so moeg is, is omdat ons nie in die oggende ons gewone koffie "fix" inkry nie. Heel gerieflik is daar 'n Starbucks naby waar ons vir Arzu moet kry, en teen Riaan se sin (wie gaan nou na Starbucks as jy in Istanbul is??) gaan ons so 9uur eers daar aan. Toe ons instap, sien ek 'n meisie wat volgens my soos Arzu se prentjie op haar website lyk, wat net uitstap. Wonder of dit sy is...

Riaan is darm bekeer na 'n heerlike Americano, en ons is reg vir die dag.

Ek was toe reg, die meisie van Starbucks was Arzu! Na 'n paar bekendstellings, gaan ons eerste die Blue Mosque (teen die tyd nou al 'n baie bekende gesig) van nader bekyk. Ons was eers effe teleurgesteld, want dit is in ons boekies een van die klassieke "selfdoen met die boekie" tipe sights, maar later kom ons agter dit is baie nice om dit met iemand te doen wat soveel van die geskiedenis en die kultuur weet, en dit baie lewendiger kan maak as die boekie.

'n Bietjie geskiedenis: Die argitek, Mimar Sinan, het dit beplan met 6 minarette. Daar was baie teestand teen die 6 toringtjies, omdat die moskee by Mecca 6 het en dit is naamlik die heiligste moskee. Dit sou dus 'n sonde wees om te kompeteer met Mecca se moskee deur 6 minarette te bou. En, seker ook belangrik, dit sou 'n groot las op staats-geldkamers plaas. Dit sê die boekie, maar hoe duur kan so 'n toring nou wees as mens in elkgeval so 'n moerse gebou bou (en wag tot julle die binnekant sien)? Maar daar is nog 'n rede, en dit is blykbaar dalk die grootste. 'n Hele paar paleise wat aan ministers behoort het, en per ongeluk gestaan het waar hulle wou bou, moes verwoes word. Hulle het in 1609 begin bou (die boekie sê nie wanneer hulle klaargemaak het nie).
Ons moes ons skoene uittrek en in 'n plastiek sakkie sit, en met lappe wat verskaf word alles toemaak wat nie mag oop wees nie (skouers, kniee).

Binne-in is dit baie indrukwekkend. Die hele binnekant is met blou teeltjies versier (meer as 20000 van hulle), vandaar die naam Blue Mosque. Daar is 4 olifantvoet pilare van 5 meter in deursnee wat die dak steun. En tussendeur al die hordes mense wat daardeur stroom, is daar 'n klompie wat tog binne kom bid. Daar is 'n area wat afgekamp word vir die mense wat die moskee vir sy eintlike doel wil gebruik.


Arzu het ons bietjie van Islam vertel, en dit was baie interessant. 'n Mens weet so min van die wêreld se grootste geloof (dis nou as jy denominasioneel (is daar so 'n woord?) tel. Wikipedia sê dat die Sunni Muslems die grootste denominasie is. Die 5 keer se bid per dag was eintlik 'n praktiese reëling om mense se dag in te deel: 1 keer met sonsopkoms, 1 keer met die begin van die werksdag, 1 keer met middagete, 1 keer met die einde van die werksdag, 1 keer met slaaptyd. Die man wat die gebede sing, word die muezzin genoem. Die proffesionele muezzin word gekies om te dien in die moskee deur sy goeie karaktereienskappe en die kwaliteit van sy stem (die gebede is altyd live, en nie 'n recording nie). Nadat die bou van minarette algemeen geword het, is die posisie van muezzin soms aan 'n blinde persoon gegee, sodat hy nie kan afkyk van die minnaret af in mense se huise en so hulle privaatheid skend nie. Die gebede word ook as 'n kunsform gesien, en daar is 'n film deur Oostenrykse filmmaker Sebastian Brameshuber wat wys hoe die Turkse Muezzins kompeteer in 'n jaarlikse "national call to prayer competition". Die muezzins en die imams word deur die staat betaal. Ek wonder of die muezzin nog 'n "day job" (of tussenin job) ook het...

Die moslems moet, voor hulle in 'n moskee gaan bid, 'n "ritual purification" ondergaan - wat beteken hulle moet hulleself amper heeltemal was onder krane buite aan die moskee. In die winter raak dit natuurlik bitter koud, en dan moet hulle binne op die koue vloer gaan sit en bid. Dit is nie verpligtend vir moslem mans om elke dag in die moskee te gaan bid nie - Vrydag is belangriker - so as mens dit nou een keer in 'n week moet doen, is dit seker nie so erg nie. Maar die Muezzins moet dit 5 keer 'n dag doen! Arzu vertel hulle het eenkeer gestaak om te eis dat die staat ondervloerse verhitting in die moskees insit. Dit is toe ook gedoen. :-)





31 Mei 2010

Turkye en Italië: Dag 2 - Blue Mosque


Die Blue Mosque vanaf Doy Doy..




