06 April 2012

03 April 2012

Kromrivier kinder-uitstappie

Twee naweke terug het ons Vincent vir die eerste keer aan stap in die berg voorgestel. Ons het saam met Liesbet, Corne en Dirkie, William en Gytha en Ethan, en Lise en Keith na Kromrivier hut gestap en Saterdagaand daar geslaap. Dit was nogal baie koud met die instap, die wind het gewaai en Vincent het sit en snak na sy asem op my rug, maar hy het die stappie geniet en allerhande geselsies gesit en maak so tussen die snakke deur. Dit is maar 'n 40 minute stap, so net 'n lekker entjie om alles uit te toets. By die hut aangekom is daar gougou koffie georganiseer, en Riaan was so gaaf om 'n tentjie vir sy gesin onder die bome op te slaan sodat ons ons eie skuilingkie kon he. Ek was baie verbaas dat hy, wat nie 'n tent opslaan tensy dit ABSOLUUT BESLIS SONDER TWYFEL nodig is nie. En dit is omtrent nooit. 'n Baba verander 'n man. :-)

Ons het lekker gekuier en die weer was darm nie TE sleg nie. Vincent was 'n bietjie siek, so ons het nie geswem nie, wat jammer was want daar is 'n pragtige swempoel. Hy het wel bietjie in die stroompie gespeel en gekyk hoe sy vriend Dirk die water geniet. Ons het nie veel gedoen behalwe kuier en slaap en koffie drink nie. Ek was verbaas dat die slapery so goed gegaan het, met ons drie saam in die tent en die wind wat die tent omtrent om ons ore rondflap.

Sondag het ons so middagete se kant uitgestap, en 'n "very close encounter" met twee helikopters gehad wat besig was om 'n Hi-Tech advertensie te maak. Hulle het heeltyd net bo ons koppe gehang, en die een het nogal 'n indrukwekkende stuk kamera op die neus gemonteer gehad. Wonder of ons ooit die advertensie sal sien.




Ons lekker kampplekkie onder die enigste dennebome in SA wat beskerm word deur die bergclub. Amptelik met 'n kennisgewing om dit te bewys! 


Stoepstories..

 Hier sit die manne...

Vincent oefen om te kruip in die hut, met baie aanmoediging van all present.

The power of words

26 Maart 2012

'n Man het sy steak nodig!

 Vincent: en toe klim ek op my hobbelperd en jaag die kat en vang haar aan die stert. Dit was 'n woeste geveg, maar toe ek klaar is met haar toe sit sy saam met die ander diere op die boekrak waar sy hoort.
Benjamin: maar..
 Wag bly stil, ek is nog nie klaar nie. En toe wou my ma he ek moet sulke slegte ryspap eet. Kan jy glo: ek wat krag nodig het vir al die avonture. Ryspap! Blah. 'n Man het steak nodig. Ek voel al hoe lam is my bene as ek probeer opstaan. Hulle wil nie saamwerk nie! Dan moedig almal my aan om te kruip, maar hulle gee nie eers vir my oordentlike kos nie!

Ek is so bly jy verstaan.

Lekker by die dam

Colyn (x2) se verjaardag was by 'n lekker dam op 'n Ceres boer se plaas. Die kinders het al te lekker in die sand en in die water gespeel. 

                                     



 Vincent het sy eerste smakie van sand gekry. Ek dink nie hy het al agtergekom mens kan dit nie eet nie.



Altyd lekker op Pappa se skouers!

Partytjies!


Een kombuistee, een babyshower en een eerste verjaardag verder. Die kombuistee was Telanie s'n, hulle is van ons laaste vriende wat val. Nou nog net Keith die bittereinder! 
Mia is die enigste meisie onder die klomp vriende se kleintjies, en sy geniet die ouer-sussieskap. 
Vincent en Brett hang aan haar lippe. Hulle is duidelik nie gewoond aan girls nie! 

Klein Colyn ken sy sussie natuurlik baie goed, en lag lekker vir die ander twee se "adoration". 



Colyn is een jaar oud en het 'n groen karretjiekoek! Wat die kinders self met die hande mag eet. Pret!

19 Maart 2012

Trek is nie pret nie

Dit is darm beter as dit na mens se eie plek toe is - ek is so bly ons hoef nie weer na 'n huurhuis toe te trek nie. Nou kan ons kamers verf en soveel gate in mure maak as wat ons wil. Ons huis in Kampstraat het 'n redelike hoeveelheid werk aan gehad - ons het van dit al gedoen maar daar wag maar nog baie oor die volgende paar jaar. Maar dit is nou skoon en mooi geverf en heel leefbaar. Die kombuis maak nie meer dat mens jou hoed oor jou oë wil trek as mens daar instap nie, en die meeste van die bokse is uitgepak - al is dit net in kaste in waar dit later weer uitgepak en uitgesorteer moet word. Vincent slaap in sy eie kamer - wat nog 'n mooi seuntjiekamer moet word, en ons slaap in ons eie kamer - sonder kasdeure en sonder gordyne. Ons studeerkamer werk al so semi.
Sonder wonderlike gesinne wat almal gehelp trek, kaste verf, bokse uitpak, kos aandra, Vincent oppas, en menige ander werkies gedoen het, sou ons dit nie gemaak het nie. Ek dink ons sou al lankal mal geraak het. Ek weet nie hoe trek mense sonder 'n gesin wat help nie. Hulle huur seker mense om dit vir hulle te doen.

Hier is 'n paar voor en na fotos. 







Dit was jammer van die knotty pine plafon, maar dit het die vertrek 'n bietjie te donker gemaak. 


 Ek was baie bly ons kon darm mense kry vir die skuur en die verf. Nie 'n lekker werkie nie!

 Nog steeds n' donker vertrek, maar dit maak al 'n groot verskil.

 'n Bietjie verf maak baie dinge reg.

Almal ontspan na 'n naweek se harde werk

 Ons geniet ontbyt in die son


Projects