01 September 2010

Namaqualand Flower Run


Ek het 'n ruk terug op 'n advertensie vir die Namaqualand Flower Run afgekom toe ek na iets gesoek het op die web. Dit vind elke jaar plaas in die Noord-Kaap dorpie Garies (daar waar Adriaan Nieuwoud almal so gevang het met sy melkkultuur scam), en daar is 'n 10km en 'n 20 km. Ons was nog nooit in Garies nie (nog net verbygery) en dit klink toe na die ideale geleentheid om die omgewing bietjie te verken. En dis mos nou net 'n entjie Noord van ons. Famous last thoughts. Toe ons om 11uur die nag vrydagaand by die kampeerplek indraai, was ons nie meer onder die illusie dat dit "net 'n entjie" is nie.

Ons was redelik moeg, en het dadelik ingekruip en probeer om nie te veel wakker te word van die oorkantste groepie se laatnag kuiers nie.

Volgende oggend vroeg uit die vere, want ons moes nog 'n entjie ry om by Rooiberg, die plaas waar die run begin, uit te kom. Ek was nogal lus om die 20 te doen (wat tot op een van die hoogste berge in die Noord-Kaap gegaan het, volgens die organiseerders), maar Riaan het 4-voet vasgesteek. Gelukkig maar, want daar was 'n "klein bergie" wat ons moes ophardloop in die 10, en ons het daar goed besef dat ons berge-ophardloop kapasiteit nie so groot is soos ek gedink het nie. Dit was anyway 'n baie mooi roete met mooi uitsigte en 'n paar blomme hier en daar. Ons het baie uitgesien na die beloofde potjiekos na die tyd, wat die locals daar in 'n kookskerm van vroegmore af besig was om in 'n spulletjie groot swart potte te kook, en ons het maar 'n ruk lank rondgewag daarvoor. Hulle moes wag tot meeste van die langroete ouens uit die berg was, so ons het eers so 2uur geeet. Maar dit was die moeite werd.

Geen opmerkings nie:

Projects