Turkye en Italië: Dag 2 - Prince's Islands


Half 9 kry ons vir Rudi en Mariëtte onder vir ontbyt. Ons is vanoggend lus om rustig ons dag te beplan sonder sigaretrook en Turkse geselskap. Na nog 'n oulike Turkse ontbyt moet ons eers ons kamer ontruim - ons kamer in die nuwe hotel is nog nie reg nie, so ons los eers al ons goed in Rudi hulle se 2m x2m kamertjie, en hoop maar alles is uitgesorteer wanneer ons terugkom.


Ons het besluit om vandag die Prince's Islands te doen, sodat ons more kan kyk wat Arzu (ons Walks-in-Istanbul gids) ons wys en daarna die res van die stad op ons eie kan kyk. Eers jetons koop, en daarna vat ons die metro nr. 38 na Kabatas, waar ons die ferry kry. Daar is VERSKRIKLIK baie mense op die ferry, en ons krap vir ons 'n spasietjie op die boonste vloer uit om te sit. Ons het twee eilande uitgekies om te doen, die laaste 2, dus skip ons die eerste 2 en klim af by Heybeliada. Op pad soontoe sien ons 'n boot wat 'n klein bootjie sleep. Iets lyk nie heeltemal reg nie, en toe ons weer kyk, het die klein bootjie gesink en twee mans staan en kopkrap by die tou wat in die water verdwyn. Hulle het sny die tou toe maar af en vaar weg. Strange!

So 'n bietjie agtergrond: Die eilande is in die see van Marmara, so 15km Suidoos van die stad. Behalwe die paar polisie of spesiale voertuie, mag karre nie op die eilande kom nie. Die "mode of transportation" is stap, fietsry, of 'n perdekarretjie (waarvan daar 'n oorvloed is) huur. In die Byzantine era is 'n klomp kerke en kloosters op die eilande gebou, en omdat die eilande so lekker naby aan die stad is, is die kloosters later gebruik as luukse tronke vir "banished royalty", meestal nadat hulle verblind is. Na die Ottoman oorname, het die eilande meestal in onbruik verval en 'n veilige hawe vir vlugtende Griekse, Armeniese en Joodse groepe geword. In 1846 is 'n ferry-diens ingestel, en van daar af het die eilande polulêr geword onder die rykes van die bevolking - daar is baie "grand" vakansiehuise op gebou, waarvan sommige lyk of dit eeue laas gebruik is. Baie van die huise is van hout, en dit lyk of dit baie mooi kon gewees het op hulle tyd. Ons het iets gehoor van wette i.v.m die restorering van die houthuise wat dit so duur maak dat die mense dit maar eerder los om op te vrot. Tog jammer.





Die laaste eiland, Buyukada, is die grootste, en hier huur ons 'n perdekarretjie vir 'n 40min trip om die eiland. Dit was 'n heel interessante ervaring, weet nie of dit grandgeit is nie maar die dakkie het sulke tosseltjies aan wat oulik lyk maar maak dat mens nie veel kan sien nie. Oral kom ons verby ander perdekarretjies wat of rondstaan of ook besig is met die rondjie. Rudi het die baie interessante opmerking gemaak dat daar hordes perde en visprodukte is, maar nie 'n enkelte vlieg nie. Ek wonder hoe hulle dit regkry, en of dit regdeur die jaar so is!



Oral is ook die mooiste groentemarkte, en interessante visstalletjies met die weirdste visse wat ons nog gesien het.


Op pad terug kan ons 'n paar fotos van die stad se Skyline neem. Ongelukkig 'n bietjie hazy.


By die hotel aangekom, is daar niemand by ontvangs nie, en ons het nie 'n clue waar ons die aand moet slaap nie. Terwyl Rudi en Mariette stort en regmaak vir aandete, stap ons terug na Hotal by Sofia om vir Omar te vra wat nou. Hy klim op die foon, en na 'n paar No Problems verduidelik vir my dat sy vriend (die ou van die ander hotel) my kan help en ek moet toe sommer die foon ook vat. Baie moeilik om uit te maak wat hy bedoel, maar die kern was dat sy hotel vol is vir die aand, maar dat hy gelukkig nog 'n hotel het waar ons kan gaan bly. Wat kan ons doen? Ons wil baie graag nie op straat slaap nie, en Omar vat ons na die 3rde hotel, waar die ou van die 2de hotel (wat somehow ook iets met die 3rde een te doen het) ons kry en vir ons 'n kamer wys. Baie apologeties omdat die kamer nie 'n on-suite badkamer het nie, maar 'n gesamentlike een in die gang. Maar, verduidelik hy vir ons, die gang-badkamer is eintlik baie beter as 'n on-suite, en dit is REGTIG net ons wat die gangbadkamer gaan gebruik. Yeah right. Toe ons daar inloer le daar 'n nat handdoek en 'n dooie sigaret op die wasbak, en net nadat die eienaar daar uit is, loop daar iemand van die onderste vloer af op om te kom stort. Maar nou ja, ons het 'n plek om ons kop neer te lê, die kamer is darm skoon, en ons het aandete om na uit te sien.

