04 Junie 2010

Turkye en Italië: Dag 4 - die res van die dag



By ons hotel gekom (dis nou die een waar ek en Riaan toe bly) is die manne nog nie daar nie en ons sit by die restaurantjie aan die hotel om iets te drink. Ek drink 'n yoghurt-drink (hulle is groot op yoghurt-drinks in Istanbul, en dit is ook gewoonlik die goedkoopste drinkding. Gelukkig is dit vir my lekker!) en Mariette wil 'n bier hê. My yoghurt drink is soos 'n yoghurt slushpuppy, en hulle bring dit in 'n koperbeker wat lyk soos 'n keteltjie amper. Toe hulle Mariette se bier ook in so 'n beker bring, wil sy weet of sy nie eerder 'n bierglas kan kry nie. Nee, verduidelik hulle, hulle het nie 'n dranklisensie nie, so as hulle bier in 'n bierglas bring is dit te maklik om te sien dat hulle die wet oortree. In so 'n koppie weet niemand dit is bier behalwe die persoon wat dit drink nie. :-)

Net toe kom die manne daar aan, redelik gatvol, want die eienaar van die huidige restaurant het vir hulle gesê dat Omar sê ons moet almal terugskuif na Hotel By Sofia. Toe hulle vir Omar gaan vra of ons nie maar kan bly waar ons is vir die laaste twee nagte nie, sê hy net nee. So ons moet toe maar weer al ons goedjies bymekaarkry en oorskuif na ons eerste hotel. Ons kry weer ons ou kamer, en Rudi hulle kry die basement kamer. Die stort is so laag dat Riaan die dak kan raak as hy op sy knieë staan!
Ons settle in, en toe gaan stap ons langs die see waar ek en Riaan die eerste dag was. Wys vir die Vosse die vismarkte, en koop 'n fish sandwich vir R20. Mmm, goeie waarde vir geld, dit was baie lekker. Daarna stap ons deur 'n minder gegoede residensieele deel van die stad, baie nou straatjies, en baie steil! Na 'n mooimaak draai by die hotel (ten minste is ons nou in dieselfde een!) gaan eet ons by Buhara 93 (of so iets) wat ook mooi op hulle bord adverteer: We have terrace. Ons sit lekker op die dak en kan Doy Doy sien waar ons die tweede aand geëet het. Lekker kos, maar baie op dieselfde trant, kebab vleis met 'n sousie by. Rudi hulle se vis lyk lekker. Daarna gaan ons na 'n oulike restaurant met klomp lae sitplekkies en live musiek in 'n nagmark wat ons gister ontdek het, om poeding te eet en musiek te luister en passiewe hubbly rook in te asem. Ons eet snaakse tradisionele poedings: chicken breast poeding (nee daar is nie vleis in nie), ryspoeding en een of ander chocholate poeding. Alles baie lekker. Toe drink ons tee, want ons het gehoor daar is 'n danser wat kom, maar toe vat hy so lank dat ons so kwart voor 10 besluit om te loop. Die waiter sê vir ons die danser kom nou-nou, toe gaan sit ons maar weer en drink nog tee. Uiteindelik kom die ou aan, 'n man met wit klere aan en 'n swart jas bo-oor. Hy staan op die verhogie, buig, trek die jas uit, en draai al in die rondte op een plek met een arm bo sy kop op maat van die musiek. Baie vreemd. As die liedjie ophou, trek hy weer sy jas aan, buig, staan 'n rukkie stil, buig weer, trek weer sy jas uit en doen weer dieselfde dans op die volgende liedjie. Ons het so drie keer gekyk en toe het ons dit ook gesien. Was 'n lekker vibe by die plekkie, en ons was bly ons het gegaan.

Geen opmerkings nie:

Projects