04 Junie 2010

Turkye en Italië: Dag 5 - Taksim


Vandag gaan ons na die Shopping Straat van Istanbul, Istiklal Caddesi, ook vroeër genoem Grand Rue de Pera. Eers moet ons gaan Turkish Delight koop vir almal by die huis, so ons stop by die oulike winkeltjie wat ek en Mariëtte gister ontdek het. Hulle het heerlike blueberry turkish delight, waarvan ons 'n sak koop vir padkos, en pre-packed boksies waarvan ons 'n spulletjie koop vir presentjies. Terwyl ons shop sample Riaan solank die blueberry TD op die stoep buite...
Na al die shopping afgelaai is by die hotel, raak dit al laat en ons laat spaander, want ons wil ook nog eers na die Aquaduct toe stap voor ons oor die rivier na Taksim gaan. Die Aquaduct is 'n reuse struktuur, en ons het gereken ons sal hom van ver af al sien, maar tog moes ons 'n rukkie lank rondloop voor ons dit vind. Het ook by die Istanbul Universiteit verbygestap - baie indrukwekkende geboue. Uiteindelik vind ons die Aquaduct en verwonder ons eers 'n rukkie daaraan dat die vroeëre mense sulke goed kon bou. Daarna stap ons oor die brug na die ander kant van die Golden Horn. Klompe mense wat visvang van die brug af. Ander kant wandel ons ook 'n bietjie rond voordat ons die Galata Tower vind, waar ons nie eintlik wou opgaan nie, maar toe moet Riaan so nodig by 'n toilet uitkom dat hy besluit daar moet een in die toring wees, ons betaal maar ingang. Dit was 'n duur piepie teen R50 pp. Die Vosse het wyslik besluit hulle wag vir ons by 'n restaurantjie in 'n straat by die onderkant van die toring.

Van bo af het mens 'n uitsig oor 'n groot deel van die stad, en dit is mooi, maar dit was so hazy dat ons nie besondere mooi fotos kon neem nie. Ek dink dit moet baie mooi wees net voor sonsonder. Daar is 'n peperduur restaurant bo, en dit moet nogal iets wees om daar te eet in die aand. Ongelukkig heeltemal buite ons league. Ons besluit om die trappies af te vat, en halfpad af kry ons 'n venstertjie waaruit ons afkyk op die restaurantjie waar die Vosse sit. Na heelwat gewaai, geskree en gefluit, sien hulle ons eindelik en daar word wedersyds fotos geneem. Heel oulike plekkie wat hulle gekies het, en ons eet ook gou eers daar ietsie en drink 'n Efes, die local bier. Ons is nie groot op bier nie, maar moes dit darm proe. Vervris en verlig stap ons verder en vind die Istiklal Caddesi. Daar is 'n pragtige ou trem wat in die middel van die straat oploop, en verder is dit al die groot kettingwinkels en nog 'n paar kleineres aan weerskante van die straat. En vreeslik baie mense! Dis 'n lang straat, en ons loop ver. Halfpad koop die Vosse eers vir Rudi twee baie mooi dasse. En ons luister na straatmusiekante wat op 'n opgeblaaste bosvarkvel doedelsak speel. Heel aan die bopunt van die straat is Taksim Square, en vandaar was ons volgens die kaart veronderstel om 'n park te kry. 'n Groot park. Waarna ons omtrent 'n uur lank gesoek het. Toe ons eindelik by 'n park uitkom, is ons voete seer en ons is moeg gestap - maar dit is nog 'n ent tot by die paleis waar ons eintlik heen oppad is, en ons stap maar weer na 'n kort blaaskans. Ons het die dag seker die verste gestap wat ons heelweek gestap het - ons reken so 25-30 kilos. Ons het net om die paleis gestap, want dit was net voor toemaaktyd, en toe terug na die trem, met die trem oor die rivier en toe stap ons terug hotel toe want ek wou nog by nog 'n Turkish Delight winkel in Eminonu gaan kyk.

Ons laaste aand, en ons was nie lekker seker waar om te gaan eet nie, maar toe onthou ons daar is 'n plek wat pannekoek verkoop op die toeristestraat, en besluit eenparig dat dit 'n goeie afwisseling van kebabvleis met yoghurt of vis is. Dit is toe 'n baie oulike plekkie, en ons sit op kussings by sulke lae tafeltjies. Heerlike crepes met vulsel in, nie duur nie, en halfpad deur kom 'n klompie musikante ook in wat by elke tafel speel en dan 'n groot tip verwag. Daar is ook lawwe hoede wat die waiter vir ons opsit - goed vir 'n paar fotos. Die restaurant is regoor die Hamami, en ek en Mariette gaan nog gou vir 'n vinnige shopping trip - handdoeke wat hulle daar verkoop.
By die hotel gekom is dit afskeid, en probeer slaap. Ons moet die volgende oggend 2uur opstaan om 3uur die shuttle lughawe toe te vat, om 8uur te vlieg. Wil drie ure voor die tyd, dus 5uur, daar wees, en dit vat 'n uur lughawe toe. Omar hulle het nog 'n kuier ook gehad op die boonste vloer, so ons het nie veel geslaap nie.

Geen opmerkings nie:

Projects