Ons gaan eet by 'n baie oulike plek (ligging, prys en kos-gewys) wat 'n dak-terras het, en uitkyk op die Blue Mosque: Doy Doy. Baie lekker geëet vir min geld, en lekker gekuier en gefoto.





30 Mei 2010

Turkye en Italië: Aankoms Istanbul - 7 Mei

Na 'n lang nag van flieks kyk en min slaap, land ons 6 a.m. op Attaturk Internasionaal. Gou-gou deur doeane en koop 'n visum, mens kry hulle sommer op die lughawe vir 15 euros elk. Nou moet ons die hotel gaan soek. Ons het min of meer gekyk waar dit is op hulle website, maar natuurlik lyk dit alles anders in lewende lywe. Nommer een wil ons nie 'n taxi vat nie, want ons is op budget vakansie, en dan doen mens nie sulke goed nie. En dit is ook baie meer exciting om die local openbare vervoer uit te probeer - so ons volg die bordjie met die metro prentjie (gelukkig beteken die prentjie en 'n groot M universeel metro) tot diep onder die grond waar die metro maar gewoonlik loop. Om die koepon-sisteem uit te figure is toe ook nie so maklik nie, gelukkig was daar 'n gawe turkse omie wat hom oor ons ontferm het en vir ons gewys het hoe die Jetons werk. Dis nou die skyfies wat uitkom by die masjien as jy die geld ingooi, en wat jy dan weer in die slot by die hek moet gooi sodat jy kan deurloop. Op die metro self is daar ook 'n paar mense wat dadelik wil help toe hulle sien ons kyk op die kaart - almal vertel vir ons watter stasie ons by moet afklim. Baie gaaf, al kon ons dit darm self uitfigure.
So klim ons uit by Sultanahmet stasie, en stap in die algemene rigting waar ons volgens Google Earth dink die hotel moet wees. Hou in gedagte dat ons nie eintlik eers weet of die hotel bestaan nie - ons weet ons het hulle 'n deposito betaal, maar daarna kon ons hulle glad nie in die hande kry nie (nie foon of mail nie). Gelukkig het Riaan mooi gekyk op Google en ons kry dit redelik maklik. En dit bestaan. :-) Ons is egter baie vroeg (8 a.m) en ons het gesê ons kom eers 10uur aan, so daar is nog nie lewe by die hotel nie. Hulle het baie oulike tafeltjies en stoeltjies buite in die straat, though, so ons haal ons boeke uit en sit daar en lees. Na 'n rukkie loer 'n blonde vrou van heel bo af af, en skree 'n klomp goed in Turks. Toe sy sien ons verstaan nie, vra sy "Check in check out?" Ons probeer toe verduidelik dat ons wil incheck maar baie vroeg is. Sy verduidelik toe vir ons (dink ons) dat dinge daar maar stadig gaan in die oggend, en toe bring sy vir ons koffie. Baie oulik van haar, al was dit slegte Nescafe. 'n Rukkie later mag ons inkom want die kamer is ok. Die hotel het 'n basement vloer, twee vloere in die middel, en dan 'n vloer heel bo wat 'n klein kombuisie, tafeltjies 'n 'n paar stoele, 'n toilet, en nog 'n kamer (wat toe ons kamer is) het.

Hierdie is die uitsig vanuit die boonste "sitkamertjie". Daar is 'n kleinerige moskee reg oorkant, die kukuc Aya Sofia. Die hotel is regtig in 'n baie lekker stil straatjie in 'n woonbuurt, maar maklike stapafstand van al die groot besienswaardighede.

