04 Junie 2010

Turkye en Italië: Dag 4 - Grand Bazaar en Hamam


Na die piekniek, en 'n lekker middagslapie in die son, is ons na die Grand Bazaar. Ons was nogal versigtig, want het gedink almal sak op jou toe om goed aan jou te verkoop, en dat mens nie kan loop sonder dat iemand jou hassle nie, maar dit was toe glad nie so erg nie. Dit is die grootste onderdak mark in die wêreld, met 66 strate en straatjies, meer as 4000 winkels, banke, 'n moskee, poskantoor, private sekuriteitsbeamptes en 'n gesondheids-sentrum. Dis soos 'n klein dorp! Dit is gebou in 1453, en daar is streng reels en regulasies wat die winkeleienaars moet volg wat al van lankal af aankom. 'n Mens moet net iets daar koop en 'n bietjie bargain, so ek het 'n Pashmina serp gekoop, en Mariette 'n mooi slaai/vis bak.

Daarna is ek en Mariette na die Hamami. Die mans het besluit dat hulle dit 'n skip sal gee, aangesien dit nogal duur is en hulle voel ons sal dit meer geniet as hulle. Ons los hulle toe om 'n bier iewers te gaan drink, en ons durf die Turkse bad aan. Dit was 'n baie interessante ervaring. Jy betaal jou geldjies, en kry 'n kaartjie waarop daar staan watter "treatment" jy gevat het. Die gee jy vir die vrouens wat die waswerk doen as jy binne kom. Daarna gaan jy na 'n locker room waar jy hou klere en sakke in 'n locker toesluit, en die bikinibroekie aantrek wat hulle mens gee en die handdoekie om jou draai. Dan gaan jy na die sentrale "waskamer". Dit is 'n groot kamer met 'n koepel bo-oor wat klein gaatjies het waardeur die lig inkom, en 'n groot steen-tafel in die middel waarop mens lê. Aan die kante is kleiner kamertjies met borrelbaddens en wasbakke met koue water. Die "attendants" is groot vrouens met baie min aan wat jou wys waar om te lê en jou kom was nadat jy 'n rukkie gelê en sweet het. Jy kry, saam met jou bikinibroekie in 'n pakkie, ook 'n persoonlike washandjie/scrub wat hulle net op jou gebruik, so die hele storie is baie higienies. Nadat mens 'n rukkie gelê het, kom 'n attendant en gooi jou vol water en was jou met jou washandjie. Elke nou en dan gooi sy nog water oor, of 'n bondel seepskuim, en as jy moet opdraai slaan sy jou op jou boud. Hulle was mens se hare ook, en as hulle klaar is kan jy of nog lê op die tafel (dit is soos 'n sauna daarbinne) of jy kan in 'n borrelbad gaan sit of jy kan jou afspoel met lekker koue water. Daar is turke wat nie self bad nie, maar wat net 'n keer of wat per week na die Hamams gaan. Die een waar ons was, Cemberlitas, is 'n gewilde een onder toeriste. (http://www.cemberlitashamami.com.tr/)

Geen opmerkings nie:

Projects