03 Junie 2010

Turkye en Italië: Dag 3 - Sunken Cisterns

Vanaf die Aya Sofia is ons na die Yerebatan Sarnici, of die Sunken Cisterns (ook genoem die Basilika Cistern). Dit is een van die vele ondergrondse cisterns onder die stad, en die eerste een wat heeltemal opgegrawe en "toeriste vriendelik" gemaak is. Dit is waarskynlik gebou deur Constantine in die 4rde eeu, en groter gemaak deur Justinian in die 6de eeu. Water is vanaf die Belgrade woude in die noorde dmv 'n aquaduct na die cisterns toe vervoer. Dit het die paleise van water voorsien, want daar is nie 'n rivier deur die stad soos meeste groot stede nie, en water was 'n probleem. Na die Ottoman oorname het dit in onbruik verval, en die Fransman Petrus Gyllius het dit later weer ontdek deurdat mense wie se huise bo dit gebou is, hom daarvan vertel het. Hulle het putte tot in die cistern gegrawe, en selfs bote op die water aangehou waarvanaf hulle visgevang het! Gyllius het begin wonder toe die mense vars vis in die strate verkoop - alhoewel met soveel see om die stad sou ek nou nie eintlik gewonder het waar die vis vandaan kom nie. Tensy hy sy vis geken het en gesien het dat dit varswater vis is. :-)

Dis baie atmosferies daaronder met die beligting en die water wat drup-drup. Dit is die grootste cistern en het 80 000 kubieke liter water gehou. Die koepels word ondersteun deur 336 pilare, met baie verskillende style. Hulle is waarskynlik van al oor die omgewing ingevoer, of hergebruik van geboue wat afgebreek is. Daar is twee pilare met medusa-koppe onderaan, wat verseker vroeer aan 'n ouer gebou moes behoort het.

Geen opmerkings nie:

Projects