Ons gesels 'n rukkie met ons hostess, Burcu. Sy kan nie veel engels praat nie, maar ons kom reg. Alles is No Problem en ons moet net relax. Sy gee toe sommer vir ons ontbyt ook, heel nice, 'n paar plakkies kaas, die lekkerste vars brood, heerlike roomkaas, 'n eier en sulke snaakse groen suur pruimpies, o ja en komkommer, tamatie en olywe. Die kamer wat ons kry is skoon en heel ok, behalwe dat dit grens aan die leefarea en ons kan al dink dat dit baie gaan raas. Soos ons toe ook agterkom toe ons 'n vinnige nap wil vat. So 11uur se kant gee ons maar op en stap af promonade toe, aan die mond van die Bosphorus. Net reguit af van die hotel af, en toe stap ons met die promonade reg om tot amper aan die mond van die Golden Horn. O ja, eers het ons afgestap na die ferry terminaal waar ons probeer uitvind het of ons vandaar 'n ferry na die Prince's Islands kan neem, maar toe deel hulle ons mee dat ons heeltemal by die verkeerde ferry terminaal is. Daar is heelwat interessante vismarkte langs die water, en almal probeer aan ons vis verkoop. Ook heelwat restaurante waar almal ook hulle bes probeer om ons te kry om te gaan sit en iets te eet. Maar ons val nie vir hulle praatjies nie, en stap maar aan. Ons loop verby stukke muur wat ons later lees dateer uit 470. Ongelooflik.




Toe loop ons op deur die tuine van die Topkapi paleis, wat baie mooi en rustig is, en terug deur Sultanahmet tot by die hotel om vir Rudi en Mariette te wag. By die hotel gekom, kry ons turkse koffie by Burcu en ontmoet haar man, Omar, en 'n buurman, Mustafa, wat gelukkig goed kan engels praat. Want toe is daar blykbaar 'n probleem met ons bespreking, en hulle is vol bespreek van die volgende dag af. Maar no problem, hulle het nog 'n hotel en ons kan net soontoe skuif. Ons vertel toe vir hulle dat Rudi hulle ook nog kom, en toe is dit eers 'n geskarrel. Rudi hulle kom toe ook net daar aan. Die end van die saak is dat hulle na 'n ander hotel toe moet skuif vir 3 aande, ons moet die volgende dag ook soontoe skuif vir 2 aande, en dan skuif ons almal terug na Hotel By Sofia. Ons wil nie onaangenaam wees nie en sê dit is ok. Burcu en Omar voel baie sleg, en sê omdat ons moet rondskuif, sal hulle die aand vir ons aandete gee. Ons moet 7uur daar wees, en ons mag kies wat ons wil eet. Ons kies toe vis, en na 'n bietjie gemoan dat ons nou die duurste ding kies (dink hulle het ook maar gegrap) is alles gereël.

Ons gaan laai Rudi hulle se goed af by die ander (baie minder nice) hotel, gaan soek die info en 'n bankteller, gaan kyk die wêreldbekende Pudding Shop, en eet by 'n straatkafee.





















Toe is ons voete op, en ons gaan terug hotel toe om 'n rukkie te gaan lê voor ete. Ete was 'n baie gesellige afêre, en vir my een van die hoogtepunte van die trip. Op die afgespreekte tyd, 7uur, gaan ons almal boontoe, waar Burcu hard aan die slaaimaak is. Ons het besluit om maar 'n twee bottels wyn, wit en rooi, by hulle te bestel sodat hulle ook iets kan maak uit die aand, en Burcu stuur vir Omar om die wyn en brood te gaan haal. Hy kom terug met die brood, maar het die wyn vergeet en sy jaag hom weer uit om die wyn te gaan haal. Ons kuier solank met mekaar en met haar, en toe hy terugkom, maak hy verskoning en sê hy moet nou eers die vis gaan haal, wat 'n vriend van hom in sy restaurant gaarmaak. Ons het toe agtergekom dat hulle 'n klomp dinge op hulle menu het wat hulle waarskynlik nie in die klein kombuisie van hulle kan maak nie, en gewonder of dit dan altyd 'n vriend is wat vir hulle die kos moet maak. So 8uur se kant kom Omar ingehardloop met die vis (wat heerlik was) en ons kan begin eet. Deur die ete het daar 'n hele paar ander mense so stuk stuk ingekom: Mustafa, die ou wat die vis gevang het, die ou wat die vis gaargemaak het, en nog 'n ander vriendin van hulle. Dit was great en baie lekker om die kultuur bietjie te evaar. Rudi het Raki, die local drink wat proe soos liquorice en wat mens met water aanmaak, probeer en daarvan gehou, en tussen hom en die Turkse mans het hulle toe sommer 'n bottle gepolish. Die wyn wat ons bestel het was baie duur en baie sleg, maar ons het maar gemaak of dit lekker was om nie aanstoot te gee nie. Ons het dit later by die hoek-kafee gesien vir 'n kwart van die prys. Die gesing van die moskee om 10uur vir bedtyd reg buite die hotel het ook bygedra tot die atmosfeer.

Projects