12 Augustus 2012

Weer Cedarberge

Laasnaweek was dit die van den Dool kant van die familie se beurt vir die Cedarberge. Ons het almal ons intrek in Oom Piet se huis ingeneem. Dit moet so snaaks wees vir 'n kleintjie soos Vincent - ons klim in die kar, ry ure lank, klim uit op 'n plek en dan is Oupa en Ouma, tannie Ronel en oom Brett, en beste van alles, nefie Benjamin ook daar! Hy was baie ingenome om sy nefie te sien en het vinnig nadergekruip en na hom gewys en seker gemaak ons sien almal dit is sy nefie! Dit was maar bitter koud, veral Saterdagnag, maar ons het lekker gekuier - en die sneeu met 'n dag gemis!! Maandag het dit in al 9 provinsies gesneeu, blykbaar die eerste keer wat dit opgeteken word. Ons sou sowaar vasgesneeu gewees het.

 Pragtige sonsondergang!

 'n Bewys dat dit onder vriespunt was Saterdagnag

 Oeee bokkies!
 Pasop - hulle kou mens se vingers!

 Eendag gaan ek ook so 'n stootskraper ry!

 Benjamin sit op sy seepkis en vertel 'n klomp stories.

Halo Mamma!

24 Julie 2012

Vincent verjaar

En so het die tyd aangestap en ons klein babaseuntjie is al  een jaar oud. Die eerste partytjie moes uitgestel word - een van daai siektes wat met koors en algemene slegvoel begin, en dan wag mens vir wat daarna gaan manifesteer, en dan gaan dit gelukkig net weg na 'n paar dae. So was hy darm gesond die naweek na sy verjaardag, alhoewel die helfte van die maatjies toe ongelukkig nie meer kon kom nie. Ons is darm nie heeltemal in vir groot kinderpartytjies vir eerste verjaardae nie, en was heel gelukkig met die groepie van drie maatjies en Vincent. Hulle het lekker gespeel en die groot "maatjies" het lekker gekuier. 
 Verjaardagseuntjie!

 Nijntje lezen saam met Opa en Oma

 'n Nuwe Nijntje boek! Handig as Oupa en Ouma in Holland 'n draai gaan maak!

 So ry mens 'n verjaardagkruiwa.
 En so maak mens met 'n Ikea-verjaardagtonnel!

 Die blokkekar moet eers aanmekaar gesit word.....

 En dan kan hy rondgestoot word.

 Maar die heel coolste is die Y-bike! Vir 'n seuntjie wat nog nie kan loop nie, maak dit 'n nuwe wereld oop!!

Julle se mens kan hierdie eet???


Kruiwaens aanmekaarsit is cool..

 Nefie, kleinneef en kleinnig by die familie-partytjie.

 Eers kaartjies lees!

 Die "tafel" vir die maatjie-partytjie Saterdag

 Maatjies: Lucca, Stefan en Adele

 Die koek (wat onaangeraak bly staan het en later vir die huishulp gegee is)

Blokkarre is ook cool vir nefies in rondstoot!


Fun was had by all!



07 Junie 2012

Dirkie verjaar

Nog verder terug in die argiewe. Ons tweede eerste verjaardagpartytjie. Die manne het net 'n halfuur gehou en toe het hulle maar weggeloop en gaan wynproe. Dit was eintlik heel rustig sonder hulle. :-)


Die verjaardagman!

 Die Murrays.. 


 Jelly is 'n goeie idee.. 


Wat is dit? 


Kan mens dit eet? 


Mmm, dis eintlik flippen lekker! 


Is daar nog iets aan hierdie party? Ag nee dit lyk boring ek bly maar net hier by die jelly!

Jaco en Telani trou.

Ek werk nou terug in die argiewe. Ubuntu is nie baie lief vir ons kamera nie en nou het ek 'n slag sover gekom om dit op my werksrekenaar (wat genadiglik nog Windows op het) af te laai.
Dit was 'n baie lekker troue - die kids het hulle goed gedra tot net voor poeding, so ongelukkig het ek en Ronel  nie die heerlike poeding of Liesbet se meesterlike troukoek kon proe nie. Maar ons het lekker gekuier. Dit was die heel eerste troue waar ek was waar daar 'n regte egte koffiemasjien MET bykomende barista was. Mmm hoe lus raak ek nou weer vir daai koffie!

 
 Pa en seun in trouklere en  ma en seun in trouklere, en ons almal saam.



Hierdie was baie snaaks. Lyk my as mens in die moedergemeente op Stellenbosch trou, moet jy maar weet jy gaan 'n toeriste attraksie wees. Brett (die offisieele fotograaf) moes mooi sy man staan om nie heeltemal uit die pad uit ge-elboog te word deur die Chinese en Jappanners wat baie graag fotos van die bruidspaar wou he nie. Hierdie foto van hom (in die middel) vat die oomblik baie mooi vas. 

 Die bruidspaar..

Saam met Oupa


Ek dink die foto was met ons moedersdagkuier geneem. Saam met Oupa en Ouma van den Dool, die Nattrasse, en Lise (as ek nou reg onthou!). O ja en Pieter. Ons het die braaiplek ingewy, sommer so bietjie van 'n housewarming ook.

Cedarberge!

Die naweek het ons 'n slag 'n naweekuitstappie aangepak. Na 'n vinnige broodjie Vrydagaand het ons half 7 in die pad geval Cedarberge toe. Die rit was heel rustig - Vincent het geslaap tot op Piketberg en van daar af goed gery tot by die Algerie afdraai van die N7 af. Van daar af moes ons bietjie sing en peekaboe speel om hom gelukkig te hou vir die laaste uur van die rit. Die eindbestemming was oom Piet se plaas wat aan Driehoek grens. Pa en Ma Doorduin het reeds daar vir ons gewag. Dit was vrek vrek koud, hulle het met al hulle klere aan en al hulle komberse oor styf teen mekaar op die bank gesit en wag, aan die slaap geraak en al amper begin bekommerd raak oor ons wat laat is toe hulle wakker word. Ons motor het gese dit is 1 en 'n halwe graad toe ons daar aankom.
Ons het 'n koppie sop en 'n broodjie geeet, en gaan inkruip. Vincent moes by ons in die bed slaap want enige ander opsie sou te koud gewees het. Dit was 'n driekwart bed. Nie een van ons 3 het veel geslaap nie. Die voordeel was dat ons wakker was toe die son opkom, en dit was baie baie mooi.


Toe die sonnetjie eers 'n entjie op was, het dit lekker warm geword en ons het lekker gestap, buite op die stoep koffie gedrink en geeet, en Vincent kon 'n slaggie ordentlik buite speel. Saterdagaand het ons besluit  daar is nie 'n kans dat ons weer gaan koudkry nie, en die manne het vir ons 'n tamaai vuur gepak wat die huisie so warm gemaak het dat ons met kortmoue rondgeloop het. Vincent was lekker moeg en het al vroeg omgedop, en ons tweede nag was stukke beter. Sondagoggend het die mans nog 'n kraan gaan vervang iewers by 'n tenk, en ons het vir Vincent die bokkies by Driehoek gaan wys. So tweeuur het ons weer die lang pad huistoe aangepak. Soos altyd as ons in die Cedarberge was, is 'n stop by die Oberholtzers 'n moet, en ons het nog lekker op die gras gekuier en gekoffie en Ilse het baie mooi fotos van Vincent geneem.Almal het veilig tuis gekom - 'n lekker naweek!







Projects