
Vandag is ons Arzu dag. Dit is ook 'n duur dag, omdat ons haar 'n klompie dollars gaan betaal omdat sy ons die stad wys. Vanaf haar website (http://www.walksinistanbul.com/) lyk haar toere heel oulik - mens sê vir haar min of meer wat jy in gedagte het, en dan sit sy so 'n tipe "walk" vir jou aanmekaar. Ons het vir haar gesê ons wil die minder toeristiese dinge gaan sien - dit wat ons nie noodwendig self met 'n guidebook sal uitfigure nie.
Maar heel eerste het ons koffie nodig. Ons het besluit die rede dat Riaan so moeg is, is omdat ons nie in die oggende ons gewone koffie "fix" inkry nie. Heel gerieflik is daar 'n Starbucks naby waar ons vir Arzu moet kry, en teen Riaan se sin (wie gaan nou na Starbucks as jy in Istanbul is??) gaan ons so 9uur eers daar aan. Toe ons instap, sien ek 'n meisie wat volgens my soos Arzu se prentjie op haar website lyk, wat net uitstap. Wonder of dit sy is...
Riaan is darm bekeer na 'n heerlike Americano, en ons is reg vir die dag.

'n Bietjie geskiedenis: Die argitek, Mimar Sinan, het dit beplan met 6 minarette. Daar was baie teestand teen die 6 toringtjies, omdat die moskee by Mecca 6 het en dit is naamlik die heiligste moskee. Dit sou dus 'n sonde wees om
te kompeteer met Mecca se moskee deur 6 minarette te bou. En, seker ook belangrik, dit sou 'n groot las op staats-geldkamers plaas. Dit sê die boekie, maar hoe duur kan so 'n toring nou wees as mens in elkgeval so 'n moerse gebou bou (en wag tot julle die binnekant sien)? Maar daar is nog 'n rede, en dit is blykbaar dalk die grootste. 'n Hele paar paleise wat aan ministers behoort het, en per ongeluk gestaan het waar hulle wou bou, moes verwoes word. Hulle het in 1609 begin bou (die boekie sê nie wanneer hulle klaargemaak het nie).

Ons moes ons skoene uittrek en in 'n plastiek sakkie sit, en met lappe wat verskaf word alles toemaak wat nie mag oop wees nie (skouers, kniee).

Binne-in is dit baie indrukwekkend. Die hele binnekant is met blou teeltjies versier (meer as 20000 van hulle), vandaar die naam Blue Mosque. Daar is 4 olifantvoet pilare van 5 meter in deursnee wat die dak steun. En tussendeur al die hordes mense wat daardeur stroom, is daar 'n klompie wat tog binne kom bid. Daar is 'n area wat afgekamp word vir die mense wat die moskee vir sy eintlike doel wil gebruik.
Arzu het ons bietjie van Islam vertel, en dit was baie interessant. 'n Mens weet so min van die wêreld se grootste geloof (dis nou as jy denominasioneel (is daar so 'n woord?) tel. Wikipedia sê dat die Sunni Muslems die grootste denominasie is. Die 5 keer se bid per dag was eintlik 'n
praktiese reëling om mense se dag in te deel: 1 keer met sonsopkoms, 1 keer met die begin van die werksdag, 1 keer met middagete, 1 keer met die einde van die werksdag, 1 keer met slaaptyd. Die man wat die gebede sing, word die muezzin genoem. Die proffesionele muezzin word gekies om te dien in die moskee deur sy goeie karaktereienskappe en die kwaliteit van sy stem (die gebede is altyd live, en nie 'n recording nie). Nadat die bou van minarette algemeen geword het, is die posisie van muezzin soms aan 'n blinde persoon gegee, sodat hy nie kan afkyk van die minnaret af in mense se huise en so hulle privaatheid skend nie. Die gebede word ook as 'n kunsform gesien, en daar is 'n film deur Oostenrykse filmmaker Sebastian Brameshuber wat wys hoe die Turkse Muezzins kompeteer in 'n jaarlikse "national call to prayer competition". Die muezzins en die imams word deur die staat betaal. Ek wonder of die muezzin nog 'n "day job" (of tussenin job) ook het...



1 opmerking:
wow wow wow!
Plaas 'n opmerking